Misdaadsyfers lyk nie goed nie, sê Noord-Kaapse polisie

KIMBERLEY – Polisiebestuur in die Noord-Kaap het vandag die provinsiale misdaadstatistieke aan die premier en die LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling van die provinsie voorgelê.

Genl. Risimati Shivuri, die provinsiale polisiekommissaris vir die Noord-Kaap, het tydens die voorlegging van die nuutste misdaadstatistieke gesê die syfers lyk nie goed nie. Hy sê ’n groot gedeelte van die toename in misdaadsyfers is as gevolg van die protesaksies wat die stad in die laaste jaar geruk het.

Die statistieke is deur kapt. Vanessa Woodbridge aan Zamani Saul, die premier, Nontobeko Vilakazi, die LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling van die provinsie en die media voorgelê.

So lyk die Noord-Kaap se misdaadsyfers

Woodbridge sê in meer as 48% van misdaadvoorvalle word ’n mes gebruik. Dit word gevolg deur gewere en ander skerp voorwerpe.

Ernstige misdade wat deur die gemeenskap gerapporteer is, het met 4.9% toegeneem.

Kontakmisdade het met 2.9% gestyg, maar dit is nog laer teenoor dieselfde tydperk voor 2017.

Moord in die provinsie het in die laaste dekade jaar vir jaar afgeneem. In die laaste jaar het dit met 5.3% gesak.

Dwelmverwante misdade het in die laaste jaar met 31.5% geval. Woodridge sê die astronomiese verskil teen die vorige tydperk word toegeskryf aan die wettiging van die persoonlike besit, gebruik en verbouing van dagga in 2018.

Algemene aanranding, roof en roof met verswarende omstandighede het ook vir die tydperk toegeneem. 

Geen bankrooftogte is in die laaste jaar in die provinsie aangeteken nie.

Misdaad aan ekonomiese omstandighede gekoppel

Saul het op die statistieke reageer en gesê misdade soos huisbraak en roof kan direk met swak sosio-ekonomiese toestande verbind word.

Hy sê die provinsie sukkel om beleggers van buite te lok. Dit lei tot ’n toename in werkloosheid. Die omstandighede skep die situasie waar mense misdaad as ’n opsie vir oorlewing kies.

Shivuri het gemaan dat die gemeenskap ’n belangrike rol speel in die bekamping van misdaad. Hy sê die gemeenskap moet waaksaam wees om nie gesteelde goedere te koop nie.

In verband met vermiste persone sê hy ouers moenie jong kinders, veral dogters, laat in die nag winkels toe stuur nie. Shivuri sê snoepwinkels wat nie verordeninge van die stad ten opsigte van besigheidsure nakom nie, speel ook ’n rol. Omdat hulle later oopbly, word hulle en die gemeenskap deur misdadigers geteiken.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: