Vrou slaan vermeende rower in middestad

Foto: The Citizen

KIMBERLEY. – Monique Auton McDillon, ’n Kimberley-inwoner, staan vir geen rower terug nie.

Sy is vroeër die week amper in Georgestraat, oorkant Vermeulens, beroof. “Ek het aan die passasierskant van die motor gesit met my handsak op my skoot. My venster was op ’n skrefie oop. Ek het ’n onbekende man, wat na die motor op pad was, in die truspieëltjie sien aankom.

“Op daardie oomblik het hy sy hand by die venster in forseer en die venster nog ’n entjie verder afgedruk. Ek het sy hand gegryp en vir die bestuurder gesê om te ry. Ek het steeds aan hom geklou soos ons weggetrek het. Hy het my hand gegryp en my hand by die venster uitgetrek. My elmboog het tydens die voorval seergekry, so toe laat gaan ek hom.”

Agter hom aangehardloop

Monique sê toe hulle stilhou, het sy uit die motor gespring en agter die onbekende man aangehardloop. “Ek het hom gevolg tot voor Absa-bank, waar drie mans op hom gewag het. Ek het hom voor sy bors gegryp toe hy ’n mes uithaal en voor hy dit kon oopmaak, het ek dit uit sy hand geklap. Hy het gebuk om dit op te tel toe ek hom met my vuis slaan.”

Sy vertel hoe hy haar met die mes probeer steek het voor hy weer weggehardloop het. “Ek het agter hom probeer aanhardloop, maar toe gryp ’n man met ’n gestreepte hemp my en veroorsaak dat ek val.”

Soektog

“Ek het terug in die motor geklim en gaan kyk of ons hom weer kan opspoor. Ons het hom naby Scorebet gekry en hom weer deur die middedorp gejaag, maar het hom by die Roodepan-taxistaanplek verloor.”

Sy en haar kollega het die ander onbekende mans voor Woolworths, in Longstraat, gekry, maar hulle wou nie vir haar enige inligting oor die man gee nie. “Dit was duidelik hulle ken die man. Ek het toe die foto van die mans geneem.

Almal is slagoffers

“Ek wil nie sê net vrouens is slagoffers nie, maar vrouens en ons ouer gemeenskap is definitief kwesbaarder vir sulke voorvalle.

Sy sê wat haar die meeste ontstel het, is dat niemand bereid was om te help nie. “Polisievoertuie asook baie ander mense het verby my gery. Hulle kon sien ’n vrou jaag ’n man in die straat af, maar niemand het gestop om enige hulp aan te bied nie.”

Ontsteld

Sy sê sy is gelukkig en het niks in die voorval verloor nie, omdat sy vinnig opgetree het. “Ek het die voorval, met die foto’s, op Facebook geplaas. Mense het in die kommentaar gesê die mans is na bewering vrygelaat. Die regstelsel faal ons deur toe te laat dat hierdie mans weer op straat is. Dit is nie in my natuur om mense seer te maak nie, maar dit is in hulle s’n. Kimberley gaan op ’n manier moet saamstaan teen hierdie tipe voorvalle. Dit is ons dorp waar ons kinders moet grootword.”

1 thought on “Vrou slaan vermeende rower in middestad

  1. I know the one in the stripe t-shirt his too used to getting away with crime he broke into my car in 2017 he was pointed out by one lady but nothing happened till today there’s no justice in south Africa i get so angry when i see these fools these criminals

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: