Huise van Glas – Episode 2 – Tyron – Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

“Hey, kom uit die pad jou kruppel ga…”

Tyron trap briek en die kar ruk tot stilstand.

Die kar agter hoeter. Hy wil nog weer iets skreeu, maar die outjie wat so kruppel is al oor die pad. ‘n Groep kinders op die hoek staan en lag vir hom. Tyron sit die musiek wat alreeds kliphard is nog harder aan en trek stadig weg. Starlingstraat is weer bedrywig, dit gaan mos so Vrydae.

“Hey, Tyron, maak ‘n gwai daar skat.”

Dis daai Kathy kind, Sy staan by die frênd se tuckshop en waai vir hom. Hy het haar mos een aand gevry daar by Lana se suster se een en twintigste verjaarsdag en nou hou sy vir haar wat wonders. Tyron maak of hy haar nie sien en ref die kar aspris. Hy kyk stip voor hom. Dit is al vyfuur en die ouens gaan complain weer dat hy lank maak. By die four-way draai hy af en tel spoed op, maar swaai skielik uit vir ‘n pothole.

“Jisi! Wanneer word die gat ook toegemaak jong?” Sy phone vibreer en dit val amper van die dashboard af, maar hy gryp dit vinnig… Dis sy ma. Ag tog, wat soek die antie nou weer? Sy laaik reeds skel, dink hy by homself. By die Multi Purpose Centre hou hy stil onder die doringboom. Niemand gebruik mos weer die plek nie, behalwe vir daai vuil shantie laaities wat so kom opmors. Hy sien nie die ouens nie. Waar is die loafers nou weer? In die side view mirror sien hy vir Ertjies wat uit die saal uitkom. Hy draai die venster af.

“Hey, jy hond! Vi wat wag julle my nie ha!” Ertjies staan met sy arms gevou en leun teen die pilaar. Hy praat nie. Riyaad kom ook uit. “Aweh, aweh bra. Hoezit?” Tyron lag. Riyaad kan homself tog altyd ‘n grap maak, hy het nou weer donker brille, ‘n kort broek en lang rooi kouse met sloffies aan. Tyron draai die vensters op en klim uit. “Neh, san jy lyk duidelik whuh.” Hy lag en groet vir Ertjies. “

Wat gaan aan ouens?”

Ertjies wat so bietjie hakkel, begin opgewonde met sy skewe Engels. “No, my man, you see these guy, he brought for us something new.” Tyron kyk na Riyaad.

“Wat praat die ene nou weer?”

“Is good stuff my man, you gonna see man.” Tyron kry ‘n snaakse reuk wat hang om Ertjies en Riyaad. Riyaad staan en smile met sy mond vol geel tande.

“Heh bra die schandie is hot kaow.” Riyaad haal iets uit sy saak. ‘n Glas wat lyk soos ‘n klein globe. Tyrone het dit al gesien. “Hey, ouens, wat maak julle, daais mos…” Ertjies druk sy vuil seningrige vinger teen Tyron se mond. “Shhhhhh! Man. Don’t speak so loud.” Tyron klap sy hand weg. “Jis!! Sies man!” sê hy vies en spoeg op die grond. “Julle is dik gerook van die tik sanies. Wil julle vrek!?”. Tyron is sommer boos. Hy rook dagga, maar hy is nie ‘n druggie nie. Tik en pille rook hy nie. “Bra, try die ding vir jouself. Vat net een skyf…” Riyaad hou die ding voor sy gesig. “Ja, just try one time. You gonna like it.” Ertjies skuif nader. Soms kry hy vir Ertjies jammer. Dit gaan maar swaar by hulle. Sy pa het sy werk jare terug verloor en niemand werk in die huis nie, dit is net sy ma wat disability grant kry.

Tyron se phone lui weer. Hy loer in die kar, dit is sy suster. “Jou siza soek jou alweer, kom bra vat chap ‘n skyf, ” Tyron maak die kardeur oop en vat sy phone. ‘n Boodskap kom deur.

…Hey, where are you? Mom’s looking for you. Derra wants the car now!…

Mxm. Sy toppie kan ook net so vervelig wees. Hy het dan gesê hy kom nou. Sy pa kan mos met die bakkie ry. Hy begin tik vinnig.

…Tell Derra I’m coming. What does Mom want?

Ertjies en Riyaad gesels baie opgewonde oor iets.

No response.

Sy suster is offline.

“Daar’s daai laaitie. ‘n New customer. See, I’m a hustler man.” Tyron kyk in die rigting waarna Ertjies wys en sien ‘n mannetjie wat by die hek staan.

“Ouens, laat ek eers gaan koaw. Julle ken hoe smaak die toppie.” Tyron klim in die kar.

“Nou die skyf?” vra Riyaad verward.

“Los daai nonsens man,” sê Tyron kort-af. Hy start die engine en trek weg.

“Check julle môre ouens, awe!” Ertjies draf hek toe.

“Awe dog, ons blom mos môre by my jaart.” Tyron wys vir hom shap. By die hek sien hy Ertjies praat met die laaitie wat hy vir hulle gewys het. Hy groet vir Tyron.

“Aweh, my man.” Ertjies grinnik en raak weer diep in geselskap met die outjie. Malkop dink Tyron. ‘n Oulike meisie kom aangestap. Tyron hoeter.

“Ek sê girla, do you need a lift?” Sy gluur hom aan.

“Lyk ek soos ‘n hooker!?”

“Hoe jinne, ek vra net. Jisi.” Sy draai om.

“Kyk hier, met julle soort mannetjies hou ek my nie mee op nie. So ry verby.” Die meisie stap verder aan.

Joh! Oulik maar katterig, dink Tyron en skud sy kop. Hy trap petrol en ry weg. ‘n Paar kinders speel op die sypaadjie in die grond en in die verte saak die son en verf die wolke en lug met ‘n rooierige kleur….

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.