Die job. Episode 8. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Dis al na elf toe Gumede met die oprit inry en sommer so met die parkering na die remote voel om die elektroniese hek toe te maak. Hy klim eers uit toe hy seker is die hek is toe en dat hy geen skaduwees gewaar nie. Deesdae oorrompel die booswigte jou mos sommer met die uitklim. Hy het die hek al ‘n jaar terug laat aanpas om vinniger toe te maak en ekstra diefwering aan die heining laat bring. Die kontrakteur wat sy skoonbroer is het ook lekker geld uit hom gemaak. Gumede stap na die donker huis wat vir hom staan en frons en klim die trappe stadig een vir een. Hy sluit oop en gaan in. Die huis is doodstil. Hy stap in die lang donker gang af en gaan sommer reguit kombuis toe, skakel die lig aan en haal sy kos uit die microwave, dis nie nodig om dit warm te maak nie. Toe die reuk van gebakte aartappels en mutton curry hom tref besef hy eers hoe honger hy eintlik is. By die sink spoel hy gou sy hande af en droog sommer met die vadoek af. Hy haal sy hoed af en dank die Here vir die lekker bord kos voor hom. Hy smul aan die kos en glimlag met elke vol lepel, Naledi is ‘n goeie kok… Naledi.

Gumede se gemoed sak. Al die lekker herinneringe smelt sommer weg soos botter in ‘n warm pan. Die mondvol kos kry ‘n bitter smaak en ‘n knop vorm in sy keel. Naledi is die afgelope tyd net anders, dis asof ‘n vreemdeling wat nes sy lyk en praat nou in hulle huis bly. Waar het dinge skeefgeloop? As hy tog ook net so ’n oplettende speurder was in sy verhouding. Hy kan net nie verstaan wat gaan aan met Naledi nie. Dinge tussen hulle raak nou so erg dat hulle soos vreemdelinge in een bed slaap onder een dak. Hy het haar lanklaas sien glimlag. Gumede sluk met moeite en kry vir hom ‘n glas koeldrank om ontslae te raak van die kos se bitter smaak. Hy sit die bord in die yskas en gaan na die badkamer. Daar trek hy sy uniform uit en klim in die shower. Hy draai die krane gelyktydig oop en staan eers vir ‘n lang tyd dat die warm water die moegheid en moedeloosheid afspoel. En vir ‘n lank ruk staan hy nie meer in die shower nie. Hy beleef hy en Naledi se eerste ontmoeting toe hulle nog baie jonk was, hy het destyds net met training by die polisie begin toe hy haar in Kuruman ontmoet het terwyl hy ‘n naweek by sy ouers gaan kuier het…

‘n Uur later droog Gumede hom af, draai ‘n handdoek om sy lyf en stap kaalvoet na die slaapkamer. Hy laat die ganglig in die kamer skyn sodat die kamerlig nie vir Naledi wat slaap wakker sal maak nie. Toe hy klaar sy slaapklere aangetrek het, gaan sit hy die lig af en kruip langs Naledi in, maar toe hy sy arm om haar warm lyf sit, stoot sy dit weg. Sy’s al die tyd wakker…

“Naledi…” sê Gumede saggies. “Los my uit” kap sy terug en skuif weg. Die woorde tref vir Gumede hard, maar hy sluk en probeer weer. “Naledi wat gaan aan?” Hy sit regop. “Kan ons praat asseblief…” Sonder om te roer sê sy: “Ek wil slaap hoor! Mxm!” “Naledi… NALEDI. Dinge kan nie so aangaan nie tussen ons nie, jy is net heeltyd naar vir my. Het ek iets gedoen wat jou so baie ontstel het?” Sy vlieg op en gooi amper die komberse van die bed af. “Ja, jy’s reg. Dinge kan nie so aangaan nie. Ek wil skei.”

SKEI. Die woord tref vir Gumede so hard dat hy vir ‘n tyd niks kan sê. Hy staar na haar in ongeloof. Sy staan in haar silk nighty en die maanlig wat deur die oop gordyn skyn, teken haar met gevoude arms. Sexy maar kwaai. “Het jy my gehoor James?”….

Gumede se kop draai, amper 25 jaar getroud met twee pragtige kinders en nou wil sy skei… HET JY MY GEHOOR JAMES? Hy ruk hom reg en sit die bedlamp aan. “Naledi…”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.