Gemene WhatsApp-sage duur voort

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Linja Allen en Craig van Rensburg het vandag in die landdroshof hier verskyn, nadat Rudi Ferreira, bedryfshoof van FiND iT en eienaar van Cell C in die Noord-Kaap, ’n interdik teen Allen en Van Rensburg bekom het.

Allen, van Northern Cape Security Solutions en Van Rensburg, van Emer-G-Med, mag geen teksboodskappe, stemboodskappe, skermgrepe, skermgrepe op sosiale media, of enige kletskamer ten opsigte van Ferreira publiseer nie.

WhatsApp-boodskappe

Die interdikte volg nadat Allen en Van Rensburg Ferreira, sy ondernemings, Cell C, FiND iT en die DFA glo breedvoerig en herhaaldelik neerhalend en gemeen in Whatsapp-boodskappe bespreek het. Meer as 200 blaaie van dié Whatsapp-boodskappe is aan die hof oorhandig. Verskeie polisielede was ook op dié groep, die “No Filter Admin”-groep, wat deur Allen gestig is.

Luidens hofdokumente was Ferreira ten tye van die besprekings deur die groep, die bestuurder van die DFA. Hy het op 21 April 2019 uit hul diens getree nadat Allen glo valse inligting kwaadwilliglik aan sy werkgewer oorgedra het.

Regsverteenwoordiger

Nie Allen of Van Rensburg het met hulle vorige hofverskyning ’n regsverteenwoordiger gehad nie, maar het sedertdien weer vir Mark Fletcher as hulle prokureur aangestel.

Saak uitgestel

Uitstel is gevra deur Fletcher sodat die ander hofsaak waarin Ferreira, Allen en Van Rensburg betrokke is, gelyktydig kan plaasvind. Allen het op 1 Maart 2019 ’n tussentydse beskermingsbevel teen Ferreira uitgeneem omdat sy beweer hy het haar aanlyn, onder die skuilnaam Muishond Malan, geteister. Dié beskermingsbevel is intussen opgeskort. Tydens die deelsverhoor van dié verhoor het die Whatsapp-boodskappe aan die lig gekom wat volgens Ferreira daarop dui Allen hom al lankal beswadder.

Lasbrief bekom

Landdros Kubashnee Padayachee het die lasbrief teen Allen tydelik opgeskort, nadat Ferreira goedgunstiglik ingestem het tot dié reëling omdat Allen swanger is.
Padayachee het Ferreira daarop gewys as Allen die bevel oortree, hy dadelik kan aansoek doen vir ‘n lasbrief teen Allen. Dié bevel val nie weg nie.

Padayachee het die saak tot 16 Oktober 2019 uitgestel vir verdere instruksie, asook om die mediese toestand van Allen vas te stel.

Lees die vorige berig hier.