Die job. Episode 5. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens Boeta se directions het Johnny boy links afgedraai verby die polisiestasie en reg af met die lang straat tot by ‘n vierrigtingstop. Links voor staan ‘n muurplaat met die woorde Jacksonville op geskryf ook maar net-net leesbaar, want iemand het omtrent hiërogliewe oor dit geverf. “En toe…” onderbreek Jacob skielik die stilte. Iewers speel musiek kliphard in die verte. Boeta kyk twyfelagtig rond. “Ek is nou so bietjie deurmekaar jong…” Jacob sug diep. “Jy maak laat ons so ver ry.”

“Kom ons vra daar by daai Tuckshop waa is die straat.” Andries klink ongeduldig. “Ek weet is Dassievoëlstraat, ek het net vergeet watter kant toe nou.” Johnny boy trek weg en gaan staan by die tuckshop en Boeta klim uit. Hy loop tot in die lig wat by die tuckshop se deur uitstroom. Die eienaar sit agter die till en volg hom met wakende oë. “Yes, I can help?” vra hy sommer klaar. “Dassievoëlstraat… Watte kant is dit?” “Dassievoëlstraat?” vra die eienaar met ‘n aksent. Hy is ‘n uitlander en ken seker ook nie die gebied nie. “I’m looking for Dassievoël street” probeer Boeta weer asof Engels-praat sal help. “Ek ken waar is Dassievoëlstraat…” Boeta kyk om. Hy het nie die oumatjie met die Yolo T-shirt en blou kappie op haar kop gesien nie. Sy’t rooierige sandals aan wat al deurgeloop is en die voetjies is asvaal. Daar is ‘n skerp walm wat om haar hang, dit laat Boeta sommer dink aan sy groot dors. Die oumatjie praat verder sonder om te wag vir ‘n reaksie. “Sien, jy as jy nou so af gaan met die straat neh, dan draai jy links af neh, dan ry jy reg af verby die katolieke kerk en die skool…” Die ouma balanseer ‘n soup pack en drie los aartappels tussen haar hande. “Straight verby die Juice den, jy gaan sien is die straat net na daai ene oorkant die flats, hulle het mos nou signs op gesit.” Boeta vra dat sy nog ‘n keer verduidelik…. Hy wil mos sê hy ruik Namakwa aan haar. Sodra hulle vir Charles opgespoor het gaan hy ‘n tavern soek. Boeta bedank die oumatjie vir haar help en stap uit. Buite kom ‘n stem uit die donkerte. “Awe Boeda, los ‘n two rand daar…” Van waar die gedaante vandaan gekom het,  weet Boeta nie. “Hey, voertsek man!” Boeta lig sy hand op en die dun twee rand-vraer koes. “Oaw Boeda…”

Boeta klim vies in die bakkie en verduidelik vir Johnny boy hoe om te ry. Hulle trek weg. In die lang straat ry hulle stadiger en Boeta rek sy nek by die venster uit om die bakens te sien. “Okay, ons is nou verby die skool dan moet die Juice den aan die linkerkant is…” “Ek sien geen Juice den” brom Andries. Boeta lag. “Wat kan jy tog sien met daai blou oog?” Rye flats staan aan die regterkant en toring in die donker nag. ‘n Paar mense is nog op straat en ‘n groepie staan by ‘n tuckshop, die hoeveelste een wat hulle al verby ry. “Hoeveel winkeltjies is daar in die plek dan, soe!” vra Jacob meer vir homself. “Is hieso, draai links Johnny boy.” Boeta is skoon opgewonde. Hy’t sy neef Charles jare laas nog gesien en vanaand gaan hulle weer suip tot sonop. Die hele nag. Die straat onthou hy goed, die huis is daar langs die ouma s’n wat so kan skel vir haar suurlemoenboom. Hulle ry verder af in die straat toe Boeta beduie dat Johnny boy moet stilhou. Die huis lyk bietjie anders en is nou half versteek agter ‘n groot wingerd. Dis omtrent bedrywig en die geraas van musiek en opgewonde stemme kom vanuit die huis. Die jaard lyk maar verwaarloos nes die mense wat so op en af. ‘n Man kom uit die jaard uit met twee leë bierbottels. Hy het ’n swart jacket aan wat by die mou afgeskeur is en ’n pirates cap wat skeef sit. “Awe ma se kind,” sê Boeta en loer by Andries se venster uit. Die man gaan staan en loer nuuskierig in die bakkie, eers voor by die drywer en passasierskant en toe na waar die stem vandaan gekom het. “Awe my laanie..Hoezit?” “Sho Sho. Daai bra Charles hy bly mos nog hier neh…” Die man frons diep soos hy dink. “Charles… Praat jy nou van marble oog Charles?” Boeta se tande glinster. “Ja, ja daai bra.” “Neh, daai man stolla mos nie weer hier nie kaow. Hy’s nou daar in Slangheuwel.”

“Slangheuwel?” vra die vier amper gelyk. Johnny boy begin lag. “This place has really weird names” Die skraal man raak sommer opgewonde. “Ek kan julle gaan wys waar is daai man se jaard. ‘n Man short reeds met ‘n vyf rand…” “Awe” sê Boeta ewe opgewonde. “Klim in dan wys jy ons.”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.