KIMBERLEY – ’n Dogter het na bewering agt ure by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMS) se ongevalle-afdeling gewag voordat sy gehelp is.
Cayla-Ann Meyer sê haar suster het van ’n erge hoofpyn gekla en haar bloeddruk was baie laag toe ER24-nooddienste hulle na die RMS-hospitaal gebring het.
Meyer sê hulle het 18:15 daar aangekom. Hulle het vir agt ure gewag en ’n dokter kon haar suster eers om 02:12 sien. Sy sê die dokter het nie eers die pasiënt ondersoek nie. Vyf minute later was hulle daar uit.
Meyer sê: “Net een dokter was aan diens. Twee ander het later kom help.”
“Higiëne by die hospitaal is walglik. In die agt ure wat ons daar gewag het, het nie een persoon daar skoongemaak nie,” sê sy.



