“Elke huis dra sy eie kruis, dit maak nie saak hoe mooi dit van buite lyk nie. Die probleme lê soms agter die dik gordyne weggesteek. Vier families in
die hart van Roodepan, ‘n klein stowwerige gemeenskap buite Kimberley,
vertel hulle storie van geluk, hartseer, drome en hoop, van dit wat was en
sal wees. Ons is tog almal maar net mens – goed of sleg.”
Episode 1 – Elsie.
Elsie is in ‘n beswyming, maar sy worry nie – ten minste vir die tyd hoef sy
haar oor niks te bekommer nie. Die yskas het net water in en die koskas is so te sê leeg, maar dit is worries vir môre. Sy vat nog ‘n slukkie van die
lekker koue soetwyn. Ai, dit is haar enigste troos in die lewe. Wanneer sy
haar wyn drink, dan dink sy altyd terug aan die jare toe Johnny nog by die huis was voor die stryery en bakleiery en voor hy sy goed gevat het en
geloop het. Hulle het tog lekker tye saam gehad.
Elsie draai nog steeds om en om in die rondte, ‘n tipe dans wat haar altyd
dronker maak. Destyds toe was sy self ‘n mêrrim… Johnny het by spoornet gewerk en sy was ‘n teacher by die crèche. Hulle was nog jonk en diep in
hulle dertigerjare en die liefde het nog kwaai gebrand tussen hulle en toe
kom Bennie, haar enigste seun, wie sal vandag kan sê hy was altyd so
fragile. Bennie is gebore met ‘n onewe been wat korter as die ander een is en alhoewel die kind gesond was, het Johnny vir haar blameer, want sy het gerook in die skelm, toe vang hy haar red handed een laatmiddag. Sy het
net klaar gekook en toe kom die lus. Ai! Die satan wat haar destyds so
verlei het. Johnny het gewoonlik eers vyfuur by die huis gekom, maar die
dag het hy vroeër opgedaag. Sy het agter in die jaart gestaan langs die
toilet so half weggesteek tussen die wingerd. Was dit nie dat sy swanger
was nie dan het Johnny haar daai dag seker morsdood geklap. Sy het so
groot geskrik dat sy amper die sigaret ingesluk het…
Elsie staan skielik stil. Haar kop draai nou. Die sweet loop riviere teen haar nek af. Sy haal diep asem, moeg van in die rondte dans. Sy staar lank na
die bottel in haar hand, dit lê al by die helfte. Haar mond proe sommer suur maar dis ‘n bitter smaak wat sy alte goed ken. Sy gaan sleepvoet na die
sofa en plof neer, dit kreun onder haar gewig….
Johnny het net daar omgedraai en geloop sonder om ‘n woord te sê, sy het opgesit tot water tyd die nag, maar hy het steeds nie terug huis toe gekom nie. Eers die volgende dag het hy verskyn. Sy het hom nog nooit so boos
gesien nie en toe begin die skellery. Hulle het vyande geraak wat in een
bed geslaap het, maar nooit aan mekaar gevat het nie. Maar die dag van
die kind se geboorte kon sy weer ‘n glimlag op sy gesig sien. Al was hy
gestres, kon Elsie weer ‘n klein deel van haar Johnny sien…
Sy kyk in haar glas wat al leeg is. Sy voel meteens naar, sy wil nie meer hê nie…. Die oomblik toe Johnny uitvind oor die kind se been, het hy nie weer met haar gepraat nie. Hy het later getrek na die sitkamer en so het hulle
gebly, saam onder een dak maar sonder liefde. Hy het na die kind se
eerste verjaardag sy goed gepak en geloop for good. Sy het later uitgevind hy bly in Homestead en het ‘n nuwe vrou en twee kinders, pragtige
dogtertjies. Hy het vir haar verlaat, maar nie sy kind nie, hy kom elke
naweek vir Bennie haal en het nog nie een keer oorgespring nie. Die kind
is altyd so opgewonde as sy pa kom, dan loer Elsie maar altyd deur die
gordyn by die sitkamervenster. Johnny kom nog nooit in die huis nie,
behalwe as die kind siek is. Hy sit en wag altyd in die kar buite. Sy voel
altyd so proud oor pa en seun se verhouding, dan spog sy tog altyd by haar vriendinne oor die naweek wat Bennie en sy pa gedoen het. Soms raak sy stil en dan wil Sanah weet wat’s fout. Sy dra ‘n diep hartseer binne in haar hart, ‘n hartseer wat sy oor die jare probeer verdrink het in die bottel wyn… Die trane begin te rol, sy kan nie keer nie en huil saggies soos ‘n kat wat
treur, maar net saggies vir haarself. En so raak sy net daar in die
halfdonker sitkamer op die sofa met die een poot wat stukkend is vas aan
die slaap. Die liedjie, I will always love you van Dolly Parton speel nog
steeds op die DVD-speler en buite die halfoopgevlekte gordyn begin die
son stadig maar seker te sak…
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



