Tyron se bors brand, hy is uitasem, maar hy hardloop aaneen, te bang om terug te kyk. Sy bene is lam, maar hy durf nie ophou hardloop nie. Agter hom hoor hy hoe skreeu hulle bloeddorstig:”Vang hom!!” “Vang die ding!”
Tyron spring tussen ‘n klomp mense deur wat by Barbara court sê trappe staan en okapyp rook. Iemand gryp hom, maar sy T-shirt skeur en hy ruk homself los. Agter deur die flats en hy glip tussen die devil’s fork. ‘n Baksteen mis hom net-net. Twang! tref dit die yster, Hy kan hoor hoe vloek hulle agter hom. Hy skep eers asem toe hy twee keer seker gemaak het niemand agtervolg hom nie. By die vlak langs die kliniek in Mahala park skep hy diep asem en leun teen die heining. Hy begin meteens onophoudelik te bewe. Bewe van skrik, bewe van bangheid en die vrees van wat nog gaan gebeur. Hy weet nie waar is Riyaad of Ertjies nie. Die twee het weggehardloop toe die mob vir hom gryp. Sy kop voel meteens warm. Iets koel stroom langs sy gesig af. Hy voel dis bloed…
Iemand het hom seker raakgegooi met ‘n klip, hy het skaars gevoel, dit was seker die adrenalien. Tyron klim oor die kragsubstasie se heining, maar verloor sy balans en val sy wind uit op die stowwerige grond. Hy kreun, maar lê doodstil en luister. Dit is stil. In die verte by een van die huise hoor hy mense wat gesels. Hy het sy voet seergemaak en sleep homself tot tussen die bosse. Hy voel vir sy selfoon in sy sak en haal dit uit. Die skerm is gekraak. Ai, dink hy by homself. Dit is net voor sewe-uur en dit raak al donker. Hy durf nie huis toe gaan nie, netnou herken iemand hom langs die pad en word hy gevang. Wat sal sy ma-hulle sê? Sy gaan bekommerd raak en hom probeer bel. By hierdie tyd die behoort sy al te weet wat gebeur het, want nuus versprei mos soos ‘n veldvuur in Roodepan en dan kan mense nog sterte bylas ook nog. Hy sit sy selfoon op silent en maak sy oë toe. Sy pa gaan hom doodmaak, maar dit was nie hy nie, dit was Ertjies…
10 ure vroeër.
Dit was vroeg Saterdagoggend omtrent agtuur, maar Tyron was al op. Hy het ‘n lekker droom gehad, maar kon nie onthou waaroor dit was nie.
“Maaaaaa! Maaamie!” Tyron is honger en dors. “What do you want Tyron!?” Sy pa klink kwaai. Hy wil tog nie so vroeg sukkel met sy pa nie. Hy kan van die gang af hoor hoe sy ouers stry, maar kan nie uitmaak waaroor dit nou eintlik gaan nie. “Nothing Derra,” Jinne, moet ‘n man maar nou cereal eet?
Tyron gee ‘n lang gaap en stap na die koskas. Hy krap oor sy bors. Weetbix, Cornflakes of Crunchies… Hy gooi die Cornflakes in ‘n papbak en haal die melk uit die yskas. Dit is suur. Hy draai vies om en marsjeer na sy suster se kamer toe. Hy klop een keer en gaan in. Al sou hy heeldag daar gestaan en klop het, sou sy nooit gesê het dat hy kan inkom nie. Sy suster lê op haar bed, earphones in haar ore en chat. Sy het alweer daai lelike reënboogkleurige kouse aan. Hy blaas deur sy neus. Haar kamer ruik lekker, die venster is oop en buite hoor hy hoe sing die voëls. Haar kamer is altyd netjies ‘n mens sou nooit sê hulle bly in een huis nie. “Hey,” roep hy. Sy loer na hom en gluur hom aan. “Wat Is dit?” vra sy heelwat vererg. “As julle mall toe gaan, koop tog melk.” Sy suster het alweer lankal van hom vergeet te vasgevang in die conversation wat sy het. “En onthou tog vir Mammie om bacon te kry.” Sy hou op chat en vra vererg: “Hoekom vra jy haar nie self nie!?”
