Juan van Rensburg (36) het gisteraand weer met FiND iT gesels oor die uitdagings wat hom in die gesig staar, asook die opwinding wat wag.
Verlange
Hy sê die laaste paar dae voel hy af, omdat hy meer tyd het om te dink aan al waar hy is en hoekom hy daar is. “Die verlange aan my gesin is ook baie meer die week. By Noupoort was hulle baie streng gewees en alles was soveel anders as by die CIARA-rehabilitasiesentrum, so daar was nooit rerig tyd om te dink en te tob nie. Ek het nou baie meer vryheid en alles is baie gemakliker hier, maar dit gee my meer tyd om te dink.
Ek raak soms geïrriteerd met die mense rondom my, maar wanneer ek so voel, gaan gym ek bietjie.” Hy sê hulle word geleer hoe om op die regte manier hierdie gevoelens te verwerk. Hy sê ook hy fokus op die hier en nou en dink nie te veel aan die hoeveelheid tyd wat oor is nie. “Dit voel soos net nou die dag wat ek hier aangekom het vir fase 2, maar dit is ook al agt weke gelede, so die tyd gaan baie vinnig verby.”
Nuwe opwinding
Juan vertel oor die nuwe uitreikings-program waarvan hy nou deel is. “Die program se naam is U-CAN, wat staan vir United Christians Against Narcotics. Dit behels dat ons na laerskole en hoërskole gaan en met die leerders praat oor wat dwelms aan mens doen.”
“Ek het verlede week my eerste uitreik gehad. Ek het ’n hele toespraak voorberei, maar toe ek voor al daardie laerskool kinders staan het ek heeltemal vergeet wat ek wou sê.” Hy sê hy het toe uit ondervinding met die leerders gepraat. “Daar is sowat 500 of 600 leerders wat voor jou sit en nou moet jy vir hulle vertel wat jy aangevang het. Ek voel baie skaam, maar dalk kan ek twee of drie van daardie kinders help om nie dieselfde foute te maak nie.
Positief uit die negatief maak
“Mens moet altyd probeer positiewe goed uit die negatiewe maak en dit is wat ek probeer doen. Hierdie program is baie positief en ek sien uit om dit weer te doen. Ons gaan volgende week na twee skole toe waar ons dan ook met hoërskool kinders moet gesels.”
Selfoon
Juan het ook so twee weke gelede sy eie selfoon gekry, maar het verkies om een te kry wat net die basics kan doen. “Ek kan nou meer oproepe ontvang en kan SMS’e stuur. Ek moet wel elke aand 20:00 my foon inhandig en kry dit eers teen 08:30 die volgende oggend terug.”



