Dit lyk of al vier hoofkarakters by die pretdag is, hulle stories is besig om een te word.
Ertjies lig die Coke-bottel oor sy kop en mik….
Die harde glasbottel tref die oupa teen sy kop. DOEF, die harde glas breek op sy skedel, bloed spuit. Die oupa steier terug en probeer hopeloos gryp na iets om aan vas te hou, maar hy val op Tyron.
‘n Vrou se gil skeur deur die lug en dis asof alles meteens stop. Almal kyk verskrik na waarvandaan die geskreeu kom. Ertjies staan nog met die beurs in die een hand en die bebloede Coke-bottel in die ander hand. “Ouens, hol!” Net daar trek hy weg en Riyaad volg sonder ‘n woord kort op sy hakke. Dit raak baie vinnig deurmekaar, anties en oompies en kindertjies druk en stoot om te sien wat het gebeur. Oliver staan geskok op een plek vasgenael nog met die baseball bat in sy hand. “Dit was hy! Hulle het die oom geslaan!!” Dis die vrou wat nou so ergerlik geskreeu het. Sy wys na Oliver en weer na Tyron wat nog probeer opstaan. ‘n Dik oom spring skielik uit die skare uit. Hy is bloedrooi. “Die gemors, vang hulle!” Iemand gryp na Tyron, maar dis mis. Hy spring weg toe nog hande na hom gryp. “Kathy, sê die mense dit was nie ek nie…” Maar Kathy staan soos ‘n winkelpop en bewe. Daar is bloed op haar wit top. “Hey, voetjek jou gemors!” Dis weer die dik oom wat sy belt losmaak. Tyron kyk na die oupa wat doodstil lê, die bloed stroom uit ‘n diep sny in sy kop. ‘n Vet paramedic kom hygend nader en druk deur die groep mense. “Staan terug, staan soontoe. Wat het gebeur?” Tyron se hart klop so vinnig, hy vrees dit gaan uit sy borskas spring. Hy begin sweet, die laaitie met die baseball bat staan nog oopmond met groot oë. Iemand gryp weer na hom en hy spring weg soos ‘n verskrikte haas en hardloop. Die mense skreeu, ander probeer hom voorkeer, maar hy is rats. By die groot hek swaai hy skerp uit vir twee mannetjies wat hom amper two feet. Toe hy omkyk, sien hy ‘n hele groep mense wat hom jaag, hulle vloek en skel, ander het stokke. Tyron koes vir ‘n klip en spring links in by ‘n flat…
Vervolg…
Teen die tyd toe Amanda en Christopher by die groot bohaai uitkom, dra Oliver al ‘n blou oog en is sy gesig vol bloed. Dis asof sy net daar kan mal raak. Amanda spring soos ‘n kwaai gans wie se kleintjie bedreig is tussen die mense in en stoot ‘n dun antie uit die pad uit. Haar broer sit op die grond en ‘n langneus mannetjie het haar broer aan sy collar beet. Sy klap hom agter sy kop dat hy trek. “Wat maak julle my broer!” blaas sy kwaai. ‘n Bloedrooi man verskyn. Hy swaai ‘n belt oor sy kop. “Hey, moenie die ding nog wil kom part vatie!” Die skare begin kraai soos ‘n klomp aasvoëls. “Hy’s ‘n moordenaar!” skreeu die dun antie met die pienk rok. Sy is lekker getrek en is kaalvoet. Kyk daai tone! dink Amanda en gril. Christopher kom staan langsaan haar en probeer met die rooi kaalbors man praat. Amanda draai na Oliver. Hy loer vir haar deur sy ander oog wat nog kan sien. “Wat het jy gemaak?” vra sy vir hom kwaai. Hy skud sy kop. Die rooi man begin weer. “Dit was hy, die antie het hom gesien.” Amanda raak boos. “En toe, vir wat slaan julle hom so ha?!” Sy druk haar hande diep in haar sye. As die mense vandag vir haar wil rou kry, dan sal hulle haar kry. Die antie gaan te kere en skreeu weer dat haar broer moet geslaan word. “Ek wag dit!” skreeu Amanda terug en klap haar boud. “As jy hier raak, dan raak jy aan my!!” Amanda slaan op haar bors en blaas soos ‘n wyfiekat….
