Man in hof ná hy polisieman skiet

KIMBERLEY. – ’n Man wat na bewering ’n polisieman geskiet het, het vandag in die landdroshof hier verskyn.

Thabiso Veleko (38) staan tereg op aanklag van poging tot moord op ’n polisieman, asook op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Motor gesteel

Hy het na bewering in Desember van 2015 ’n polisievrou se privaat motor’n Jeep ter waarde van R350 000, op Kuruman gesteel.

Sers. Mzimkhulu Dube, die ondersoekbeampte, sê die motor waarmee die verdagte gery het, het tussen Kuruman en Danielskuil sonder brandstof gaan staan. Veleko het toe te voet gevlug. “Polisiebeamptes het vanaf Kuruman in Danielskuil se rigting gery op soek na die gesteelde motor.”

Polisieman geskiet

Kol. Rudolph Louwrens, ondersoekbeampte van die Hawks, het tydens sy getuienis gesê die honde-eenheid is ook uitgeroep en het Veleko tot in ’n veld gevolg. “Veleko het ’n polisieman in die bors, by sy hart, raakgeskiet. Gelukkig het die polisieman ’n koeëlvaste baadjie aangehad.”

Roof by vulstasie

“Hy is op 18 Maart 2016 in Kimberley deur die HAWKS in hegtenis geneem. Hy was in besit van ’n Porsche-motor en vyf selfone. Na verdere ondersoek het ons uitgevind oor ’n roof wat by ’n vulstasie op Barkly-Wes plaasgevind het,” het kol. Louwrens getuig.

Veleko het na bewering onder andere geld en selfone by die vulstasie gesteel. “Die selfone, wat in die motor was, is deur die werkers by die vulstasie uitgeken.”

Borgtogaansoek

Die saak is tot 12 September 2019 uitgestel. Landdros M. Qomoyi het Veleko se borgtogaansoek afgekeur. Hy bly tot sy volgende hofdatum in aanhouding.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: