Michael het iewers gedurende die nag of vroeë oggendure verdwyn en snaaks genoeg het niemand eens agtergekom dat hy weg is nie. Dit blyk nou dat hy met die goue eier verdwyn het. Charles het aanhou verklaar hoe agterdogtig hy was oor die Michael-karakter wat so forward was. “Ek wil mos sê daai mannetjie is te volop met sy bek. Die gemors!” Hoe nou gemaak het die vraag by Jacob bly spook, want sê nou die skollie gaan verkoop die ding by ‘n pawnshop, dan kan dit net ‘n spoor agterlaat vir die polisie. Hy kan voel hoe die woede binne-in hom opkook, Andries is ‘n blerrie fool man. “Jy vang altyd jou kop se stront aan Andries! Ek het gesê ons vat niks nie.” Andries staan met ‘n skuldige uitdrukking. “Hoe moes ek geweet het die ding gaan gesteel word Jacob?” Jacob is briesend. “Man! Bly net stil,” sê hy en vleg moedeloos met sy hand oor sy grys hare. “Nee man, ek is nou moeg vir die dat ek bly in jou slegte boeke is.” Jacob het nie mooi gehoor wat sê Andries nie en kyk op. Andries blaas hom op soos ‘n haan. “Ek sê… jy kan almal vergewe behalwe vir my wel Ek is nou gatvol man!” Andries sluk eers. “So vlieg in jou moer man! Ek loop!! ” Jacob staan en kyk verbaas na Andries, die reaksie het hom totaal onkant gevang. “Boeta laat ons waai.” Boeta staan nog ewe verbaas en kyk van Jacob na Andries en terug. “Maar Andries hoe is dit dan nou jong?” Jacob, wat die heeltyd stilgebly het, wen hom ook op. “Nee, los hom. Hy sal sien hoe kom hy in Joburg.” Andries is al by die bakkie en laai hy en Boeta se sakke af. “KOM JY OF WAT JY HOOR MOS WAT SÊ DIE MAN.” Boeta staan nog oopbek en probeer sin maak van wat nou aan die gebeur is. Jacob raak ongeduldig. “Charles en Patricia, dit was goed om julle te ontmoet, maar ek dink dis tyd dat ons gaan.” Hy groet die twee met die hand. “Johnny boy, ons ry nou.” Met die woorde stap Jacob weg.
Jacob, wat na die bakkie stap en Andries wat na die shanty stap, loop verby mekaar sonder om na mekaar te kyk. Beide se oë is stip voor hulle gefokus.
Johnny boy, wat nog onseker gehuiwer het, maak baie vinnig sy mind op en draf agter Jacob aan. Charles en Patricia staan eenkant soos twee weeskinders, onseker en sprakeloos. Boeta het met Andries gaan praat en hulle gesels ernstig. Na ‘n rukkie stap hy hangskouers na Jacob en Johnny wat al in die bakkie sit. “Kom jy saam of bly jy?” vra Jacob toe Boeta by sy kant verskyn. “Uhm, ek het met Andries gepraat, maar hy wil niks hoor… Hy…” “Ek vra, kom jy saam of nie?” Jacob kyk voor hom en vir ‘n lang tyd antwoord Boeta nie, sy mond is droog. “Ek, ek is jammer Jacob, maar Andries is soos ‘n broer vir my. Ek gaan waar hy gaan.” Toe eers draai Jacob en kyk na Boeta. “Maak seker jy kom baie gou uit die plek uit, Boeta. Ek hoop ons sien mekaar weer in die toekoms.” Jacob se stem het gebreek en hy probeer dit wegsteek. “Ry,” sê hy vir Johnny boy. Hulle trek weg en los vir Boeta in ‘n stofwolk agter. Hy staan totdat hy te klein raak vir Jacob om hom in die rear view mirror te sien.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



