KIMBERLEY – Zamani Saul, die premier van die Noord-Kaap, en drie lede van die uitvoerende raad, het met die bestuur van Sol Plaatje-munisipaliteit vergader om die watersituasie in Kimberley te bespreek.
Monwabisi Nkompela, woordvoerder van die premierskantoor, sê die doel van die vergadering was om ’n omvattende verslag oor die waterkrisis wat baie mense asook besighede in die stad verontrief en affekteer het, saam te stel.
Premier Saul, Bently Vass, LUR vir Coghsta, Abraham Vosloo, LUR vir paaie en openbare werke, en Maruping Lekwene, LUR vir finansies, ekonomie en toerisme, het ’n vergadering met die bestuur van die munisipaliteit onder leiding van Patrick Mabilo, die uitvoerende burgemeester, bygewoon.
Herstelwerk volgens munisipaliteit suksesvol afgehandel
Nkompela sê die span van die munisipaliteit het aangedui dat geskeduleerde herstelwerk wat by die Riverton-watersuiweringsaanleg gedoen is, suksesvol voltooi is. Die werk behels in wese die volledige oorskakeling van die ou na die nuwe pompstasie. Dit ’n poging om ‘n permanente oplossing vir die watersituasie in die stad te bied.
Die premier het die opdrag gegee aan die herstelspan dag en nag te werk om te verseker dat die watertoevoer aan huishoudings so vinnig as moontlik herstel word.
Saul het ook gemaan dat ’n soortgelyke ontwrigting nie weer herhaal moet word nie.
Span saamgestel om uitdagings van stad aan te pak
Die vergadering het verder ooreengekom om ‘n span ingenieurs en beplanners van die munisipaliteit, Coghsta, openbare werke en die provinsiale tesourie saam te stel. Die span sal verantwoordelik wees om ‘n omvattende plan te ontwikkel om die uitdagings met die infrastruktuur aan te spreek.
Uitdagings belemmer ontwikkeling
Dit sluit in uitdagings met die voorsiening van water en elektrisiteit, paaie, siw stormwaterafvoerstelsel asook behuising, wat die ontwikkeling in Kimberley belemmer.
Hierdie plan moet binne die volgende week aan die premier voorgelê word, sê Nkompela.



