‘n Verskrikte haas spring verward uit die pad van die skerp aankomende lig van ‘n blou Toyota Hilux. Die grys haas verdwyn tussen die lang gras in. Die bakkie vlieg oor die pad. Vier mans sit in die bakkie, hulle gesigte is half versteek in die donker van die nag. ‘n Lang skraal blanke man met ‘n punt neus sit aan die passasierskant.
“Hey, ek het vir jou en Johnny Boy gesê los my sigarette.” Hy steek sy sigaret aan en vat ‘n lang trek.
“Nou is hier net drie oor,” sê hy nors en blaas ‘n rookwolk.
“Hey, maak daai venster oop man dammit!” sê Jacob diep vererg onderdeur ‘n lang hoes. Hy is die oudste en is die leier van die groep.
“Jy weet ek laaik nie die rook nie.”
“Ja, maar jy kon vir hom gesê het.” Die blanke ou draai die venster af en blaas rookkringe uit by die venster. Hy sidder vir die skerp koue lug wat inkom.
“Shut, up Andries. Kyk daar is Kimberley se liggies.”
‘n Skewe smile verskyn op Andries se gesig.
“Hey, julle staan op, hier is ons in die promised land. Ons gaan nou verby die airport,” sê Jacob en wys met sy vinger aan die linkerkant.
“Sê Boeta moet opstaan, hy ken mos die plek.” Boeta se neef het ‘n maand terug vir hulle oorreed om Kimberley toe te kom. Dis ‘n goudmyn daai, het hy gesê. Kimberley is ‘n lekker stil plek en met die dat dit ook so moeilik gaan in Johannesburg vandat die stad nog meer polisie deploy het is dit glad nie maklik om te werk nie. Jacob het die middag toe die nuus oor die radio uitgesaai was omtrent gevloek. Hoe moet ‘n small time crook soos hy dan survive? Hy is wel ‘n rower, maar hy maak nie mense seer nie, nee dit doen hy glad nie. Alhoewel nou en dan moet hy ander mense wat bietjie taai is oorreed met ‘n paar kopklappe. Vir André en Boeta het hy ontmoet die dag toe hy met ‘n vet BEE tipe man vasgesit het vir sy laptop. Die man het vir lewe en dood vasgeklou aan die ding. Jacob het geskrik toe hy die twee van nêrens sien verskyn en het gedink hulle kom die ou help. Boeta het die man plat gehardloop en André het sy selfoon gegryp. Hulle het saam weggehardloop en later ‘n hele entjie weg onder ‘n groot bessieboom uitgebars van die lag. Van daai dag af werk hulle saam.
Boeta, ‘n breë lig van kleur man wat sy jas oor sy kop getrek het, knip sy oë en loer vanuit sy warm jas. Hy gaap sonder om sy hand voor sy mond te hou.
“Jiss! Maar julle kan nou raas jong.” Boeta sit regop.
“Wat is dit?” Hy sit en knip nog sy oë en kyk rond.
“Hey, ons is hier in die Y,” sê Jacob ewe in sy skik.
“Jy moet my sê waar draai ons af.”
Andries, wat lankal sy sigaret gedip het, sit half skuins sodat hy vir Boeta kan sien.
“Ons moet slaapplek kry jong.”
“By die mall,’ sê Boeta en gaap weer.
“By die mall?” vra Andries verbaas.
“Ja, dis veilig en is beter as om in die oopte te gaan staan, ons kan more ‘n plek soek jong.” “Ja, ek is moeg bestuur. Ons kan môre ‘n cheap plek soek,” voeg Jacob by.
Hulle ry tot by die mall, Jacob gaan hou stil by die leë parkeerterrein. ‘n Security guard wat die ligte gesien het, stap nuuskierig nader toe hy die bakkie sien stilhou. Watter dief kom die tyd van die nag inbreek, dink hy by homself. Andries lyk geskrik
“Hier kom iemand.”
“Bly stil, ek gaan met hom deal.”
Die guard stap nader en groet al met die aankom.
“Sawubona.”
Hy loer in die bakkie. Boeta maak of hy slaap en loer skelmpies.
“Sawubona” groet Jacob terug. Hy verneem die man is ‘n Zoeloe en vra of daar fout is. Nee, sê die guard maar hy wil graag weet wat hulle daar doen. Jacob wat lankal gesien het daar is bouwerk aan die gang by die mall antwoord vinnig.
“Ons is kontrakteurs” sê Jacob terug in Zoeloe. “Ons is van Bloemfontein. Die kleinbaas is moeg” sê hy en wys vir Andries wat grinnik soos ‘n brakhondjie.
“Hy het gedink dit sal nie ‘n probleem wees as ons sommer vanaand hier by die site slaap nie.” Die wag lyk eers bietjie onseker maar hy is nie nou lus om nog langer in die koue te staan nie.
“Is ok” sê hy in sy Engels en knik vir André. Hy groet en loop weg. Hy verdwyn weer terug in die donkerte van waar hy gekom het.
“Daai was te maklik” sê Boeta en lag, hy sit regop. Jacob begin lag ook.
“Ek het julle gesê, Kimberley is gevrek.”
“Goudmyn” sê Andries en steek nog ‘n sigaret aan.
“Jinne die laaitie tiep nog, ek het julle gesê moenie vir hom van die rum gee nie.” Andries frons.
“Hy is nou ‘n man” sê Jacob onderdeur die lag en loer in die truspieëltjie. Thabo of Johnny Boy soos Andries hom gedoop het is Jacob se broer se oudste seun. Sy broer het hom twee jaar terug na Jacob toe gestuur om werk te soek in die groot stad. Hy is slim en het matriek maar die laaitie sit al van daai tyd af sonder werk. Toe Jacob besluit om Kimberley toe te kom moes hy sy vrou soebat om vir Johnny Boy te kyk maar sy wou nie.
“Hoe verwag jy moet ek nog ‘n papvreter voorsien as jy out countries is,” het sy volgehou. Jacob het toe besluit om hom maar saam te bring.
“Is van dinge laaik” sê Boeta vererg en lyk sommer suur. Ek kon eerder daai glas gedrink het, dink hy by homself en staar verlangend by die venster uit.
“Wel ouens, ons slaap hier vanaand, môre val ons in,” sê Jacob en maak sy keel skoon.
Met die woorde draai elkeen vir hom op sy mees gemaklike manier en probeer om aan die slaap te raak. Miskien hier staan ‘n man ‘n kans om ‘n lewe te maak dink Jacob. Buite versier die sterre die koue donker nag met flikkerende liggies en onder deur die gesnork van Andries sing ‘n kriek ‘n liefdeslied vir sy maat…
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



