Die job. Episode 4. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Jacob het weer in die kar geklim en gesê iets het in sy oog gevlieg toe Johnny Boy sien hoe rooi sy oë was. Seker ‘n muggie of iets het hy gesê en stip voor hom gekyk.

Dit was pikdonker toe hulle stilhou by die tiep. Die stilte het soos ‘n dik kombers gehang en daar het ‘n ongemaklikheid geheers tussen die vier mans.

Die ander drie het vir Jacob gewag om iets te sê. Hy het steeds net voor hom gekyk oor die donker vlak en eers na ‘n hele lang ruk wat soos ‘n ewigheid gevoel het iets gesê.

Hy het stadig gepraat en sy woorde was swaar. “Ok, vanaand het dinge baie skeef geloop. Die ouma is dood. Ons moet ontslae raak van haar liggaam en dan maak dat ons wegkom.”

“Joh! ons het dan nog niks en…” probeer Boeta, die angs het sy stem laat kraak. “Ons begrawe die ouma en maak dat ons uit die blerrie plek uit kom!” Jacob se stem is kwaai en laat wip vir Johnny Boy van skrik. Stilte. Boeta klim uit en Andries wat nie ‘n woord geuiter het nie volg hom. Jacob kyk vir Johnny Boy wat lyk of hy enige tyd gaan huil. Hy klim uit en stap ‘n entjie weg. Die ander twee sukkel met die lyk. Boeta stry met Andries. “Hou die kop vas anders laat val jy die lyk, jong.”

Jacob staan en kyk toe. “Nie so nie…so man.” Hulle gaan die ouma so diep as wat hulle kan begrawe onder die vullishoop, sommer net so  toegedraai in die mat. Jacob kyk op na die halfmaan wat ook maar net-net ‘n dowwe lig gee teen die swart lug. Die sterre glinster asof hulle hom terg. “So the lady is dead…” Jacob kyk om, dis Johnny Boy. Hoe lank staan hy hier agter hom?”Look, I’m not going to ask what happened.” Johnny Boy kyk af en skop met sy skoen teen die grond. “The less I know the better but we should at least bury her somewhere else. She didn’t deserve to die. ” Johnny Boy is reg, die ouma was onskuldig, sy het dit nie verdien nie. Nie so nie! Andries is wreed, hy het geen genade in sy hart nie. Jacob se bloed begin kook. Hy draai om. “Jou blerrie hond! Is deur jou!” Hy bevlieg vir Andries wat verskrik opkyk met groot oë. Jacob duik hom plat en hulle rol op die grond, dis net rommel wat spat in alle rigtings.

Andries probeer om die houe wat op hom neerreën te keer maar dis tevergeefs, Jacob slaan hom orals waar ‘n slaanplek is. Hy is blind van woede, al die kwaad wat hy oor die jare opgebottel het slaan hy vanaand op Andries uit. “Stop it, stop it, you’re going to kill him!!” Johnny Boy probeer keer, maar Jacob stoot hom weg. Hy steier terug en val oor ‘n klip. Andries kry ‘n kans om na iets te gryp, ‘n klip, ‘n pyp. Niks. Jacob slaan hom weer met die vuis teen sy ken, die pyn is so erg dat sy oë begin traan. Hy gryp desperaat ‘n hand vol grond en gooi vir Jacob in die gesig. Hy stoot vir Jacob van hom af en seil weg soos ‘n slang. Jacob probeer nog die grond uit sy gesig kry. Hy is uitasem. Boeta help hom op. Johnny Boy wat al opgestaan het en nou op ‘n veilige afstand is begin te skreeu. “We can’t go on fighting like this, isn’t it enough that there’s already a dead lady… I don’t want to be part of this.” Jacob sug, die arme laaitie is onskuldig in hierdie hele bedrywigheid ingetrek. Johnny Boy draai na Andries en ondersoek hom. Sy neus is gebreek en sy oog is besig om op te swel. Hy spoeg bloed. “Jy blame vir my, hoekom het jy nie iets gedoen nie? Jy’t gesien hoe gaan daai ouma aan.” Hy sit regop en loer vir Jacob. Dit was simple. Al wat Andries moes doen, was om die ouma en oupa met die slaapmiddel in te spuit, dit was gemeng met muthi wat hulle se geheue sou aantas. Hulle sou die volgende dag wakker geskrik het met ‘n helse kopseer en niks van die inbraak onthou het. “Jy moes net die blerrie plan gevolg het man! ” skel Jacob terug.

“So wat gebeur nou?” vra Boeta. Jacob gee ‘n lang sug. “Ons kan nie die merchandise verkoop nie, want dis gelink aan die moord…” Boeta begin lag, dis ‘n diep lelike lag maar dis gevul met verdriet. “Kom Kimberley toe het hy gesê, klein dorp, min crime… die perfekte plek om geld te maak…kyk nou.” Hy stap na die lyk toe.

“Laaitie, bring die graaf en daai sak.” Jacob kyk na hom verbaas. “Wat gaan jy nou doen?” Boeta draai om. “Ek gaan al daai goed met die ou lady begrawe.”

Jacob het in die bakkie gaan sit en vir Boeta en Johnny Boy gelos om die ouma se lyk en die merchandise te begrawe. Andries het iewers in die donker nag verdwyn, seker om sy wonde te gaan lek dink Jacob. Hy kan sommer ook net daar vrek ok! Hier is hulle vanaand, platsak in ‘n dorp met ‘n job wat geflop het en moord op hulle hande. Wat ‘n nag! Johnny Boy onderbreek Jacob se gedagtes toe hy die grawe laai en inklim. Jacob kyk steeds stip voor hom. “Waar is Boeta?” vra hy na ‘n ruk. “He went looking for Andries.” Weer stilte. Johnny Boy raak kriewelrig en peuter later op sy cellphone. Die twee ander mans verskyn maar Andries bly meteens stil toe hy inklim en vermy Jacob se skerp kyk in die truspieël. Boeta klap sy deur hard toe so asof hy wil aankondig dat hy die laaste een is wat ingeklim het. “Where do we sleep tonight uncle?” Johnny Boy loer na sy oom. “I don’t know” Boeta fluister iets vir Andries wat koponderstebo sit. Hy brom iets terug. Na ‘n tydjie maak Boeta sy keel skoon. “My neef van my toppie se kant bly in die Pan. Ek was so vyf jaar nog daar gewees, ons kan mos by hom gaan blom…” Hy wag vir ‘n antwoord. “Your cousin lives where??” Johnny Boy draai sy kop. “Roodepan man. Roodepan.” Johnny Boy lag. “What kind of a place is called Rodepanne…” Dit was seker maar die manier hoe Johnny Boy Roodepan gesê het wat gemaak het dat Jacob begin lag. Hy wou nie maar toe die lag eers begin toe is dit moeilik om te keer. Hy lag dat sy maag skud. Johnny Boy, Boeta en selfs Andries wat half loer deur sy opgeswelde oog, sit eers verbaas en na Jacob kyk voor hulle amper gelyktydig uitbars van die lag. Boeta lag oopmond met sy geel tande, Andries trek sommer rooi, Johnny boy lag laat die trane rol en Jacob, die lag laat hy ruk. En sommer so onderdeur die gelag sê Jacob vir Boeta om directions te gee en stadig trek hulle daar weg op pad na Roodepan.

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.