Huise van Glas 2 – Die pretdag – Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Amanda wag al ‘n hele ruk by haar en Christopher se ontmoetingsplek toe sy hom gewaar. Hy is lank en skraal en het dieselfde navy blue jacket aan soos die aand toe hulle die eerste keer ontmoet het. Volgens hom was sy die eerste meisie wat hy gesoen het, het hy later in haar oor gefluister. Sy het haar kop opgelig en gelag, want dit was of hy ‘n natural was, maar sy kon sien hy was nog baie onkundig en het hom sommer gou touwys gemaak. ‘n Stout glimlag verskyn op haar gesig en sy probeer hard om nie te bloos nie. Drie mannetjies kom aangestap, die een herken haar en lyk skielik of hy iets bitter in sy mond het.

“Daai kind is vol zak ouens, sy lieg net.” Ertjies is heel dikbek.

“Los haar, sy dink sy is slim, hoeveel het ons jong?” vra Riyaad en stamp amper ‘n kort meisie om.

“Pasop girl.” Ertjies voel weer in sy agtersak.

“Ons het dan nou nog net ‘n tjok.” Tyron hoor skaars die ander twee se gebrom. Hy is besig om te chat met die Chantelle-meisie by wie Ertjies geld gevra het. Hy het sommer die kans gegryp en haar nommer gevra.

…. So what’s ur real name?

Tyron smile.

I then told u Tyron…

…. Lol :)…

…. Lol so where u live?

…. Roodepan…

Die kind het tyd vir speel, dink Tyron.

…. Lunch bar!! Where in Roodepan?

“Hoor die bra wat sê ek!?” Tyron kyk op.

“Hoe jinne is want hy chat nou wee met daai Chantelle-kind.” Riyaad swaai sy arms woes.

Tyron raak sommer opstanding. “Hê, los my uit, man.” Maar Riyaad praat alweer met Ertjies. “Bra, ek is honger, koop once iets, jissi, ons kan mos nog zak spien.”

“Hey Tyron.” Tyron herken daai stem, dis Kathy. Sy het ‘n stywe, kort jean aan en kom vinnig aangestap. Haar chommies sweef ‘n entjie agter haar aan.

“Jy maak of jy my nie ken nie neh?” Tyron sug hard. Die kind se kop vat nie en hy is nie lus vir ‘n scene nie….

Elsie het omtrent vir Bennie haastig gemaak dat hulle kon loop en nou is sy heel uitasem van kan stap asof die duiwel agter haar is. Die kind wou nog eers die nuwe tv instel en koppel aan die dvd-speler. Hy is baie goed met sy hande. Sy glimlag sommer weer as sy dink hoe opgewonde hy was toe hy die box sien…Net toe hulle indraai by die skool se hek, kla Bennie dat hy honger is en nou staan hulle in die ry om vetkoek en mince te koop.

Oliver verkoop nou al ‘n maand vir Ertjies-hulle, maar hy het nog nie sy betaling gekry nie. Amanda het hom net ‘n dertig rand gegee en hy wil vanaand saam met die ouens by die parkie gaan sit. Dit is sy beurt om flavour te koop en hy wil net sy geld hê.

Hy gewaar vir Riyaad. Bennie gryp sommer die baseball bat by sy vriend Michael.

“Leen my shap die chandie.” Hy loop weg sonder om te wag vir ‘n antwoord.

“Awe, bra,” groet hy. Riyaad gluur hom aan. “Wat issit!?”

“Ek soek my geld kao.”

Ertjies sien ‘n oupa wat by die kostafels ‘n koeldrank gekoop het. Die oupa se beurs trek sy aandag. Hy kyk rond. Riyaad staan en stry met die Oliver-mannetjie en Tyron flirt alweer met Kathy. Niemand kyk in sy rigting nie. Die oupa sukkel om sy beurs se zip toe te maak en leun ongemaklik op sy kierie. Ertjies se hart klop, hy lek sy lippe af en kyk nog een keer rond. Met een vinnige beweging gryp hy na die oupa se beurs en sy vuil, lang vingers klou net net om die beurs se bek. Die oupa skrik. “Voetjek jou hond, los my geld!” Ertjies ruk aan die beurs, maar die oupa hou vas vir lewe en dood en probeer om dit terug te trek. Ertjies onthou die leë Coke-bottel in sy ander hand. Die oupa lyk soos ‘n tandelose rot, maar hy vloek nog steeds. “Voetjek, Voetjek!!”…

“Maar Tyron, jy kon my mos net weer ge-add het…”

“Ok, ek belowe ek sal.”

Oliver dreig nou harder. “Bra, kyk hier, ek wil niks hoor, Ek soek my geld!” Riyaad staan terug. “Hey, ek sê mos daai is jy en Ertjies se reëlings…”

Ertjies lig die Coke-bottel oor sy kop en mik….

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.