Die parmantige mannetjie trek weg.
Mxm! Hy kom hou vir hom kwaai hierso en is seker nog sy pa se kar daai, dink Amanda vies by haarself. Sy stap stywenek aan.
“Hey, Oliver, maar hoor jy nie as ek jou roep nie, ha!?”
Haar jonger broer staan nog diep in gesprek met ‘n vuil, maer tsotsi.
Kyk net, dink sy. Is want hy hou hom op met sulke goeters.
Sy is al by Oliver wat met sy rugkant na haar toe staan. Amanda pluk hom aan die skouer. “Hey!” sê sy kwaai. “Kan jy nie hoor as ek jou roep nie?”
Oliver gluur haar aan.
“Mxm. Ek het mos gehoor.” Hy draai weer na die onnodige maer mannetjie toe wat lyk soos ‘n rot met sy lang tande.
“Bra, is nxa ons gaan meet,” Oliver draai om en die mannetjie sit iets in sy agtersak. Amanda maak of sy nie sien nie, want sy wil net eers wegkom, daar hang ‘n kwaai reuk om die tsotsi wat haar neus laat jeuk. Vir Oliver gaan sy by die huis konfronteer. Sy draai om en volg hom. “Hey, meisie, jy’s oulik jong, wat is jou naam?” Amanda vererg haar net daar, sy swaai om en blaas soos ‘n wyfiekat. “Sies! Jou vuil ding! Jy beter net wegkom hier of ek bel die polisie, jy dink seker ek weeti wat maak julle hier nie neh!” Die mannetjie skrik so groot vir haar onverwagse reaksie dat hy oopbek na haar staan en gaap soos ‘n vis op droë grond. Sy chommie kom aangestap en kyk nuuskierig na hulle. Amanda kry ‘n skielike ‘n pyn op haar maag. Laat ek myself nie verder ontstel nie. Sy stap sonder ‘n woord weg agter Oliver aan wat al ‘n entjie ver is. Die twee mannetjies staan en brom nog by die hek.
“Jy loop te vinnig,” sê sy en probeer om by te hou. Oliver is kort, maar hy gee lang treë.
“Het ek gesê jy moet dinge kom laaik?” Hy kyk nie eens om nie en loop aspris vinniger.
Die son het al heelwat gesak en dit raak al donker. Op die hoek skel die twee oumense wat verder af in die straat bly weer mekaar. Die ouma staan glad in haar onderrok en swaai haar doek woes rond soos sy die oupa uitskel. Haar grys hare is deurmaak. Hy smaak net so en mik haar met ‘n baksteen, ‘n Groepie nuuskieriges staan en kyk.
Ai, Ivory Park se dramas. Amanda skud haar kop.
By die hek praat sy weer met Oliver. Hy draai om.
“Wat is dit tog Manda?” Hy hou die hek styf vas. Amanda kom aangewaggel.
“Ek weet jy wil daai goed gaan wegsteek, moenie dink ek hetie gesien nie.” Oliver stoot die hek wyer oop en briek halfpad asof sy gewete hom soos ‘n invisible tou terugtrek. “Ek het niks op my.” Amanda kom staan by hom.
“Laat ek sien wat is daai.” Oliver dop sy voorste sakke om.
“Ek sê mos ek het niks nie, jinne.”
“In jou agterste sak en jy ruk jou nie op vir my nie.”
“Naand, Amanda”…
Amanda ken daai stem. Dis Aunt Poppy, die buurvrou. Ai jinne, wat soek sy tog nou weer?
Amanda kyk om.
“Naand, Auntie Poppy.”
Sy kom aangestap na die draad toe, handjies agter die rug gevou.
“Nee, met my gaan dit goed en hoe gaan dit met Mammie?”
Hoe jinne! Vandat sy vir haar ma gesê het sy gaan soek gou vir Oliver sodat hy hout kan kom kap… Oliver staan nog by die hek en huiwer om te loop.
“Sy slaap seker al, maar sy is orite.” Amanda is sommer haastig. Miskien het haar ma water gesoek of wou toilet toe gaan.
“Oliver, gaan kap asseblief die hout dat ek solank vir Ma ‘n bietjie koffie kan maak.” Haar woorde is skaars koud en toe kom die vraag wat sy reeds verwag het.
“Ai, my kind, moetie tog sê Aunt Poppy is lastig nie, maar ek kom vra reeds so bietjie koffie.”
Amanda maak haar oë toe. Jinne, die auntie maak tog moeg. Sy vra elke dag en as hulle vra, dan het sy nooit.
“Ok, Aunt Poppy, ek sal nou so bietjie bring,” antwoord Amanda met woorde wat sy uit haar mond forseer.
“Ai en tog maar so bietjie suiker as jy kan. As James se uitbetaling kom, dan sal ek regmaak my kind,” Auntie Poppy se valerig oë is nou glad nat.
“Is reg so…” Amanda praat nie verder nie en gaan in. James se uitbetaling kom ok maar elke maand. Oliver is alreeds hard besig met die hout kap.
Kan die auntie nog wraggies vra wat kook sy vanaand asof sy weer ‘n bord sal omstuur? Sy maak haar laat. Amanda klik haar tong en maak die deur hard toe. Haar ma hoes. Sy gaan na haar kamer en staan so half versteek agter die gordyn. Die kers se lig wat uit die kombuis skyn, teken haar ma as ‘n dowwe gesiggie wat uit die komberse loer. Sy sien nie vir Amanda nie en brom by haarself. Dit laat pyn Amanda se hart om haar ma in so ‘n toestand te sien en dit het vir Oliver baie geraak. Sy en Oliver was baie geheg, maar nadat sy siek geraak het, het hy haar begin verwyt en al wys hy dit nie, weet Amanda dat hy net die hartseer wegsteek. Hulle ma raak net swakker by die dag, maar ander dae dan gesels en lag sy soos die tye toe sy nog gesond was en gewerk het. Amanda is klaar met skool en werk by die supermark, maar nou kan sy nie meer nie, want sy moet nog agter haar ma kyk. Hulle gaan so bietjie later eet as gewoonlik vanaand en dis al na sewe… George! Sy het skoon vergeet om vir George te bel. Amanda kry ‘n opgewonde gevoel op haar maag en trippel saggies soos ‘n kat van haar staanplek af na Oliver se kamertjie. Sy trek die gordyn weg. Hy lê op sy bed met sy phone en chat. “Jy maak mos nou die battery pap en uncle Charlie kla reeds so vir sy krag”
Hy kyk op. “Wanneer eet ons?” sê hy nors.
“Ek is amper klaar, moet net nog die aartappels by sit.” Amanda voel bietjie skaam oor vroeër se konfrontasie. “Uhm, kom leen my tog jou phone, ek wil gou ‘n call maak.” Oliver loer haar. “Asb, Ollie” Sy vryf haar hande. Ai, sy wil tog so graag met George praat.
Oliver tik vinnig op sy phone. Hy sê seker bye vir sy mensies. “De, vat en ophou op my phone vry.” Amanda vat gretig die phone. “Hey, gaan!” Sy slaan hom spelerig op sy rug. Oliver lag en gaan uit die kamer. Sy wag eers totdat sy hoor die voordeur gaan toe…. 073 08… Ag man! Die phone ok met sy pap buttons. 073 035… Sy druk die call button en wag. Die phone lui….
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



