Elsie.
Elsie het toe ingestem en gelukkig was dit ‘n dubbel cab bakkie. Sy en Bennie het by die agterste sitplekke ingeklim. Die kort, dik meisie het saam met haar broer heel agter ingeklim. Sy het daai mannetjie herken, dis mos hy wat eendag haar kind so met die klippe gegooi het. Sy verdiende loon. Elsie raak sommer kwaad, want vir wat moet Bennie nou gaan staan en verklarings gee om hom te help? Hy moes hom gelos het. Sy krap aan sy arm, maar sodat die twee polisiemanne nie sien nie. “Ma?“
“Vir wat staan en defend jy daai mannetjie? Is hy wat jou so gegooi het met die klippe. Moenie dink ek het vergeet nie.” Sy gluur na Bennie. Hy antwoord nie. Elsie draai haar kop soos ‘n nuuskierige hen. “Of het hy jou gedreig?” Sy kyk om en loer deur die venstertjie. Die mannetjie huil en sy suster troos hom. Jy sal nog tjank, boetie. Sy kyk weer stip na Bennie. “Bennie, het daai mannetjie jou gedreig…want ek sweer as hy…” “Nee Ma. Hy het nie.” Elsie wil nog iets sê… “Ek help hom, want hy is onskuldig en ek het hom lankal vergewe.” Dit was die manier hoe hy dit gesê het. Die kind is net 15 jaar oud en hy het so ‘n volwassenheid in hom. Elsie het vir die res van die rit nie ‘n woord verder gesê nie.
Tyron.
Toe Tyron wakker skrik, kyk hy op sy foon en sien dit is 08:05 nm.. Sy liggaam is seer toe hy regop sit en dis al donker. Sy maag kreun. Hy moet by die huis kom, hy staan op en skud homself af. Sy broek moes seker geskeur het toe hy homself oor die heining gegooi het. Nou moet hy soek vir ‘n plek om weer terug oor te klim….
Karel.
“En toe, verduidelik jouself Meneer.” Karel is die duiwel in. Christopher sit by die eettafel en verkyk hom aan die tafeldoek se patrone. “Ek sê praat!!”
“Karel…” begin Esmè, maar hy gluur haar aan met ‘n waarskuwing in sy oë wat haar laat stilbly. “Pa, ek wou nie hê dat pa-hulle so moes uitvind nie.” Christopher lig sy kop en kyk op na Karel. Hulle se oë ontmoet. “Ek wou haar op ‘n ordentlike manier voorstel en…”
“So, sy is jou meisie.” Karel staan so rof op dat die stoel amper omval. “En sy is swanger! Wat gaan aan met jou Christopher!!”
“Pa, ek sou julle sê, is net…”
“Is net wat? Ha! Jy is mos nou ‘n man. Nie onder my dak nie Meneer!” Christopher vlieg op. “Dis hoekom ek julle nie wou sê nie, want ek het geweet Pa gaan so aangaan!”
“Julle, julle!!” skreeu Karel terug. “Hoor hier meneertjie, jy is mos nou ‘n man, ek sê vir jou nie in my huis nie.” Dit lyk of die die twee mekaar enige tyd gaan gryp. Esmè probeer keer. “Christopher, moenie so met jou pa praat nie.” Christopher se stem is swaar van die woede en hartseer. “Nee, Ma, sê vir Pa hy moenie so met my praat asof ek nog steeds ‘n klein kind is nie. Ek was nog altyd eerbiedig en gehoorsaam, maar ek is nie meer ‘n kind nie.” Christopher sluk diep. “Ja, Amanda is my meisie en ons verwag, maar al ding waarvoor ek jammer is…is dat ek julle op die manier moes sê.” Met die woorde draai hy om stap uit, die deur klap hard agter hom toe. Karel staan nog oopmond en kyk hom agterna.
“Kyk net hoe parmantig…” Hy bly stil. Esmè sak neer op die sofa en sy ruk soos sy huil. Karel stap met hangende skouers nader en troos sy vrou. Sy woede het bedaar en hy kyk uit by die eetkamervenster na die maan wat vir hulle deur die oop gordyne loer.
Amanda.
Die polisiebakkie laai vir Amanda by hulle shantie af. Dit is al donker en net ‘n paar mense is nog in die straat. Sy het geen idee hoe laat dit is en weet ook nie hoe lank sy by die polisiestasie was nie. Sy het gesmeek dat hulle haar broer moet laat gaan, maar die polisievrou met die ronde neus wat seker ‘n hoër rang het, wou niks verstaan. Amanda het gebly totdat hulle vir haar gesê het sy moet loop. Die kleurling polisieman het aangebied om haar te kom aflaai. Hy is vriendelik, maar sy het skaars na sy geselskap geluister. Sy is uitgeput, bang en onseker van wat nou gaan gebeur. Moes haar dag nou so opeindig? Christopher se ouers was glad nie beïndruk gewees met haar nie en nou slaap haar broer vanaand in die selle, hoe verduidelik sy nou vir haar ma waar is hy? Amanda sug diep en kyk op na die lug. Die maan skyn helder. Sy sê ‘n sagte gebed op vir haar broer, vir haar ma en vir sy en Christopher.
Elsie.
