JACOBSDAL. – Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is na hulle ’n 78-jarige vrou aangerand het, het gister in die landdroshof hier verskyn.
Mev. Maria Hunter (78) is op 8 September 2019 om 08:30 in haar huis deur haar tuinier en ’n onbekende man aangeval. Die twee verdagtes is kort daarna in hegtenis geneem.

Verdagtes
Aubrey Masuala (48), Hunter se tuinier, en Jackson Buyeye (42) staan tereg op aanklag van verkragting, diefstal en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, sê die polisie het geld en sleutels, wat aan Hunter behoort, in Masuala se besit gekry.
Borgtog
Sy sê die verdagtes het nie aansoek gedoen vir borgtog nie en bly in aanhouding tot hulle volgende hofdatum.
Hospitaal
Hunter het geringe beserings opgedoen en is ná die aanval in die Gariep Mediclinic in Kimberley opgeneem. Mpakane het bevestig sy is reeds ontslaan.
Hunter het gevra dat haar privaatheid gerespekteer word, sy wil nie in hierdie stadium met die media praat nie.



