Episode 19: Tyd om terug te baklei.
Andrew is moeg toe hulle uiteindelik by antie Bettie se huis kom. Die ligte is aan en die hekkie is soos gewoonlik wawyd oop.
Hy en Linden draf tot by die voordeur.
Stemme in die huis is hoorbaar van buite. Die mense binne lag en dit klink of hulle ‘n goeie tyd binne het.
Andrew klop met al sy mag aan die deur.
Dit raak stil en toe.
“Wies daa?”
Dis antie Bettie se stem.
Andrew klop weer en die deur gaan oop. Bettie verskyn en kyk na hom en toe na Linden.
“En nou boy? As julle so lyk…”
“Ons soek koeldrank,” sê Linden met ‘n ernstige gesig en snuif. Sy trane is droog.
“My liewe mens. Wat het gebeur?”
Mavis verskyn agter Bettie en kyk bekommerd na Andrew en Linden.
“Antie Koekies,” sê Linden met ‘n groot glimlag, hy’t skoon vergeet dat hy tydjie terug gehuil het asof sy lewe daarvan afhang.
“Kom in. Kom in,” sê Bettie en maak die deur wyer oop.
“Kom sit hierso, antie Bettie gaan vir julle lekker koeldrank maak…” Bettie draai om en verdwyn in die kombuis op soek na glase en die aanmaakkoeldrank.
Mavis verwyder drie half vol wynglase sodat die kinders nie sien nie en gaan sit langs hulle. Sy sit haar hand om Linden en probeer hom troos.
“Ag toe maar, Antie se kinders, moenie huil nie neh…”
Boeboe verskyn vanaf die badkamer.
“And then?” vra sy verbaas en kyk na die twee jong gaste.
Bettie kom uit die kombuis met twee glase vol koeldrank.
“Ai jinne, ek weetie wat het hulle so ontstel nie.”
Sy gee dit vir Andrew en Linden en wag eers dat hulle genoeg gedrink het.
“Sê vir ons wat is fout,” moedig sy vir Andrew aan.
André het vir Lena bespring toe die tafel nie meer tussen hulle was nie. Sy het probeer kamer toe hardloop, maar hy’t haar aan haar hare gegryp en teruggesleep kombuis toe.
“Eina André! EINA!”
“JA JY WIL MOS NIE HOOR NIE!”
André sit bo-op Lena en wurg haar.
Sy hande trek al hoe stywer om haar nek.
Sy probeer skreeu, maar net ‘n roggel-geluid verlaat haar mond. Haar oë skiet vol trane van al die pyn.
André kyk na haar met boosheid in sy donker oë.
Lena sukkel om asem te haal. Sy kners op haar tande en probeer haarself loskry uit André se sterk greep, maar hy sit met sy hele gewig op haar.
Sy kry ‘n idee en druk haar wysvinger in André se oog.
“Eina jou heks,” skreeu hy.
Toe hy haar los en sy oog vashou, gryp Lena die kans om weg te kom. Sy skop hom van haar af en rol weg.
Hy probeer haar gryp, maar sy’s rats en rol weg.
Lena staan op. André sit nog op die vloer en hou sy gesig vas. Sy kyk lank na hom, draai om en gaan na die deur. Haar keel is seer en André se handmerke kleef teen haar nek.
Sy’s klaar met André. Sy gaan hom los en ‘n interdik teen hom maak. Dan gaan sy van hom skei.
“Ek gaan jou kry dan gaan ek jou vrek maak,” roep André van die kombuis af.
Lena se hand huiwer aan die deur se handvatsel.
‘Ek gaan jou vrek maak…’ herhaal André se woorde in haar kop.
Lena los die handvatsel en draai om. Sy stap terug kombuis toe. André kyk op en loer vir Lena deur sy hande. Sy oog is rooi.
“Jy. Jy gaan sien.”
Lena buk en tel die pan op.
