Lasterlike Whatsapp-boodskappe gestop

KIMBERLEY. – Linja Allen, van Northern Cape Security Solutions en Craig van Rensburg, van Emer-G-Med, mag geen teksboodskappe, stemboodskappe, skermgrepe, skermgrepe op sosiale media, of enige kletskamer ten opsigte van Rudi Ferreira publiseer nie.

Dit volg nadat Ferreira, bedrysfhoof van FiND iT en eienaar van Cell C in die Noord-Kaap, ’n interdik teen Allen, asook Van Rensburg, uitgeneem het. Allen en Van Rensburg moes vandag in die landdroshof hier voor landdros Kubashnee Padaychee verskyn het, maar slegs Van Rensburg het opgedaag. Ronsard Allen, Allen se man, het met ’n siekbrief vir haar ingestaan. Nie Allen of Van Rensburg het ’n regsverteenwoordiger teenwoordig gehad nie. Landdros Padayachee het hulle daaraan herinner dat hulle lankal bewus was van die datum van verskyning.

Ronsard Allen

Meer as 200 blaaie

Die interdikte volg nadat Allen en Van Rensburg Ferreira, sy onderneming, Cell C, FiND iT en die DFA breedvoerig en herhaaldelik neerhalend in Whatsapp-boodskappe bespreek het. Meer as 200 blaaie van dié Whatsapp-boodskappe is aan die hof oorhandig. Verskeie polisielede was ook op dié groep, die “No Filter Admin”-groep, wat deur Allen gestig is.

Luidens hofdokumente was Ferreira ten tye van die besprekings deur die groep, die bestuurder van die DFA. Hy het op 21 April 2019 uit hul diens getree nadat Allen valse inligting kwaadwilliglik aan sy werkgewer oorgedra het.

Allen administrateur van groepe

Allen was self die outeur van sekere van die Whatsapp-boodskappe. Sy was alternatiewelik die administrateur van die groep en sy was verantwoordelik vir boodskappe wat op dié groep verskyn het. Sy het geweier en/of versuim om lasterlike en kwaadwillige boodskappe wat Ferreira se regte affekteer, te verwyder of te verbied.

Whatsapp-boodskappe onthul

Allen het op 1 Maart 2019 ’n tussentydse beskermingsbevel teen Ferreira uitgeneem omdat sy beweer hy het haar aanlyn, onder die skuilnaam Muishond Malan, geteister. Dié beskermingsbevel is intussen opgeskort. Tydens die deelsverhoor van dié bevel het die Whatsapp-boodskappe aan die lig gekom.

Baat by polisie-inligting

Allen, wat deel is van die gemeenskapspolisiëringsforum, asook die polisielede op dié groep, het klaarblyklik aan die gesprekke deelgeneem terwyl hulle aan diens was. Allen het in die deelsverhoor erken sy het ’n privaat sekuriteitsmaatskappy, wat uit die aard van die saak haar in ’n posisie geplaas het om inligting te gebruik tot voordeel van haar genoemde sekuriteitsmaatskappy, wat blyk uit afskrifte van die boodskappe. Sy het dit wel ontken.

Toegang tot polisie-inligting

Dit blyk ook dat die privaat ambulansdiens, vir wie Van Rensburg werk, dan toegang gekry het tot sensitiewe polisie-inligting, wat tot die genoemde ambulansdiens se voordeel aangewend is en spesifiek by name tot uitsluiting van ’n ander privaat ambulansgroep aangewend is. Allen het ook volgens hofdokumente aangedui sy is geregtig tot toegang tot polisieradio’s en polisie-inligting, veral omdat haar man ’n lid van die polisie is.

Polisienetwerk inligting uitgelek

Die Whatsapp-boodskappe dui verder inligting wat deur die polisienetwerk verkry is, is versprei onder lede van die groep, wat lede van die gemeenskap insluit wat nié in die polisiediens is nie.

Inligting sensitief

Volgens Ferreira se verklaring is die inligting uiters sensitief, skokkend, onwelvoeglik, polities en lasterlik ten opsigte van bekende persone van Kimberley.

Hy vra dat die name van die ander lede van dié groep bekend gemaak word en dat hulle geroep word om getuienis af te lê.

Padayachee het die saak tot volgende Woensdag uitgestel. Die interdikte is tydelik toegestaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: