Vlieënier sterf tydens ligtevliegtuig-ongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

VRYBURG – ʼn Vlieënier (30) is Sondagmiddag dood toe sy ligte vliegtuig ongeveer 17:00 in Isaac Peloengstraat op Huhudi naby Vryburg tussen twee huise op ’n motorhuismuur neergestort het.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek. Die Piper-ligtevliegtuig was glo vanaf Vryburg vir Pretoria bestem. 

’n Kajuitpersoneellid is met beserings na ’n hospitaal gebring. Niemand op die grond is beseer nie.

Die families van die twee geaffekteerde huise is aangeraai om hul huise om veiligheidsredes te ontruim totdat die wrak verwyder is, sê Tselanyane.

Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend en dit word deur die burgerlugvaartowerheid ondersoek.