Episode 18: Die swart pan.
Andrew tel sy jonger boetie op en help hom deur die venster. Andrew hart se klop woes, maar hy wil nie toegee dat hy bang is nie. Hy haat dit wanneer Sy ouers stry, maar hy moet nou nie begin huil soos sy boetie nie. Hy moet sy mammie se groot, sterk seuntjie wees. Sy derra het alweer gedrink. Hy haat dit wanneer sy derra drink, want dan praat hy baie en ruik sy asem na stink drank.
“Moenie valie, Linden…”
Linden hoor nie, want hy huil nou eers verskriklik.
Toe Linden veilig deur die venster en buite is. klim Andrew ook deur. Sy voet haak vas by die burglar bars, maar hy wikkel dit los en sak af tot op die grond.
“Ekke soek vir Mammie…” huil Linden aanhoudend.
“Kom,” sê Andrew kortaf en trek vir Linden aan die hand.
“Ons moet by antie Bettie gaan…”
Andrew dink daaraan om eerder by die vriendelike antie oorkant die straat te gaan. Miskien gaan sy vir hulle lekker beskuitjies gee. Dan kan sy kom help en met sy pa praat om ophou sy mammie te skel en te vloek.
“Kom,” sê Andrew weer en trek vir Linden oor die pad.
Die hek is toe.
“Antie!” roep Andrew.
Hy ken nie rêrig die antie nie, maar hy groet altyd wanneer hy van die skool af kom en een middag toe sy mammie nog nie by die huis was nie het die antie hom oorgenooi en koekies gegee. Van daai dag af het hy en Linden altyd oorkant toe gegaan wanneer sy daar was en Linden noem haar antie Koekies.
“ANTIE!”
Linden huil nou nog harder asof dit sal help.
“Bly stil of antie Koekies gaan ons nie bescuits gee nie,” dreig Andrew.
Linden kyk vir ‘n oomblik verbaas na sy ouer broer en na die huis. Dis asof hy nie agtergekom het waar hulle is nie.
Hy begin sag te te huil, maar vee tog sy trane en snot af.
Andrew vat die binnekant van sy T-shirt en vee sy boetie se gesig mooi skoon af. Hy trek sy gesig vir al die snot.
“ANTIE!” roep hy weer, maar daar is geen antwoord nie. Die sitkamerlig is aan, maar dit lyk of daar niemand is nie.
Moedeloos draai hy na Linden.
“Kom, miskien slaap antie Koekies al…”
Dit lyk of Linden weer gaan begin huil.
“Ons gaan koeldrank drink by antie Bettie.”
André se oë is kwaai. Hy kyk lank na Lena voor hy praat.
“Ek gaan jou op jou plek sit vroumens, jy sit te lank op my kop.”
“Ek wag dit,” skreeu Lena terug.
André weet as Lena hom kan bykom met die pan, dan sal sy hom kan seer maak.
Hy stoot die tafel na haar toe. Sy kry nie kans om weg te spring nie en dit stamp haar in die maag.
“EINA!” gil Sy. Die pan val uit haar hande op die vloer met ’n harde klang-geluid.
André trek die tafel terug en stoot dit weer met meer mag na haar toe. Lena probeer keer en dit maak haar hand seer. Haar naels breek af.
André ruk die tafel weg.
“Jy’s vrek vanaand, jy.”
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie (teks, illustrasies) mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