Vervolg …
Karel was deur ‘n gemeentelid kom laat weet daar is ‘n bakleiery aan die gang en hy moet tog die situasie kom ontlont. Hy, Esme en die kleintjies is toe uit die tent uit sommer so saam met die nuuskieriges wat soos ‘n trop skape volg daar weg. En toe kom hy soos Moses met sy volk daar aangedraf en Esme kort langs hom met die kleintjies. “Is dit Chris daai?” vra Esme verbaas toe hulle al naby genoeg is. Karel antwoord nie en stap nader. Christopher staan in die middel van die kring wat alreeds met Karel se koms soos die Rooi see stadig oopgemaak het. Die agies staan met hulle lang nekke aan weerskante en fluister vir mekaar. Karel se bloed kook al klaar. Sy oudste seun is deel van ‘n bakleiery… Hy gee lang treë. “Wat gaan hier aan?” vra hy met die naderkom en bekyk vir Christopher op en af. ‘n Dun antie spring uit die skare uit. “Laat ek vir Pastie die hele storie vertel…” Sy maak ‘n klapgeluid met haar mond en lyk nou nes ‘n wurmpie met die hare wat woes staan en die walms. Ga!! Karel blaas die skerp geur deur sy mond. “Daai mannetjie en sy chommies het die oupa geslaan. Ek het gesien,” sê sy en slaan teen haar bors. “Hey, moenie kom lieg nie!” Karel kyk om. Dis die kort, dik meisie wat langs Christopher staan. Karel deurboor vir Christopher met sy oë, die woede duidelik op sy gesig. “Wie is die mense Christopher?” Karel kyk na die onbeskofte meisie en die bebloede mannetjie wat langs haar op die grond sit. Christopher sluk eers voor hy antwoord. “Pa…” begin hy.
“Hulle is tsotsi’s.” ‘n Rooi man wys met sy belt na die mannetjie op die grond. Die skare kraai weer saam. “Mense, mense moenie so opgewonde raak nie. Die polisie is op pad, laat ons wag tot hulle kom,” sê Karel. Die antie spring nou soos ‘n slang op warm sand rond. “So sal ‘n mens nog vrekgemaak word…” Die rooi man maak haar stil voor sy nog verder aangaan.
Karel moet homself keer om nie van woede te ontplof nie. Wat gaan die mense sê? Hy skep diep asem en probeer kalmeer. Esme druk sy hand. “Ek is seker ons sal agter die kap van die byl kom, maar laat ons nie oorreageer nie, mense.” Die woorde forseer hy uit sy mond wat skaars beweeg. Hy kyk na Christopher en vermy die dik meisie langs hom. “Ons praat by die huis.” “Maar Pa…” Karel se oë blits. “Ek sê ons praat by die huis, Christopher.” ‘n Paar mense wemel om ‘n ambulans wat wegtrek met sirene wat skreeu en in die verte kondig polisiesirene luidkeels aan dat die gereg op pad is….
Vervolg…
Laas keer op HVG het Karel en Esme hulle seun Christopher reg in die middel van die groot bohaai gekry, met die polisie wat sterk op pad is.
Elsie bekyk omtrent die drama wat vandag gebeur en sy maak seker dat niemand voor haar kom staan nie. Sy wil die hele storie mooi aanskou. Martha, wat in Hammerkop bly, pronk omtrent soos sy haar five minutes of fame geniet. Elsie voel baie sleg oor die arme ou man wat so pap geslaan is. Shame tog. Sy kan nie wag om hierdie gebeurtenis oor te gaan vertel nie. Martha het glo gesien hoe slaan die twee mannetjies die oupa en toe swerm Roodepan se dinge laaikers mos soos aasvoëls en hulle jaag die ander mannetjie dat die stof staan, maar hy lieg, hulle gaan hom vang. Die ambulans het al lankal weggetrek toe die polisiebakkie met net twee beamptes daar aankom. Hulle is te gevrek, is die dat die tsotsi’s so oorvat in Roodepan. Elsie frons en vou haar arms. ‘n Dik, hoog op been blanke ene en ‘n jongerige skraal, donker kleurling ene met die taai ge-jelde hare wat onder sy cap uitsteek, klim uit die bakkie uit.
Die dik, blanke hoog op been een skeur soos ‘n skêr deur die diggevlegte groep agies. Hy stoot die mense uit die pad uit sonder moeite en maak sy keel hard skoon toe hy reg in die middel van die bohaai staan. “Wat het hier gebeur?” vra hy in ‘n diep stem, ‘n mens sou sweer hy praat op ‘n loudspeaker. Is sommer doodstil. Niemand praat nie en selfs Martha wat so te kere gegaan het, is nou tjoepstil.
