Die job. Episode 3. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Die ouma lei hom tot in die sitkamer en hulle gaan sit. Sy oë rek. Dit is ‘n skatkamer, gevul met antieke meubels, ornamente en tot ‘n piano ook. Daar is ‘n jare oue almanak van 2013 teen die muur. Dit het foto’s van haar gesin op. Sy bied vir hom koffie aan en hy knik gretig. Die hond het snuffel-snuffel in die sitkamer gekom en wakend in die hoek gaan lê. Die oumatjie gesels omtrent. Vertel hom van haar jong dae en vra vir hom of hy mense ken wat hy nooit eens van gehoor het. Die ouma gaan sit op ‘n roomkleurige Lazy Boy oorkant hom. “Jammer dat ek so baie praat, ons kry nie sommer kuiergaste nie en dis lekker om iemand te hê…” Daar gaan sy alweer. Sy’s soos ‘n CD wat op replay gesit is. “Stoffel is by die munisipaliteit, daar is weer fout met ons rekening…” Hy val haar in die rede. “Ag, dis geen probleem. So dis net Tannie en die oom wat in die huis bly…” Sy sluk eers klaar haar tee en antwoord “Ja, die kleinkinders kom gewoonlik naweke kuier. My seun… “

“Is daar enigiemand anders wat ook hier bly, ‘n inslaap-bediende of so?”

“Oh,nee ons kan lankal nie meer dit bekostig nie. Mirriam kom net Woensdae help en my man werk maar self in die tuin.”

Andries kyk die horlosie teen die muur, dis al twaalfuur. “Dankie Tannie, dis al.” Hy staan op en trek sy hemp reg. “Oh, is ons al weer klaar. Dit was gou.” Die ouma lyk bietjie af. “Ja Tannie ons is klaar, dankie vir die tee.” Andries maak dat hy by die deur kom voor die ouma weer ‘n kans kry om sy ore af te praat. Hy groet weer haastig by die hek en haas vinnig bakkie toe.

Hy klim in. “Ouens..” sê hy met glinsterende oë. “Dis ‘n maklike job die, maar daai ouma gaan julle dood praat.” Hy lag.

Jacob kyk na die huis, die oumatjie het al ingegaan. Hy’t nog nooit ‘n inbraak gedoen nie, maar volgens Boeta se neef is dit baie maklik, veral hier in Kimberley. “Good job. Nou wag ons tot vanaand.”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.