“Jy’s pateties,” sê sy en swaai die pan. Dit tref vir André teen sy kop met ‘n harde twang. André val skuins teen die vloer.
‘n Skokgevoel gaan deur Lena se liggaam. Sy het nog nooit in al die jare vir André teruggeslaan nie en meteens voel sy sterk.
Lena kom nader.
Hy kyk geskok op na haar.
“Hey, wat wat maak jy?” Hy hou sy kop vas waar die pan hom getref het.
“Ek slaan al die liefde wat jy my gegee het terug!” Lena lig die pan hoog op.
André se oë rek.
“Hey, jy gaan my nie slaan nie!”
Twang!
“Eina!” die pan tref sy hand.
Lena lig weer die pan op.
André rol vinnig om en kruip agteruit.
“Hey! Hey Lena, wat maak jy? Is jy mal?”
“Ja!” sê Lena en lig weer die pan.
André se donker oë is vol vrees.
Hy soek vir ‘n wegkomplek, maar Lena staan tussen hom en die sitkamer. Die wolf is nou soos ‘n lammer wat vrees vir sy lewe.
“Kom julle, tog, die bloed. Ai jinne.” Bettie het nie eers ordentlike skoene aan gaan trek nie.
Sy staan in haar slippers by die hek.
Haar senuwees is op. Lena is in gevaar en die arme kindertjies is bang. Sy het vir hulle brood gesmeer en laat hulle met haar kinders speel.
Mavis en Boeboe sukkel om deur te kom by die polisie.
Bettie besluit om solank vooruit te hardloop.
Wat besiel vir André om vir Lena weer te slaan? Die Satan!
Bettie hardloop so vinnig as wat sy kan. Haar asem begin jaag en haar keel brand. Die sweet tap haar af, maar sy hardloop.
‘Die rubbish,’ dink sy. ‘Vanaand sal hy sien. Aan Bettie Jansen se vriendin word nie meer geslaan nie.’
Bettie kom by die huis uit en sien dis donker.
“Ai Here, laat dit nie te laat is nie, asseblief,” smeek sy.
Bettie gooi die hek oop en hardloop na die voordeur. Sy neem die vier trappies met twee treë.
“Einaaaa!” kom ‘n gil van binne.
Bettie maak haar oë toe en stamp die voordeur oop. Die houtdeur waai oop en slaan teen die muur met ‘n harde slag.
Die pyn skiet deur Bettie se skouer. Sy’s uitasem.
“Lena?”
In die donker kan sy twee figure uitmaak. Een lê en die ander een staan regop.
“Ai jinne, my siel…” huil Bettie. Sy’s te laat.
“Vriendin…”
Bettie verstel haar oë in die donker en kyk in die rigting van die twee figure.
“Lena…. Is jy orite?”
Bettie stap stadig en onseker nader.
Toe sien sy iets wat haar mond heeltemal laat oop hang.
“Lena… vriendin…” sê sy.
Lena staan met ‘n swart bloedbevlekte pan in haar hand en André lê op die vloer. Sy gesig is vol knoppe en sy lip bloei.
“Die vrou wil my doodmaak,” sê André. Hy kyk smekend na Bettie.
Bettie gaan reguit na Lena en vat die pan by haar.
“Vriendin, wat het gebeur hierso? “
Bettie sit die pan op die skewe tafel neer. Lena skep diep asem. Haar hare is deurmekaar en haar blouse is geskeur.
“Ek is klaar met André…” Sy draai na Bettie.
“Vriendin, kan jy my vergewe asseblief. Ek het nie bedoel…”
‘n Glimlag trek om Bettie se mondhoeke.
“Wat is daar om te vergewe? Jy’s my sister.”
Lena onthou van Andrew en Linden.
“Andrew, Linden waar is…”
“Moenie worry nie. Hulle het geëet en speel lekker met mynes,” troos Bettie.
‘n Voertuig hou skielik buite stil met skreeuende bande. Rooi en blou flikkerende ligte is sigbaar en ‘n vrouestem kom van buite.
