Die skraal man met die pirates cap wat homself sommer met die inklim voorgestel het as Michael, klink al soos ‘n papegaai wat van een topic na die ander spring dat selfs Boeta nie kan byhou nie. Andries sit al vies koponderstebo en maak of hy nie luister na die twee se gesprek nie. Toe hulle verby ‘n verlate gebou ry, vertel die man spoggerig hoe dit eens ‘n grand multi-purpose centre was. Hy sug meteens. “Nou dra die tikkoppe die plek stukkie-stukkie weg.” Jacob draai sy kop om die gebou mooi te bekyk. Die lig van ‘n flood light skyn sterk genoeg dat ‘n mens die verwaarlose gebou kan sien. ‘n Groepie mans sit op die stoep om ‘n vuur wat hulle skadu’s soos lang dansende figure teen die muur verf. Die vensters is met rame en al uit en een helfte van die dak is weg. Wilde gras groei dig in en rommel lê orals gestrooi.
Johnny boy blaas skielik die hoeter en trap briek. Die bakkie ruk en kom meteens tot stilstand. Jacob skrik homself terug tot in sy sitplek en kyk verward na die vuil hond wat Johnny boy skel om uit die pad te kom. Michael praat iets van brandsiekte. Hulle trek weer weg, die keer ry Johnny boy stadiger. Michael leun vorentoe. “Ons is nou amper naby, as jy nog straight af ry, dan draai jy regs verby die kraan.” Johnny boy luister en ry soos Michael verduidelik. Dis donker in die smal straatjie met die shanties wat so op mekaar staan. ‘n Paar mense loer nuuskierig vanuit hulle erwe na die blou bakkie wat stadig oor die hobbel grondpad ry. “Ho, ho! Stop chap hier bra.” Michael is weer opgewonde en vlieg amper bo-oor Andries nog voor die bakkie reg stilgehou het. Die bierbottels kap teen mekaar. “Is dit hierso?” vra Jacob, maar Michael het al lankal by ‘n erf ingespring en agter die groen hedges verdwyn. Boeta kyk verlangend na waar sy maat verdwyn het. Andries maak sy keel ongeduldig skoon.
Soos ‘n gees verskyn Michael skielik. “Neh, daar was nie koues nie bra, toe vat ek dies…” Hy grinnik nes ‘n hiëna wat ‘n prooi gevang het. “Is nxa bra, solank hy man se keel natmaak” sê Boeta en skuif sodat Michael sommer op sy plek kan sit. “Boeta, Boeta. Jy het gesê jy bring ons na jou neef toe, nou kom soek jy liewers drankplekke op.” “Maar ‘n man is dan dors…” “Nee, nee stront man! Julle maak net soos julle blerrie wil.” Michael sluk aan die bier wat hy sommer met sy tande opgemaak het. “Chillax bra jy’s in die pan hieso…” Jacob raak boos. “Hey shut up jy en verduidelik waar Charles bly!” Michael se smile verdwyn. “Dan, dan moet die bra net omdraai hieso is sommer reg af in dieselfde straat…”
Hulle hou uiteindelik stil voor die shantie wat net so skeef lyk soos wat Michael verduidelik het. Die shantie is aanmekaar geplak met veelkleurige geverfde sink en lyk of die swakste windjie dit kan omwaai. Oorkant stry ‘n man en vrou. Die man skreeu iets van vuil melk en die vrou wat in haar onderrok staan, skreeu terug. “Slaan my, jy’s mos hoeka gewoond!” Sy klap hard teen haar borste. “Ek is ‘n ander swart pot se deksel!” Jacob en die ander klim uit. Die lug ruik kwaai na paraffien wat Jacob se neus krap. Michael, wat alreeds vooruit gegaan het om vir Charles te kry, staan en klop lank aan die sinkdeur en probeer om by die venster in te loer. ‘n Stem kom van binne, maar dis onduidelik. Na ’n rukkie se sukkel met die slot gaan die deur op ‘n skrefie oop. “Wie’s jy?” kom die growwe stem weer. Michael antwoord. Die deur swaai oop en ‘n kaalborsman met ‘n bierpens verskyn. Boeta, wat nog sy bier klaar gedrink het, skiet die leë bottel in die rigting van ‘n eensame boompie en spring om. “My eie bloedneef.” Die kaalborsman kom kaalvoete uit en omhels vir Boeta. Hulle lag en begin gesels. Boeta draai om. “Ouens, dié is my neef Charles.” Charles lyk amper nes Boeta en sou seker ook was dit nie vir sy marble oog nie. “Roep my sommer Charlie” sê hy en groet vir Jacob met die hand.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



