Gumede het homself na die kantoor gehaas. Dit wat die inspekteur hom vertel het, het hom laat sidder. So ‘n wreedheid sal hy nie ongestraf laat gaan nie, hy sal seker maak die moordenaars word swaar gestraf. Sy bloed kook. Hy’t amper een polisievrou omgeloop in die gang, sal haar leer om te staan en klets. In sy kantoor trek hy sy bruin check baadjie uit en hang dit om sy stoel. Hy tel die telefoon op en druk die nommers. Dit lui en amper dadelik antwoord ‘n growwe stem. “Halo, Van Rooyen. Ja. Kry vir my ‘n span dadelik bymekaar om te werk op die South Ridge-moord. Kry iemand om ‘n lys op te stel van alles wat uit die huis weg is en besoek alle pawnshops.” Gumede luister na die growwe stem se vrae… “Ja, doen dit en hou die winkeltjies van die foreigners ook dop.” Gumede groet en sit die foon terug. Hy sak moeg in sy stoel neer. Die adrenalien het hom gedra tot hier, maar nou laat saak die moegheid hom diep in sy stoel terug. Gumede staan op so asof iets hom hinder, maar hy probeer die gedagte van die vorige aand afskud. Dis onmoontlik dat niemand niks gesien het nie. Nie een van die bure het iets buite orde gehoor nie. Wat wel oorkant die pad gevind is, was tyre merke. As iemand net kon sien watter soort voertuig dit was… Die arme ou oom het opgestaan ve’oggend met sy huis wat so deurmekaar is en sy vrou wat vermis is. Die oom was in ‘n toestand en hy het nie eens probeer om die trane wat riviere gestroom het te keer nie. Hy het ‘n portret van hy en sy vrou styf vasgehou. ‘n Skerp pyn skiet skielik soos ‘n warm koeël deur Gumede se hart. Hy draai vinnig na sy lessenaar, maar huiwer toe sy hand aan die koue metaalvatsel vat. Die laai is gesluit en vir ‘n goeie rede. Dis nou al amper 8 jaar dat hy nie die laai oopgesluit het nie, 8 jaar dat hy nugter is, maar vandag nodig hy iets om hom bietjie krag te gee… “Kaptein…” Gumede skrik hom terug tot in sy kantoor. Hy kyk op na waar die stem vandaan kom. “Is Kaptein orite?” vra die donkerkop offisier. Gumede gryp vinnig na ‘n sakdoek en blaas sy neus uit. “Ja, dis maar net ‘n verkoue wat my beet het…”
Jacob en Johnny boy het by die verkeerde straat afgedraai en het by ‘n ou witkop oom gevra waar Starlingstraat is. “Kyk, die is Hamerkopstraat” het hy beduie “As jy nou hier vanaf by daai straat links draai, dan ry jy straight aan en daai lang straat wat so loop, is Starling.” Die oom het verder aangesukkel met sy kierie.
Johnny boy het eers die bakkie laat idle.
“Why didn’t Boeta come with us? It’s obvious Andries is crazy.” Hy draai en kyk na sy oom. Jacob sug diep en lank. Hy blameer nie vir Boeta vir sy besluit nie. Boeta het homself vir een of ander rede waaroor hy nog nooit gepraat het vir homself oorgegee aan die drank. Hy was konstant in die moeilikheid veral by die taverns waar hy altyd drank gesop het. Kyk, Boeta het gedrink totdat hy lê en dan staan hy op en drink verder en op ‘n dag het twee tsotsi’s hom aangerand. Dit het ook so gebeur dat Andries homself in daai deel van die wêreld gevind het en was dit nie vir hom nie, sou Boeta daai dag dood gewees het. Die twee was van daai dag af onskeibaar… Jacob kyk uit by die venster toe hy antwoord. “Because family sticks together, they may not be blood related, but they’re brothers.” Toe Jacob se woorde by hom insink, start Johnny boy die bakkie en trek weg en draai af in die straat wat die oupa verduidelik het.
Dit was Johnny boy wat die figuur met die swart jacket eerste gesien het. “Uncle, look.”
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