Elsie sit soos gewoonlik by haar vriendin en ‘n 3 liter boks Namakwa-wyn drink, maar vanaand proe die wyn anders. Dit het ‘n smaak wat sy nie ken nie. Sy het net een glas geskink en nou sit en verkyk sy haarself aan die halwe glas rooiwyn. Haar enigste kind het vandag vir haar ‘n ding laat besef. Sy het nog al die jare ‘n wrok in haar hart teenoor haarself gedra. ‘n Donker wolk wat sy oor haarself laat hang het. Dit was nie net Johnny wat haar blameer het vir Bennie se disability nie, maar sy het haarself nooit vergewe nie. Elsie kyk na Martha wat al ‘n hele ruk gelede begin snork het onder die boks wyn uit, glas nog in die hand. Sy kyk rond in die vroumens se huis. Hier gaan niks aan nie, die mure is vuil en die kokkerotte hou omtrent party in die kombuis. Die tapyt is al deurgetrap, maar dink jy Martha sal probeer om nuwes te koop? Nee, sy sal eerder wyn koop. Dieselfde wyn waarin Elsie haar hartseer al die jare probeer verdrink het. Sy skep moed, sit die halwe glas op die tafel neer en gee haar vriendin nog een laaste kyk. Elsie skud haar kop en trek die deur agter haar toe toe sy uitgaan. Met die uitkom val die maanlig op haar. Sy kyk op en staar vir ‘n lang tyd na maan wat vanaand van alle aande so helder skyn.
Tyron.
Tyron vat die draai in hulle straat af. Dis leeg, tot die hoekstaners wat altyd okapyp rook, is nêrens te sien nie. ‘n Hond blaf vir hom toe hy verbyloop. By hulle huis sien hy die hek staan oop en die bakkie is weg. By die deur huiwer hy, maar forseer homself om dit tog oop te maak. As sy ma hom gaan doodmaak vanaand, dan moet sy maar, want hy is anyway klaar halfpad dood van die hongerte. Voordat hy nog sy hand aan die vatsel kan sit, toe waai die deur oop. Dit is sy suster en sy lyk bekommerd.
“You are in deep trouble Ty. Mom is angry and Dad wants to kill you.” Sy ma se stem kom van die kombuis se kant af.
“Who’s that… Is It Tyron?” Hy en sy suster kyk na mekaar. “It’s Tyron Ma, he’s back.” Sy ma verskyn so skielik dat Tyron skrik. “Tyron Ashwin van Rensburg, where have you been and what is this I hear about you robbing people?” Sy ma gaan omtrent te kere, sy was seker besig om skottelgoed af te droog, want sy waai omtrent die klam vadoek woes rond. Tyron is moeg en die hongerte laat hom nie toe om te antwoord nie. Hy gaan sit op die sofa en staar na die tv terwyl sy ma hom uitskel. Sy suster maak haarself tuis op die ander sofa en chat, maar kyk kort-kort na hom. “I don’t want to see you with that trash again, you hear me!!” Sy ma het nog altyd niks van Ertjies en Riyaad gehou nie, veral Ertjies en nou het sy goeie rede. Tyron kyk na die program op tv, dit is ‘n music video wat speel, half kaal vroumense dans langs ‘n man met goud in sy mond.
Boom! Die deur waai oop en slaan hard teen die ornament. Die slag laat skrik almal, sy suster vlieg regop met groot oë. Tyron se ma bly stil. Hy is self geskrik, sy hart klop doef-doef in sy keel. Hy weet wie is dit. Satan self staan in die deur met bloedrooi oë.
“You!!” skeur sy pa se stem soos ‘n donderslag deur die huis. Tyron sit soos ‘n hoender wat weet hy gaan geslag word. “You are a disgrace to this family and I’ve left you far too long Mr.!” Sy pa kom staan reg voor hom. “Get up!” Tyron is te stadig om te reageer, sy pa gryp hom aan sy t-shirt en ruk hom rond. Hy weet wat kom volgende. “You piece of…” Die vuishou tref hom skraps teen sy kop, hy wil weer koes, maar sy pa slaan hom met die regterhand. Klap! “You think you’re a gangster, you’re a disgrace…” Hoe sy ma tussen hulle ingespring het en sy pa se hand gegryp het, weet Tyron nie. “You dare hit this boy again.” Tyron maak sy oë oop. “You are the one who brought disgrace to us. What.. you think I don’t know about you and Felicia. Filthy Felicia!” Tyron se pa staan eers verbaas terug. “Don’t you blame this on me. If you spent more time at home with the kids instead of sitting at your damn sister’s house.” Sy ma kap terug. “And where were you? Working late every night, I’m sick and tired of your nonsense, Jacques. I want a divorce!”
Die woorde tref vir Tyron soos ‘n baksteen, hy hoor niks verder nie, sy ouers het nog nooit so gestry nie. “Oh, did your sister now teach you about divorce?” Tyron stap verby sy ma-hulle wat mekaar woes wys en mik en skel. Sy suster sit en huil. Hy stap uit by die oop deur en gaan leun teen die stoep se muur. Hy het ‘n dik knop in sy keel, die moeg en honger lank nie meer op sy gedagte nie. Tyron sluk die bitter smaak met groot moeite. Sy onderlip bewe en ‘n traan loop langs sy wang af. Dis alles sy skuld. Die nag buite is stil en die maan skyn dof.
Die einde.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasie] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