Tyron raak nou self moeg vir dié wat sy eers haar tyd vat om vir hom te antwoord.
“Ek gaan nie saam mall toe vandag nie!”
“Is want jy will wee by die huis lê met daai chommies van jou.” Tyron draai om en terwyl hy uitloop, sê hy ewe in sy skik: “Ek gaan nogals nie by die huis is nie.” Tyron het ander planne vandag. Hy en Ertjies-hulle gaan na die pretdag toe by die laerskool. Sy familie het nog nooit soontoe gegaan nie, want sy pa sê altyd dis ‘n sideshow vir low class mense wat jou anyway gaan lastig val vir geld. Die mense in hulle straat is almal hoogmoedig, maar Tyron dink sy pa is erger. Jy is ‘n cheeseboy, het een girl op die hoek vir hom eentyd gesê. ‘n Cheeseboy wat nou al so plat is. Hy lag vir homself en gaan na sy kamer toe, Hy krap ‘n vyftigrandnoot uit sy bedkassie se laai, trek sy sandals aan en gee lang treë deur die gang. Buite is dit bewolk en die lug is koel. Hy gaan koop solank ‘n liter melk en ‘n flavor by die frend.
Karel lees altyd sy Vrydag-koerant weer deeglik deur Saterdae-oggende. Hy sit by die kombuistafel en lees die sportgedeelte. Die vorige aand se sokker match was ook maar swak en hier blameer die joernalis die referee. Esmè werskaf al van vroeg af in die kombuis besig met ontbyt en nou staan en bak sy alweer vir vanmiddag se outing. Hulle gaan by die skool se jaarlikse pretdag en Esmè glo dat al die verkope veral die kos te duur is en dit is hoekom sy nog elke jaar eerder vir hulle ‘n piekniekmandjie pak. Dit is goedkoper en gesonder sê sy altyd wanneer die kinders wil bohaai opskop. “Is jy nog nie klaar aangetrek nie? ” vra sy vir Christopher. Hy loop nog kaal bolyf rond in sy kouse. “Ek het net gou ‘n call gehad Ma.” Hy huiwer by die deur. “Het Ma nie my swart tekkies gesien nie?” Karel kyk op. Daar is iets fout met die kind, dink hy. Hy was altyd so ‘n agtermekaar mannetjie gewees en deesdae lyk dit of sy kop by ‘n ander plek is. Karel kyk hom stip aan. ‘Ek sal nog uitvind wat met jou aangaan, meneertjie.’ “Wil jy nog koffie hê Karel?” “Ha?” vra hy half verward en kyk na Esmè. “Ek sien jou koppie is al leeg, wil jy nog koffie hê?” Esmè wys met haar meelhande na sy leë koppie. Karel maak sy keel skoon. “Ja asseblief my skat, ek sal nooit nee sê vir jou lekker beker boeretroos nie.” Esmè lag en hy lag saam. Sy draai om en sit die ketel weer op die stoof. Karel glo mos aan moerkoffie, hy drink geen kitskoffie of melk nie. “Ek het op die plaas grootgeword, jong, hierdie ready made kosse maak net siek,” sal hy vir haar altyd sê.
Karel kyk na die horlosie teen die muur, vyf minute oor tien, sê die tyd. Hy vou sy koerant toe en maak weer sy keel skoon terwyl hy onrustig rondskuif. Sy manier van om te sê hy raak ongeduldig. Esmè, wat dit al goed weet, droog haar hande af en roep om te hoor of die kleintjies al klaar is. Sy staan al by die gang en roep toe Susan antwoord en sê sy kry nie haar pienk rok nie. Karel sluk sy laaste bietjie koffie en staan op, hy gaan na die sink en spoel sy koppie uit. Hy kyk deur die venster, buite speel twee mossies tussen die druiwewingerd se blare. Dit moet tog net nie reën vandag nie.
