KIMBERLEY – Nangamso Mtirara (27), ’n voormalige administratiewe klerk van die Valke, het vandag in die Kimberley-landdroshof op aanklag van bedrog verskyn.
Die hofsaak is tot 10 Oktober vir ’n voorverhoofkonferensie uitgestel. Die staat moet nog met vier ooggetuies konsulteer. ’n Datum vir die verhoor sal by Mtirara se volgende verskyning bekend gemaak word.
Nomthandazo Mnisi, die woordvoerder vir die Valke in die Noord-Kaap, sê na bewering het die verdagte in September 2018 ’n vals siekbrief vir haar afwesigheid ingedien.
’n Beampte by menslikehulpbronne het teenstrydighede met die mediese sertifikaat opgemerk en dit rapporteer. ’n Interne dissiplinêre verhoor het gevolg en Mtirara het haar bedanking op 22 Oktober 2018 ingedien.
Mtirara het na bewering siekbriewe van kollegas gewysig en as haar eie ingedien.



