Vuil vloere en geen seep by hospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die RMS-hospitaal in Kimberley is weer in die kollig nadat pasiënte begin kla het omdat daar nie handeseep is nie. Dit volg nadat verpleegkundiges vroeër die week dié hospitaal tot stilstand gebring het, sê die DA.

Andrew Louw, DA-provinsiale leier, sê dit is onaanvaarbaar vir ’n tersiêre hospitaal, wat ’n aantal chirurgiese prosedures per dag uitvoer, om in hierdie posisie te beland.

Uitstaande betaling moontlik die oorsaak, sê DA

Die DA vermoed die probleem lê by die departement wat versuim het om hulle verskaffers te betaal.

Daar is slegs twee redes wat dit kan verduidelik, sê Louw. Die departement is of bankrot of die verkrygingprosedures word steeds deur die provinsiale hoofkantoor beheer, verduidelik hy.

Huidige toestand van gesondheidsorg bewys teen nasionalisering

Louw sê dit vereis dadelik die aandag van Mase Manopole, LUR vir gesondheid in die Noord-Kaap. 

Hy sê die huidige toestand van gesondheidsorg in die land is bewys waarom die nasionalisering van gesondheidsorg nie gaan werk nie. Die DA doen ‘n beroep op die regering om die Sizani-gesondheidsorgplan te gebruik.

Toestand van hospitaal afgryslik, sê Louw

“Die feit dat paraplegiese badkamers en operasionele teaters sonder handeseep is, is afgryslik. Teen hierdie tempo lyk dit of die hospitaal meer daarin belangstel om mense siek te maak as om hulle te genees. Die feit dat daar vuil kolle op die trappe is, is ook skokkend. Hospitale moet skoon en kiemvry wees. Mens kan net wonder watter soort kieme broei daar uit,” sê Louw.

Lulu Mxexo, woordvoerder vir die gesondheidsdepartement, sê die hospitaal het vooraad van die handeseep. “Daar is nie ’n tekort nie,” sê sy.