BLOEMFONTEIN – Bushi Koos Mohapi, ’n 42-jarige man van Kagisanogh, in Bloemfontein, is tot lewenslank vir verkragting, huisbraak en nog 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede gevonnis.
Sers. Sinah Mpakane, woordvoerder vir die Bloemfontein-polisie, sê Mohapi is in die Bloemfontein-landdroshof op al drie aanklagte skuldig bevind.
Volgens getuienis het die slagoffer op 6 April 2018 geslaap toe sy in die oggendure deur die beskuldigde wakker gemaak is. Hy het haar beveel om hare klere uit te trek. Sy het geweier en Mohapi het haar met ’n mes gedreig.
Mpakane sê hy het haar probeer soen, maar sy het ’n gedeelte van Mohapi se tong afgebyt en dit op die grond uitgespoeg.
Sy het gestoei om die beskuldigde van haar af te kry. Mohapi het haar herhaaldelik verkrag voordat hy gevlug het.
Die slagoffer het na die voorval hulp by haar bure gevra. Hulle het haar hospitaal toe geneem.
Alhoewel die slagoffer nie die verdagte kon herken nie, het hy uit die hospitaal gevlug sonder om mediese behandeling te ontvang toe hy die slagoffer daar gesien het.
Mohapi is op 10 Oktober 2018 in hegtenis geneem. Hy het tot met sy vonnis in aanhouding gebly.



