Die job. Episode 20 (slot). Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Dit voel vir kaptein Gumede of sy hart in ‘n duisend stukkies gebreek is. Hy’t op pad huis toe ‘n groot bos rose en ‘n bottel van Naledi se gunstelingwyn gekoop. Daar was niemand by die huis nie. Naledi en die kinders was weg. Die klere kaste leeg. Hy het probeer bel, maar haar foon was af en ‘n SMS het later deurgekom dat hulle by haar suster se huis is.

“Don’t try to come here. I have nothing to say,” het haar boodskap gewaarsku. Nou staan Gumede in die een plek waar hy troos kan vind…

“Kom Boeta.”

“Jong, my been pla my nou, moenie so vinnig draf nie.”

Dis al amper donker en Andries en Boeta het te voet gevlug en het besluit om te hike Bloemfontein toe en daar vanaf af huis toe te gaan.

“Jinne ‘n man is nou dors,” hyg Boeta en gaan staan. Hy wys na ‘n bar oorkant die straat. “Heerlikheid!! Boeta, jy met jou gesuipery! Kom laat ek sommer ‘n pak sigarette kry”…

Gumede het net omgedraai met die bottel in sy hand toe hy die twee gewaar wat rof in die bar inkom. ‘n Groot dik bruin man en ‘n lang skraal blanke met ‘n punt neus. Altwee uitasem en natgesweet.

“Wat kyk jy?” vra die blanke een vir Gumede onbeskof.

“Los die man Andries,” keer die bruine. Gumede, wat nie uniform aan het nie, staan en verkyk hom aan die parmantige blanke man en toe sien hy iets agterdogtig.

Die blanke man koop ‘n pakkie sigarette en ‘n bottel brandy wat die bruine sommer gryp en oopmaak, maar toe hy moes betaal, haal hy geld uit ‘n rugsak uit en tel dit af. Honderd rand note. Toe eers tref dit vir Gumede. Die winkeleienaar van Roodepan het ve’oggend verklaar dat twee mans, ‘n blanke en ‘n kleurling, vir hom aangeval en beroof het…

Dis hulle! Gumede se hartseer verander in woede. Hy haal vinnig sy selfoon uit sy sak en stuur vir Van Rooyen wat in die bakkie vir hom wag ‘n whatsapp- boodskap.

…RADIO BACKUP. TWO CULPRITS IN BAR, GET READY FOR ARREST WHEN THEY EXIT…

Hy druk die send knoppie net toe die twee uitstap. Gumede volg hulle met sy geweer op hulle gerig. Buite klim Van Rooyen net in tyd uit die bakkie…

“FREEZE AND PUT YOUR HANDS UP. YOU ARE UNDER ARREST.”

Jacob en Johnny boy ry om op dieselfde pad te kom as toe hulle die eerste keer Kimberley binnegery het. Met ‘n tank wat naby empty lê en R150 gaan hulle probeer om so ver moontlik te kom en daarvandaan na Johannesburg.

“I’m sorry for having dragged you into this mess boy,” sê Jacob en hou sy oë op die pad. “It’s okay uncle.” Jacob kyk vir die eerste keer na Johnny boy vandat hulle van die Vorsters se huis af weggery het .

“No. I didn’t mean for this to happen, I shouldn’t have brought you along. I almost ruined your future, but don’t worry, I’ll get us out of here.”

“Uncle, look!”

Reg voor hulle flikker blou ligte.

“No…” sê Jacob ontsteld en verminder spoed, maar die polisieman het hulle al gesien en beduie dat hy moet aftrek.

“Boy, promise me one thing. When I stop and get out. You will run and you won’t stop until you’re home. Promise me you will go back to school.”

“But uncle…”

“Take this money, get a hike. Go!”

Jacob hou stil en klim dadelik uit. Johnny boy sit nog paniekerig in die bakkie.

“Good night Sir, is there a problem?” vra Jacob met ‘n nervous smile en stap nader.

“Stay where you are!” Die polisieman is kwaai. Daar is nog een op die radio besig in die polisiebakkie. “But Sir, I just want to know what’s wrong.” Die polisieman rus sy hand op sy geweer.

“I SAID STAND BACK AND PUT YOUR HANDS UP”

Jacob maak sy oë toe en skep diep asem en tel. Toe hy by die drie kom, bevlieg hy die polisieman.

‘n Harde skoot gaan af.

Johnny boy skrik. Hy gryp sy sak, spring uit die bakkie en hardloop.

Jacob sak inmekaar en net voor sy oë toegaan, sien hy hoedat Johnny Boy in die donker van die nag verdwyn…

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.