Andries het na ‘n gesukkel vir die huishulp gesê wat sy moes doen wanneer mevrou Vorster tuis kom en indien sy nie, wurg hy haar weer. Haar naam is Joyce en sy werk al drie jaar vir die Vorsters. Sy weet niks van ‘n kluis nie, maar het later gesê sy dink sy’t eendag toe sy skoonmaak in hulle kamer een gesien. Andries het die plan aan almal verduidelik en vir Joyce gesê om haar deel baie goed te speel.
Hulle het hul plekke net in tyd ingeneem toe Mevrou Vorster die hek oopmaak en die erf binnery.
Sy klim uit die kar en groet vir Joyce wat glad vandag vanaf die sitkamervenster vir haar staan en waai.
Die sekuriteitshek is oop.
Mevrou Vorster is dadelik ontsteld. Hoeveel keer moet sy vir Joyce vra om die sekuriteitshek toe te hou vir Bruno want hulle het nog nie die groot hek aangepas sodat hy nie deur kan kruip nie?
Sy stap sommer vies die huis in en roep vir Joyce…
Boeta, wat reg agter die deur staan en wag het, gryp die klein blondekop vrou en druk haar mond toe. Sy probeer skreeu en skop om los te kom, maar Boeta tel haar soos niks op.
“Hey shut up!!” beveel Jacob wat uit die kamer verskyn met Andries wat weer vir Joyce vasgemaak het.
“Luister nou baie mooi Mevroutjie en moenie eers probeer lieg nie, want julle het ‘n safe. Wat is die kode?” Mevrou Vorster kyk na Joyce met groot, verskrikte oë.
“Sorry Mevrou, hulle het gesê hulle gaan my doodmaak…” Sy bly stil. Jacob draai na Andries.
“Raak ontslae van daai ene.” Andries haal die naald uit sy sak uit en toe Joyce dit sien, skreeu sy, maar Andries druk die naald in haar nek en laat haar soos ‘n lappop op die vloer neersak. Mevrou Vorster, wat dink Joyce is dood, raak meteens mal. Sy skop en trap behoorlik om uit Boeta se sterk greep los te breek.
“Ek vra nog een keer… wat is die kode?” Met trane wat loop, knik sy haar kop om te wys sy is gereed om vir hulle die kode te gee. Boeta gee haar kans om te praat.
“8…23…45…8” sê sy huiwerig.
“Moet my nie doodmaak nie asseblief…” Boeta smoor haar woorde met sy groot hand wat weer om haar mond vou. Andries gaan na die hoofslaapkamer en vind die kluis presies waar Joyce gesê het dit sal wees.
“Maak haar vas,” sê Jacob vir Boeta.
“Ons gaan uiteindelik die job klaar kry en niemand het darem seergekry nie,” sê hy en gaan sit op ‘n stoel.
“Ons moet roer, die man kom 6uur terug,” sê Boeta terwyl hy seker maak mevrou Vorster se tou is styf genoeg.
“Uncle, why are you guys taking so long?” Jacob skrik vir Johnny boy wat skielik in die deur verskyn het. Hy is meteens woedend en vlieg op.
“What the hell are you doing here? You’re supposed to wait in the car!!“ Johnny boy vries waar hy staan.
“Uncle, I thought something might have happened when I saw the lady entering…”
“No, Johnny boy, No. I told you…” Jacob bly skielik stil. Iets koud en hard druk diep in sy rug.
“Kom, kom Oupa beweeg en gou.” Andries druk die rewolwer se neus nog harder teen Jacob se rug.
“Andries… Wat gaan nou aan?!” vra Jacob verbaas.
“Hey shut up en sit dat Boeta jou vasmaak.” Hy gooi ‘n tou na Boeta toe wat dit amper mis vang.
“Andries what are you doing?“ vra Johnny boy, maar Andries gee hom ‘n dwarsklap dat hy teen die sofa val en sy wang vashou.
“Jy’s hoeka te voorbarig, vandag sit ek vir jou op jou plek.” Andries het ‘n rugsak oor sy skouer.
“Andries, ek verstaan nie wat gaan aan nie, is ons dan nie veronderstel om saam te werk nie jong? Ek bedoel hoe is dit dan nou?” Boeta lyk heel af toe hy dit vra.
“Hey, is jy vergeet die oupa wou ons net daar los in Roodepan met niks? Vandag los ons vir hom.” Hy draai na Jacob toe en pronk op en af.
“Ek is nou in beheer, hoor jy my. By die tyd as die polisie jou kom haal, dan is ons lankal ver. Jy sien Jacob, ek isi so dom soos wat jy dink ek isi. Die ouma se moord gaan op jou hande wees, ek vat jou laaitie saam. Ek is seker jy wil tog nie hê hy moet tronk toe gaan nie of hoe?” Andries lag, dis ‘n lelike diep lag wat Jacob nog nooit vantevore gehoor het nie. Boeta probeer al die hele tyd sy oë vermy.
“Ek het jou vertrou…” sê Jacob”…rêrig gedink jy is nie die monster wat ek gedink jy is nie, maar jy is!”
“Was ek ‘n monster, dan het ek jou sommer net hier vrek geskiet Jacob,maar ek isi. Ek gee jou ‘n kans om tronk toe te gaan.”
Jacob ruk homself op.
“Jy is siek in jou kop en ek wens ek het dit vroeër gesien. Boeta jy moet…”
“LOS VIR BOETA UIT!!” skreeu Andries. Boeta draai na Andries.
“Andries, ek dink nie ons kan vir Jacob net so los nie man, dis nie reg nie.” Andries lag weer. “Luister hier, is jy aan my kant of sy kant? Praat laat ek weet of ek jou ook moet los.” Boeta kyk na Jacob.
“Sorry Jacob.” sê hy en kyk af. Andries lag weer.
“Wel, is tyd om koebaai te sê. Boeta, spuit daai vrou dat ons waai.” Maar Boeta kry nie kans om dit te doen nie, want die volgende oomblik hoor hy ‘n harde slag en sien net splinters wat spat. Johnny boy het vir Andries van agter af geslaan met ‘n hout toel. Andries lê uit soos ‘n kers. Johnny boy gaan om sy oom los te maak en sukkel met die tou wat styf om sy oom se hande vasgemaak is. Toe hy uiteindelik sy oom los het, kom hulle agter dat Andries en Boeta spoorloos verdwyn het met die rugsak en die rewolwer.
“Uncle, they’re gone…”
“It’s okay, we have to leave now.” Jacob tel die naald op wat Andries laat val het en spuit vir mevrou Vorster in wat probeer wegrol. Jacob en Johnny boy maak dat hulle wegkom en kry die bakkie nog ‘n entjie af in die straat waar Johnny boy dit parkeer het.
Andries het vir Jacob verraai. Hy en Boeta is weg met al die geld.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