Vervolg …
“Waars my airtime?” “Jy gaan dit tog kry joh,” sê Amanda en onthou om die brood te smeer. “Jy vry omtrent met jou boyfriend op my foon.” “Ag, gaan tog, ek koop mos darem airtime.” Oliver gryp ‘n sny brood. “Ja, sê net hy moet vir jou ‘n phone koop.” “Ek sal vir myself ‘n phone koop en hou op die brood so eet jy!” Oliver lag en verdwyn vinnig agter die gordyn in sy kamer. Amanda het ‘n breë glimlag op haar gesig. Sy voel so gelukkig. Sy en George het lekker gesels netou. Hulle gaan mekaar by die pretdag ontmoet. Sy is bang dat sy ouers hulle sal sien, maar sy sal nie toelaat dat enigiemand haar dag spoil nie. Haar auntie kom kuier en gaan vir die dag na haar ma kyk so sy kan bietjie ontspan. Auntie Poppie was al vroegmôre lastig vir bietjie koffie en toe sommer suiker ook. Amanda sug en smeer die brood verder.
Elsie het later as wat sy wou opgestaan en staan en verkyk haarself in die spieël…. Ja, is van kan wil alleen drink. Bennie het haar gisteraand kom wakker gemaak en vir haar brood en eiers gegee om te eet. Hy slaap nog, maar sy los hom, die kind het seker nog movies gekyk gisteraand. Elsie wil vandag gaan kyk by die winkels vir ‘n nuwe tv, die ou ene gee nou al so probleme en dis tog al vriend wat die kind het. Sy laat nie toe dat hy met die straat se rou kinders vriende raak nie. Hulle het laas Woensdag reeds weer so regeer en mekaar met pangas gejaag. Elsie skud die gedagte weg.
Sy gaan vir Bennie verras. Haar hare is mooi uitgekam en sy het haar nuwe two piece aan. Jinne vandag shine sy so bright soos ‘n diamond.
“Elsa. Elsa!”
Martha roep haar buite. Sy loer uit by die venster. “Wat is dit chomma? Jinne my kop pyn, man.”
Martha is omtrent omgekeer, die hare staan woes en sy is kaalvoet. “Mm! Is van kan alleen suip. Sies!”
“Hey, moetie vir my kom sê nie…” Elsie is sommer op haar perdjie. Die ene soek weer iets om haar kop te skiet. “En as jy so vroeg al soos ‘n krismisboom lyk?” Martha lag. Haar geel tande staan soos verdwaalde mieliepitte in haar mond. Elsie kyk weg terwyl sy antwoord.
“Ek gaan mos vandag dorp toe en dan vat ek vir Ben na die pretdag toe.” Martha se hele gesig trek soos wat sy smile. “Hoe jinny, jy’t mos geld chomma, kom leen my tog iets da…” Net wat Elsie verwag het.
“Jy sal moet wag totdat ek terugkom, jong, ek het net taxi fare.” Martha vou haar arms. “Ai, weet jy daar is ook nie eers ‘n stukkie vleis nie…” Elsie skep diep asem. Dit was nou net volop wees om vriendskap soos die te maak. ‘n Uur of wat later stap Elsie stywenek tot by die hoek om ‘n taxi te kry. Op pad sien sy ‘n gesin wat in ‘n ry loop. Sy glimlag en sug. Ai, sê sy vir haarself. Dit kon haar familie gewees het. ‘n Tweeling wat netjies aangetrek is in eenderse kleredrag stap speel-speel voor en die suster wat ‘n pienk rokkie aan het, volg kort agter hulle. Hulle ma en pa loop agter en hou hande, die liefde bot nog en seker die oudste seun stap agter…. Elsie se gesig skyn helder toe sy in die taxi klim.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