Die pastoor met die bruin check baadjie kom vorentoe. “Meneer, dankie dat julle gekom het. Hier is ‘n geval waar hierdie seun en nog ‘n jonge glo ‘n ou oom aangerand het…” Die arme mannetjie wat so pap geslaan is, sit nog op die grond langs sy suster, kop onderstebo. Sy blaas haarself op en lyk gereed om iets te sê. “Is u ‘n ooggetuie?” vra die hoog op been blanke polisieman en vou sy hande oor sy maag. Hy toring soos ‘n reus bo-oor almal. Sy broek sit knap. Dis asof Martha die heeltyd vir die kans gewag het, sy spring amper ‘n snotneus meisietjie uit die pad uit en land reg voor die polisieman. Kaaltoon, the girl! dink Elsie en smile. “Meneer, ek het alles gesien,” begin sy en kyk eers na die skare om seker te maak hulle se aandag is op haar gevestig. “Kom, ek vertel vir Meneer die hele storie…” Sy klap haar boud en swaai in die rondte. “En ek sali liegie. Ek is Martha Titus, ek bly daar by 145 Hammerkopstraat net hier af Meneer…” Martha maak weer ‘n klap geluid met haar tong soos sy haarself verheerlik. “Kom by die punt vroumens,” sê die oom met die rooi gesig. Hy sukkel nou al die hele tyd om sy belt reg vas te maak. Geen wonder, kyk net daai pens. Elsie kyk hom skeef aan. Die reus stamp sy stewel ongeduldig op die grond en sê ongeduldig: “Mevrou kan u verklaring verder by die polisie stasie gaan afgee.” Hy draai na die skraal ene langsaan hom. “Johnson, boei daai ene en kry hom in die bakkie.” Die mannetjie se suster wip haar voor die polisieman in. “My broer is onskuldig Meneer!” “Lady move out of the way otherwise I’m gonna arrest you for obstructing me.” Die meisie huiwer en loer na haar broer. “I said move lady!“ Die skraal polisieman se stem het nou sommer gewig gekry. Voordat enigiemand nog kan reageer, gee die reus net een tree tot by die mannetjie, vat hom aan die arm en lig hom sonder moeite van die grond af op. “Jy kom saam met ons.” Die mannetjie probeer loskom, maar die reus hou hom vas. “Wag Meneer!” sê ‘n stem skielik uit die bloute. “Ek het gesien wat gebeur en wie die oupa geslaan het.” Daai is Bennie se stem. Elsie vries net daar waar sy staan. Sy het gehoor en sy het ook nie gehoor nie. Iemand in die skare sê hardop: “Joh, joh daa’s dit nou…” Die reus wink hom nader. Bennie gee ‘n paar treë vorentoe. “Is jy doodseker van dit wat jy nou gesê het?” Bennie knik. “Ja Meneer, ek sweer dit.” Wat praat die kind dan nou? Hy het saam met haar by die tafel gestaan om vetkoek en mince te koop. En vir wat sal hy hom nou kom staan en volop hou in die mense se dinge? Elsie maak haar mond oop om iets sê, om te keer dat die kind van haar vir hom kom staan en volop hou, maar sy maak weer haar mond toe voor sy iets kan uiter. “Is jy gewillig om saam te kom en ‘n verklaring te gee by die polisiestasie?” Bennie knik weer. “Ja Meneer en my ma kan saamkom.” Elsie se gesig was seker nog nooit so rooi en warm nie. Kan die kind haar nou so op die spot kom sit? “Nee ek ry nie van nie.” Die woorde spring uit haar mond van skrik. Sy kan voel hoe brand die oë op haar. ‘n Paar mense lag. Die reus kom nader en sy groot skaduwee val op haar, die son het skielik verdwyn. “Mevrou, dit is ‘n ernstige saak en u seun het moontlik waardevolle inligting.” Elsie kyk na die tafel, die helder blou doek hang byna tot op die grond, pleks kon sy maar net daar onder inspring. Kyk, Elsie Louw hou van stories veral wanneer Martha dit aandra, maar sy sal nog nooit betrokke raak by ander mense se nuwies nie en sê nou net die kind moet gaan getuig in die hof? Dis Bennie se hand wat skielik aan haar vat en haar weer terug bring werklikheid toe. “Moenie worry nie Ma.”….Hoor vir moenie worry nie ma… Ken die kind van moordsake? Elsie fluister amper toe sy antwoord. “Ja Meneer, maar kan ons later gaan? Ek moet nog ‘n draai maak by die huis en…” “Ons sal dit waardeer as u-hulle sommer nou kan kom.” Die reus probeer smile, maar hy lyk meer soos ‘n kwaai bulldog wat grinnik. Daai wange. Elsie kyk na Bennie, die kyk versekered terug na haar.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