“Daar binne. Hy slaan haar weer…”
Die geluid van voetstappe wat klink soos stewels word duideliker en toe…
“Halo…is die polisie. Is daar iemand binne?” Die dik stem trek deur die stil huis.
Bettie gee ‘n sug van verligting.
“Hulle maak my dood,” roep André in pyn uit.
Twee breëbors figure verskyn. Kaptein Van Rooyen en Konstabel Van Tonder.
“What the hell is going on here?” vra Van Rooyen.
Lena wys na André.
“Vra vir hom, Meneer.”
Van Tonder kyk na André wat terugloer met sy opgeswelde oë.
“Wie het nou vir wie aangerand?” Van Tonder kyk vraend na Lena.
Lena kyk terug na Van Tonder.
“Ek weet nou nie van aanranding nie Meneer, maar ek het die liefde ingeslaan.”
Sy draai na Van Rooyen.
“Sir, I’d like to get a restraining order against that man…”
Van Tonder help vir André op en boei hom.
“Meneer, kyk hoe het die vrou my geslaan…”
“Shut up,” sê Van Tonder vererg.
“Eina Meneer,” kla André.
“Ja van kan vroumense slaan. Kom!”
Van Tonder stoot vir André uit.
“I’m putting this one in the van so long,” sê hy vir Van Rooyen met die verbygaan.
André trap vas en kyk om na Lena.
“Skat, asseblief tog, moenie laat hulle my gaan toesluit nie, asseblief tog…”
Lena reageer nie. Sy staar na André en sê niks.
“Kom. Kom lafaard, jy’t jou kans gehad om te verander,” sê Van Tonder kwaai en stoot vir André uit by die deur.
Van Rooyen rig sy aandag aan Lena.
“Ma’m, you can get the restraining order tomorrow and maybe… tonight you can even think it over if you are unsure…”
Bettie kyk na Lena.
“Is jy seker vriendin?”
Lena knik haar kop.
“Ja. Baie seker,” sê sy.
“Sir, there is nothing to think over. I want a restraining order and a case against him for abuse.”
Boeboe en Mavis bondel by die deur in.
“Lena!” roep Mavis uitasem.
“Kind! Jy’t die regte besluit geneem. Genoeg is genoeg, laat hy gaan.”
Boeboe kom ook nader.
“Ek is so bly die polisie het betyds gekom…”
“Ja, die arme siel was amper pap geslaan,” sê Bettie sarkasties.
“Jinne Lena,” sê Mavis.
“Ek het nie geweet so dun dress soos jy het soveel krag in jou nie.”
“Sy moes hom lankal gefoeter het met daai pan,” voeg Bettie by en vou haar arms.
Boeboe sit haar hand op Lena se skouer.
“Wat gaan nou gebeur Lena?”
Lena kyk na Bettie en glimlag.
“Wel, ek het my beste vriendin en my twee kinders. Volgende week gaan ek terug werk toe en dan begin ek van voor af. Sonder André.”
“Hey. Moenie vir ons vergeet nie,” sê Mavis.
“Ons is deel van jou familie.”
Buitekant drom die straat se mense laggend om die polisiebakkie om mooi na die man te kyk wat smeek om vrygelaat te word. ‘n Ouer man stap stywenek verby. Hy weet wie sit agter in die bakkie. Hy laat sak sy kop in skaamte. Die bakkie trek weg en die skare draai om en gaan uitmekaar. Oud en jonk wat nog in hulle slaapklere is, babbel opgewonde oor die aand se gebeure. ‘n Dik vroutjie kom haastig om die draai gehardloop, maar is gans te laat vir die drama. ‘n Skraal vrou met ‘n pienk gown spring haar voor.
“Hey, Chomma, ek het alles gesien. Ek was self daa,” sê sy uitspattig en sit haar arm om haar vriendin se skouer.
“Kom, laat ek jou die hele storie vertel…”
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie (teks, illustrasies) mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



