SUID-AFRIKA – Die prys van 95-oktaan-petrol en diesel sal na verwagting in Oktober styg as gevolg van vandeesmaand se hommeltuig-aanvalle op Saoedi-Arabië se olieraffinaderye.
Die Automobiel-Assosiasie (AA) het in ’n persverklaring gesê alhoewel oliepryse in die eerste twee weke van Septermber gestyg het, het die aanvalle ’n groot impak op die pryse gehad.
’n Verhoging van 19c op 95-oktaan-petrol en 25c op diesel word verwag. Dit terwyl die prys van 93-oktaan-petrol met 4c sal verlaag.
“Die brandstofprys in Suid-Afrika het ná die aanval met soveel as R1 per liter gestyg voordat dit weer gedaal het. Dit het die brandstofprys onstabiel gemaak,” sê die AA.
Die rand het teen die Amerikaanse dollar presteer, wat gehelp het om die impak op die brandstofprys te verlig.
“Sonder hierdie verligting kon sekere brandstofpryse met soveel as 40c geklim het,” verduidelik die AA.
Die AA maan dat soortgelyke aanvalle nageboots kan word en dat dit tot skokkende brandstofprysverhogings kan lei.



