Heinrich Maritz (41) is ’n man van vele talente. Nie net is hy ’n tatoeëerkunstenaar en musikant nie, maar hy doen ook sy eie herstelwerk in en om die huis. Hy is tans besig om sy swembad self oor te doen.
Heinrich is al vir nege jaar getroud met Aniena-Lee en die paartjie het ’n vyfjarige seuntjie, Zane. Hulle bly in Carters Glen en dit is ook waar Heinrich sy tuisstudio het.
Van gatvol tot passie
“Na skool, wanneer jy jou eerste werk kry, val jy in ’n rigting in waarvoor jy nie regtig passie het nie. Na so ‘n paar jaar, wanneer jy nou goed gatvol is, begin jy dink aan wat jou passie eintlik is. Ek het by ’n winkel gewerk en alhoewel ons sertifikate en opleiding gekry het, het dit vir my gevoel asof ek stagneer.”
“’n Pastoor by ’n kerk wat ek in daardie stadium bygewoon het, het vir my gesê as iets jou irriteer omdat jy dit nie kan doen nie, los alles anders. Moet nie bekommerd wees oor geld nie. Volg jou hart en alles sal in plek val.”
Moeilike tye
“Ek het vir twee en ’n half jaar na ure tattoes gedoen. Dit was baie rof en baie moeilik om voltyds te werk en na ure verder te werk . Ek het saans net een kliënt per aand geneem en dan oor naweke was ek vol geboek. Dit was ’n tydperk in my lewe wat ek moes opoffer om die vrugte daarvan te pluk. In daardie stadium was my seun net gebore, maar ek glo God beplan alles op die regte tyd.”
“ Dit beïnvloed ook mens se huwelik en gesondheid as jy by ’n werk moet wees waar jy ongelukkig is. Dit is nou omtrent twee en ’n half jaar wat ek nou voltyds my studio van die huis af bestuur.”
Naam van sy studio
Heinrich sê die naam van sy studio, NC Ink, is geïnspireer deur die program LA Ink.
Man van vele talente
“’n Ander passie wat nooit gerealiseer het nie, is die band wat ons probeer stig het, wat nie altyd gewerk het nie. Musiek sal altyd ’n deel wees van my. Ek speel tans kitaar in die kerk se band. Ons het reeds onlangs daaroor gesels om die band weer op die been te bring. Ek glo God gee vir mens talente wat jy moet gebruik.”
Heinrich het onlangs by die Nirvana-huldeblyk by die Flamingo Casino gespeel.
In en om die huis
Wanneer Heinrich nie tattoes doen en musiek maak nie, doen hy herstelwerk in en om sy huis. Hy is tans besig om sy swembad vir die somer self te herstel. “Deur die week het ek redelik baie tyd omdat ek net volgens afspraak werk. Wanneer ek nie afsprake het nie, maak ek skoon en maak kos. Ek herstel ook self dingetjies wat herstelwerk nodig het.”
Familie is belangrik
“Gelukkig is ek baie by die huis en my studio is by die huis. My seun sal baie kom kyk wat ek doen en kom gesels. Sondae is familietyd. Mens se familie en gesin se geluk is baie belangrik.”
Boodskap aan ander
“As jy weet wat jou passie en talente is, gaan daarvoor. Vergeet van geld en als. Volg jou passie. Geld sal jou nooit gelukkig kan maak nie. Alles sal in plek val soos dit moet.”






