Huise van Glas – Episode 4 – Karel – Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Vroulief het vanaand omtrent lekker gekook en nogal pampoen ook, dit is sy gunsteling. Karel smul aan die kos en loer kort-kort na sy gesin. Hy smile. Hulle is tog almal so dierbaar. Nee kyk, God het hom baie geseën. Hy kyk na sy vrou Esmé. Vyf en dertig jaar is hulle gelukkig getroud en is hulle vir mekaar nog net so lief soos die dag toe hulle op Postmasburg ontmoet het. Daai tye was hy nog ‘n verlore siel wat met al die verkeerde dinge besig was, maar sy het hom gered. Hy kyk ‘n hele rukkie eers na haar. Dit was ‘n Sondagmiddag en hy en sy pêlle was weer op pad om baas Niklaas se lemoenbome te gaan oes. Die ou boer het altyd gedreig hy sal hulle nog doodskiet. Esmé het op die stoep gesit en ‘n boek gelees toe hy en sy trawante daar verbygeloop het. Met hulle se geraas het sy opgekyk en op dieselfde tyd het hy in haar rigting gekyk. Hulle oë het vir ‘n sekonde of twee ontmoet. Die ander ouens het gefluit en tekere gegaan. Sy was beeldskoon, oulik en onskuldig. Hy kon nie ophou kyk nie, al het sy vererg teruggekyk. Iets wonderbaarlik het op daai oomblik gebeur en Karel se bene het sommer net daar lam geword. Hy wou net daar staan. ‘n Ouer vrou, haar ma, het uitgekom en vir Esmé iets gesê en toe gaan sy in die huis. Van daai dag af het hy seker gemaak hy loop daar verby wanneer sy by die huis was.

Karel sit en smile nou nog meer. Susan, sy enigste dogter, sit en speel alweer met haar kos. Die kind het nou ‘n nuwe ding aangeleer van om te sê sy kyk haar gewig. Bennie en Brenton lek weer vanaand hulle borde uit. Hy lag saggies by homself. Daardie tweetjies eet enigiets wat voor hulle kom. Hulle is ‘n tweeling en hou tog daarvan om hulle klere te ruil en maak of die een die ander is. ‘n Selfoon lui. Karel word sommer rof terug aarde toe gebring. Hy hou op met kou en trek sy oë op skrefies. “Wat is dit?” vra hy vererg. Die jonger kinders laat sak hulle koppe en loer vir mekaar. Die phone lui aaneen. “Die reël is geen selfone by die etenstafel.” Susan loer vir Christopher. “Wie se selfoon is dit?!” Karel kyk stip na Christopher, sy oudste seun. “Kan ek asseblief verskoon word Pa?”

“Druk daai selfoon af!” Karel hou sy mes en vurk styf vas.

“Karel laat die kind tog die foon antwoord,” sê Esmé met ‘n sagte stem.

Karel sê niks en eet verder. Esmé knik en Christopher val amper agteroor soos hy hom haas uit sy stoel. Hy verdwyn in die gang.

Karel haat dit wanneer die kinders ongehoorsaam is, hy duld dit nie, maar Esmé kan sy hart altyd so sag maak.

Die kind is die afgelope tyd glad nie homself nie. Is dit nou die grootword wat so maak? Hy maak mos 21 jaar oor ‘n maand. Karel mag wel ‘n geklede man wees, maar hy is baie streng en in sy huis is sy woord wet.

“Dit was heerlik as ek myself kan prys,” sê Esmé en staan op. “Dankie familie, sal ek maar die nagereg skep?” Sy kyk vir Karel en glimlag. Karel vee sy mond af en gee sy bord aan. “Al te heerlik vroulief. Ek sal nie nee sê vir ‘n soet dingetjie nie.” Hy en Esmé loer altwee na die gang. “Mama, kan ek maar twee biscuits kry?” Bennie kyk oopmond na sy ma. As die kinders al hulle kos opeet, dan mag hulle ‘n beskuit kry as ‘n bederfie. Christopher het nog altyd gevra vir sy beskuit, maar sy gedagtes is die afgelope tyd so op ‘n ander plek dat hy net klaar eet en na sy kamer toe gaan. Gebruik die kind drugs of iets? Ek sal bietjie moet ondersoek instel, dink Karel en kry ‘n ernstige trek op sy voorkop. Esmé en die kleinspan is besig in die kombuis om die nagereg op te skep. Dit is omtrent ‘n lawaai. “Pappie, kan ek maar my huiswerk gaan klaarmaak? Ek wili nagereg hê nie.” Die kind sit heeltyd nog saam met hom in die eetkamer, hy het skaars agterkom Susan sit nog aan tafel. Sy klein engeltjie. Sy is die soetste en stilte van al sy kinders en sy is baie slim ook, die onderwysers spog omtrent by die skool. “Ja, Susa, gaan maak klaar jou huiswerk en kom dat ons kan bid later.”

Esmé en die twee seuns kom met die nagereg….

Later die nag lê en rol Karel rond.

Hy lê en kyk teen die wit ceiling en dink aan Christopher. Wat sal die mense nou net sê as sy kind met verkeerde dinge besig is? Nee Hy sal dit nie toelaat nie, Hy gaan môre nog die kind konfronteer. Karel dien nou al twintig jaar as pastoor in sy kerk en hy is ‘n gerespekteerde inwoner van Roodepan. As die mense eers snuf in die neus moet kry ,an is dit weer stories. “Wat pla jou so Karel?” Esmé sit die bedliggie aan. Haar oë glinster in die dowwe lig. “Niks nie vroulief,” sê hy en glimlag kamma.

Sy sit regop. “Dit moet jy maar vir die hoenders gaan sê, ek ken jou Karel Januarie en dis oor Chris neh?” Karel sug.

“Die kind is al groot, my man, dis maar deel van die proses.”

Karel draai hom om en brom vies. “Dit sê nie hy moet hom wangedra nie.”

“Dink jy nie jy’s ‘n bietjie te streng nie, my man, die arme kind…”

“Die arme kind is besig om op ons se koppe te sit. Hy kom watter tyd in die huis en begin maniertjies te kry. Hy moet ‘n voorbeeld wees vir die kleintjies.” Esmé stryk die komberse met haar hande. Sy is altyd die kalm een. “Karel, ek sal vir jou vandag ‘n ding sê. Jy wil die beste vir ons kinders hê en dis goed, maar onthou vandag se tye is dinge anders, Ek weet jy begeer graag Chris moet in jou spore volg en jy is bang hy sal nie. Jy moet ook besef dat Chris nou groot raak en dat hy miskien sy eie pad wil loop.” Esmé kyk na Karel. “Jy is baie lief vir al jou kinders, maar jy is ook baie streng en ek is net bang dat hulle jou eendag sal verwyt. Chris maak binnekort 21, wat gaan jy maak as hy wil uittrek?”

Karel byt sy onderlip uit gewoonte. “Dan moet hy maar trek!” Esmé weet al te goed dat die gesprek verby is. Sy skud haar kop en sit die lig af. Buite loer die volmaan deur die donker  wolke. Dit lyk of dit gaan reën.

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasie] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.