Die job. Episode 9. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Jacob het sleg geslaap en is nors toe hy die volgende oggend wakker word. Omdat Charles se shanty so klein is, moes hulle in die bakkie slaap. Patricia het hom ook die vorige aand ontstig toe sy sommer met die change sigarette gekoop het en nog sê syt geweet hy sal nie mind nie.

Vir ontbyt moes hy weer geld gee sodat sy kon eiers, olie, brood en nog paraffien koop. Nou sit hy buite langs die shanty in die son en bereken hoeveel geld hulle nog moontlik kan oor het. Die petrol sal hulle seker nie eens verby Boshof vat nie. Jacob sug. “Morning uncle…” Hy het nie eens besef dat Johnny boy by hom kom staan het nie. Hy kyk op. “Mornings boy.” Hy sug weer en voeg by “You guys need to get ready so we can leave. The sooner we get out of this place the better…” “Hey jy! Waar is dit!?” Andries kom om die draai en bevlieg vir Johnny boy wat te laat probeer wegspring. “Waar is dit!” Hy het vir Johnny boy aan die nek beet en ruk hom rond. “What are you talking about?,” vra Johnny boy verskrik en probeer loskom. “Andries, wat gaan aan?” Jacob staan op. “Hy het dit gevat, hy was laaste gisteraand by die bakkie!” “Wat gevat?! ” vra Jacob vererg en ruk die twee uit mekaar. Johnny boy steier terug en hou sy nek vas asof sy kop enige tyd kan afval. “Andries, jy beter vir my nou sê wat gaan aan!” Andries kyk eers lank na Johnny boy. “Die goue eier… Ek, ek het dit gisteraand gevat voordat Boeta dit kon begrawe met die ander goed…” Jacob kan nie glo wat sy ore hoor nie. “WAT?” Andries se keel is skielik droog en hy sluk eers voor hy verder praat. Hy kyk na Jacob. “Ek sou dit verkoop het as ons in Joburg gekom het, maar nou is dit weg en HY was laaste by die bakkie!” Hy wys na Johnny boy. “That’s not true. I didn’t take anything!” Jacob tree weer tussen die twee. “Jy was in die eerste plek dom om die ding te vat! Het jy vir Boeta gevra?” Johnny boy begin weer. “Just because you saw me last doesn’t mean I took it…” “Shut up Johnny!” Johnny Boy wou nog verder praat, maar die vuur in sy oom se oë laat hom stilbly. “Andries, moet jy altyd stront aanvang? Daai ding is ‘n liability man!” Hy draai weer na Johnny boy. “Gaan roep vir Boeta laat die storie opgelos word.” Na ‘n rukkie kom Johnny boy gevolg deur sy neef en vrou. Patricia klets omtrent, maar bly meteens stil toe sy sien hoe ernstig Jacob na haar kyk.

“Luister nou mooi” sê hy baie ernstig. “Hier is iets weg, ‘n goue eier tipe ding. Het enigeen van julle dit gesien of gevat?” Jacob se oë val noukeurig op elkeen. Patricia se oë rek soos pierings. “Nee, hoeeee ek sal nog nooit goeters vat watie myne isi…” Sy krap haar hand asof ‘n gogga haar gebyt het.

“Wag, wag! Wag net so bietjie.” Boeta lyk of hy diep dink. “Waar is daai ander man… Daai Michael -mannetjie…?”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.