Die job. Episode 10. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Gumede klim swaar uit die kar uit. Hy het ‘n paar ekstra kilo’s oor die jare aangesit ,maar dis sy gemoed wat so swaar is. Hy het die vorige aand na hy en Naledi se stry later in die sitkamer op die sofa gaan slaap. Hy het soos ‘n klein kind gehuil en het baie vroeg opgestaan sodat sy kinders nie die hartseer in sy oë moes sien nie. “Vandat jy promote is, is jou werk belangriker as jou vrou en kinders.” Naledi het die woorde gespoeg soos acid. Sy voel eensaam het sy gesê, moeg om aande wakker te lê en vir hom te wag. Sy gaan die kinders vat, hy kan maar die huis hou…

Drie ander voertuie staan voor die erf. Die forensiese eenheid is op pad. ‘n Groep nuuskieriges staan bedroef op die sypaadjie, seker van die bure dink Gumede. ‘n Jong kort rooikop joernalis neem omtrent foto’s en spring na Gumede se kant toe Sy het hom gewaar ,maar hy stap verby haar so asof sy ‘n lastige kind is wat hom teister met vrae. Hy draai in by die hek. ‘n Paar polisiemanne staan op die gras rond. Een konstabel gesels met ‘n jong man wat sy rietskraal vroutjie probeer regop hou. Sy huil saggies in haar hande. Vroeër was Gumede ingelig oor ‘n inbraak en ontvoering hier in South Ridge.

Hy stap verby en die manne in blou groet hom. Hulle het groot respek vir hom. Die huis is deurmekaar en in die gang staan ‘n ou oom toegedraai in ‘n kombersie, sy bewerige hande hou ‘n foam cup vas. Die paramedic gesels met hom. “Kaptein, goeie dag. Ek is bly u het so vinnig gekom.” Die blanke polisieman met sy pikswart hare draai na die sitkamer. “Die oom onthou niks, sy vrou is weg en dit lyk of daar ‘n stoeiery was. Maar ek dink nie die ontvoerders gaan vra vir ‘n ransom nie.”

Gumede kyk verbaas na die jong inspekteur wat op sy hurke gaan en na iets wys op die maat. Hy wys met die tip van sy pen na ‘n donker vlek op ‘n foto. “Dit is ‘n stukkie harsing. “Die ouma is met iets doodgekap…”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.