Die job: Episode 2. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Jacob is al vroeg op en het ‘n entjie gaan stap.  Toe hy terugloop sien hy dat die ander nog slaap. Hy slaan hard op die bakkie se dak.

“Toe, toe!!” sê hy.

“Julle lê en vrek. Ons moet weg wees voor daai guard iets agterkom.” Boeta rek homself uit en vee die slaap uit sy gesig.

“Hey, Hey!” Hy stamp met sy skouer aan die bondel wat langs hom op die sitplek lê.

“Staan op jong.” Johnny Boy maak sy oë stadig oop en knip hulle weer vinnig toe die skerp sonlig sy oë steek. Dit voel of sy kop enige tyd gaan bars so erg pyn dit. Hy kreun. “My head hurts…”

“Ja is van drank laaik,” blaf Boeta en gluur hom aan. Hy’t nog nie vir Johnny Boy vergewe oor die glas rum wat hy gedrink het nie. Jacob klim in en start die enjin. “Ons moet weg wees en iewers breakfast kry.” “En iets vir die keel,” sê Boeta en lag oopmond. Sy eiergeel tande, die wat nog oor is, glinster in die vroeë oggendson. Die bakkie trek stadig weg in ‘n verskillende rigting vanwaar die wag die vorige nag verdwyn het.

Gumede rek hom uit. Hyt saggies uit die bed geklim om nie vir Naledi wakker te maak nie. Sy slaap nog vas. Hy staan en kyk hoe sy slaap. Haar bolip bewe effens soos sy saggies snork. Hy glimlag. Sy stry omtrent af as hy terg oor haar gesnork. Hy frons skielik. Hulle huwelik is op die rotse, ‘n paar weke terug het sy sommer net verander. Dis asof sy iemand anders geword het. Hulle het een aand gaan uiteet. Sy ma het na die kinders gekyk en hulle was by Lionel se restaurant soos altyd. Hy het gesmul aan sy kos, maar dis toe hy opkyk en sien sy staar lusteloos na hom. Nie eens die snaakse storie wat hy haar altyd mee kon laat lag het haar interesseer nie. Sy’t net daar gesit en na hom gekyk, vir die hoeveelste keer op haar selfoon getik en na ‘n lang sug gevra dat hulle moes loop. Net so. Hulle was weg sonder om eens nagereg te eet. Lionel wou nog weet wat fout was. Gumede het verskoning gemaak en gesê sy voel nie lekker nie, maar dat dit nie die was kos nie.

Van daai aand af het dinge net slegter geword, dis asof hulle vreemdelinge is wat in een bed slaap, onder een dak bly, maar verby mekaar leef.

Sy lyk so rustig nou. Gumede sug en trek sy uniform aan. Dis Maandagmôre weer ‘n mal dag by die kantoor….

“Die plan is simple. Andries is die scout, want hulle gaan hom makliker vertrou, Johnny Boy is die drywer. Ek en Boeta is versterking. Verstaan.”

“Okey dokey” sê Andries. “Waar is ons anyways” “Die is South Ridge, dis ‘n stil plek, ons gaan lekker werk.”

“Daai huis daar” wys Jacob en ry tot by die groenerige huis met die rooi dak en hou stil. Dit het ‘n groot grasperk voor en ‘n visdam naby ‘n paar boompies. Geen tralies, die vensters het wel burglar bars, maar verder as dit is daar geen ander sekuriteit. “Andries, onthou los die phone.” “Of course, I’m a professional” sê Andries in ’n Engelse aksent en klim uit. Hy loop tot by die hekkie en roep. Dis omtrent elfuur en die son sit al hoog. ‘n Mens sal nooit sê dit was so koud gisteraand nie, dink hy. Die gordyne roer. Hy roep weer. ‘n Klein witkop-vroutjie verskyn op die stoep met ‘n hond. Dis ‘n boerboel en sy sukkel om hom in toom te hou. Andries sluk. Hy’t nie dit verwag nie. “Goeiemôre” sê hy in sy vriendelikste stem. “My naam Hendrik, ek is van die staatsdiens vir ‘n sensusopname.”

Die oumatjie raas met die hond. Sy’s seker in haar sewentigerjare. “Môre jong, jy’s wie van waar?” vra sy. Andries antwoord met dieselfde breë glimlag op sy gesig. Die ouma loer na die bakkie. “Daai is die drywer Mevrou” sê hy vinnig. “Ons het bietjie laat begin, maar ek sal nie lank wees nie.” Die ouma praat weer met die hond wat rustiger raak. “Ek moet sê Kimberley is ‘n mooi plek. Ek is eintlik van Griekwastad,  my eerste keer hier…” Die ouma se oë kry lewe. “Ken jy die Le Roux’s” vra sy ewe opgewonde. Andries dink vinnig. “Oh ja, ek onthou hulle het ‘n groot plaas…” Die ouma kyk hom deursigtig. Andries hou sy asem op. Dammit! Ek het seker nou geflop dink hy. Wat nou? Die ouma skud haar kop. “Nee, nee jy het seker maar net gehoor van hulle.” Sy lag. “Sien, ek praat nou van toeterjare terug…” Sy hou meteens op praat so asof sy skielik iets onthou het. “Haai, hoe onbeskof van my. Ek nooi jou skaars in.” Net wat Andries wou hoor. Die oumatjie is omtrent opgewonde en sukkel so bietjie met die slot, haar dun knopvingertjies vleg deur die bos sleutels. Hy help met ‘n glimlag. Voor hy agter die ouma in die huis verdwyn, kyk hy terug en wys vir Jacob met die duim.

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.