In Monument Heights het hulle ‘n groot huis met ‘n groter erf uitgekies en stil gehou waar die huishulp besig was om die stoep te vee. ‘n Jack Russell speel op die stoep by die vroutjie se voete.
Andries het voorgestel dat hulle dieselfde tegniek gebruik as by die oumense. Hy’t uitgeklim met ‘n boek en pen en baie belangrik gestap na die huis.
Van die hek af het hy al gegroet en vir die huishulp gewys om nader te kom. Sy’t eers mooi na hom gekyk en die groot hek met die remote oopgemaak. Andries stap tot waar sy is op die stoep veilig agter die tralies.
“Helo” groet sy en bêre die besem teen die muur. Die hond ruik deur die tralies vir Andries en gaan kou aan die besem. “Goeiemiddag,” groet Andries baie formeel.
“Ek is van die staatsdiens…”
“Die watte?” Die vroutjie draai haar kop.
“Die uhm government. We are doing a sensus…”
“Ek ken Afrikaans, ek ken netie daai woord nie,” kap sy terug.
“Nou wat maak die sensus?” vra sy nuuskierig.
“Ons is tans besig met ‘n opname van al die mense in die land en…”
“Hoeee Meneer. Jy moet maar later terugkom jong. Mevrou het gaan kuier en meneer Vorster is nog by die werk…”
“Ag, julle is die laaste huis wat ons nog moet doen, kan ek solank vir jou interview en sommer wag tot die mevrou terugkom…?”
Die vroutjie loer onseker na die bakkie. Sy kyk weer na hom. Andries forseer ‘n glimlag. Sy trek skielik haar gesig.
“Maar jy’t dan skaars ‘n badge…”
“‘n Wat…? “vra Andries heel onkant gevang.
“‘n Badge! Hoe weet ek jy werk rêrig vir die government.” Nou lyk die vroutjie heel agterdogtig.
“Ek uhm…” probeer Andries die situasie red. “My badge is in die bakkie, dit het seker afgeval, kan ons maar net solank…”
“Nee Meneer, ek dink jy moet maar kom wanneer Mevrou en Meneer hulle altwee terug is.” Andries raak ongeduldig en kyk vinnig om. Hy sien die straat is stil. “Kyk self hier in die boek…” hy wys kamma met sy vinger om haar aandag te trek en net toe sy loer, gryp Andries haar deur die tralies om haar nek.
“Maak oop of ek wurg jou vrek!”
Die vrou se oë peul uit hulle kaste, sy probeer skreeu, maar niks kom uit haar mond wat vergeefs oop en toe gaan.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



