Zama-zamas slaan toe op veld in Dalhamweg

Deel hierdie storie / Share this story

KLISSERVILLE – ’n Groep kleinskaalmyners het vanoggend op ’n oop veld, in Dalhamweg, Kimberley, waar studentebehuising beplan word, toegesak.

Lede van ’n sekuriteitsmaatskappy het ’n aantal lede van die groep konfronteer en met ’n leier van die groep gesels. ’n Handvol myners het reeds vir diamante begin prospekteer.

Pontsho Mocwana, woordvoerder van die kleinskaalmynersvereniging in die Noord-Kaap, het bevestig dat die groep kleinskaalmyners nie deel is van die vereniging nie. Die vereniging het nog nie onderhandelinge met die premier afgehandel nie. Mocwana sê hulle het geen instruksies aan lede gegee om in Dalhamweg of elders in nuwe gebiede te myn nie.

Thoko Riet, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê die munisipaliteit was nie daarvan bewus dat kleinskaalmyners die grond onwettig beset het nie. Riet sê die munisipaliteit se regsafdeling gaan om ’n interdik aansoek doen om die onwettige besetting van munisipale eiendom en mynbedrywighede daar teen te staan.

Die munisipaliteit het op Maandag 11 Februarie 2019 ’n kennisgewing uitgereik waarin die munisipaliteit bevestig om erf 2715 en ’n gedeelte van erf 1178 in Dalhamweg in Klisserville aan mnre. NC Millenium Property Developers & Suppliers (Pty) Ltd vir die oprigting van studentebehuising beskikbaar te stel.

*FiND iT het omstreeks 12:30 dáár verby gery en kon geen teken van die kleinskaalmyners gewaar nie.