Lena se lot: Episode 17. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

“Episode 17: Die wolf

“Ice cream” herhaal André in ‘n yskoue stem. 

Hy grinnik en kyk na Lena. 

“So jy maak wee soos wat jy wil neh.” Hy dreig vir Lena met sy vet wysvinger. 

“Kom saam Derra…”

André ignoreer vir Linden en kom staan tussen Lena en die kinders soos ‘n wolf wat sy prooi vastrek. Hy stink ene brandy. 

“As jy wil loop, loop, maar jy los my kinders.”

Die woorde laat skrik vir Lena. Sy kan nie haar twee seuns agter los nie. Nie met hom nie. Nee. 

“Ek vat my kinders saam,” sê sy en ‘n traan begin rol langs haar wang af. 

André draai om na Andrew. 

“Gaan kamer toe,” beveel hy. 

“Nee!” gil Lena. 

Sy stoot vir André uit die pad. Hy steier skuins en val amper oor die tafel. 

Lena gryp Andrew se hand en trek hom na haar toe. Linden begin huil. Sy strek haar hand uit na hom. 

“Kom Mammie se engel…”

Linden treë agteruit. 

“Ekke wili wee saamgaan nie…”

“Kom toe, asseblief Mammie se groot seun…” smeek Lena. Hulle moet wegkom en gou ook. Vanaand lyk dit of die wolf hulle almal gaan opvreet.  

Lena sit haar arm om Linden en draai om na die deur. 

“Ek het gesê daar word nêrens gegaan vanaand!” 

André staan reg voor die sitkamerdeur. Hy blokkeer hulle se enigste uitgang. Die agterdeur het hulle met ‘n slot gesluit nadat dit gebreek het en Satan self het die enigste sleutel. 

Lena stoot die kinders sodat hulle veilig agter haar staan. 

“André. Asseblief, ek het nie lus vir stry nie.”

“Stry… wie stry?”

“André, gee pad.” 

“Jy is my vrou en ek sê jy gaan nêrens.”

“Jou vrou…” herhaal Lena. 

Dis hoe dit begin het en sy het nie eers besef wat André bedoel het nie. 

‘Jy is my vrou en gaan maak soos ek sê.’ Die eerste keer toe hy haar geklap het, het hy dit gesê: ‘Jy is my vrou…’ Dis nie liefde nie. Jy kan nie lief wees vir iemand en haar dan mishandel of misbruik nie. Liefde word nie ingeslaan of afforseer nie. Liefde is een van die sterkste emosies wat jy kan ervaar en Lena se liefde was so groot dat sy blind geword het. 

“Ja… ek het jou getrou en dit maak my jou vrou, maar ek is nie jou besitting nie, André.”

Lena se stem is hoog en kwaai. 

“Ek het jou bygestaan na jy jou werk verloor het. Ek het jou bygestaan toe dinge sleg gaan. Alles gedoen wat enige goeie vrou moet, maar jy…”

Lena kyk na André. Hy is nie meer dieselfde man wie sy getrou het nie. Hy is ’n vreemdeling. 

“Jy is ‘n slegte man.”

Die woorde tref vir André hard en vir ‘n oomblik lyk hy hartseer… 

Sy oë blits met woede. 

“Slegte man?” sê hy geskok. 

“Ek gaan jou wys.”

Hy leen vorentoe en klap, maar Lena het haarself lankal voorberei en sy koes. Dis mis. 

“Kom hierso.”

“Laat jy my kan slaan. Nee. Nie weer nie.”

Lena draai na Andrew. 

“Andrew, vat vir Linden en klim deur Ma se slaapkamervenster dan gaan julle by Antie…”

Lena huiwer vir ‘n oomblik.

Sal sy na vandag nog vir haar wil help? Nadat Lena haar so sleg behandel het…

“…gaan by antie Bettie. Mammie kom.”

Op haar woorde gryp Andrew sy kleiner broer en hardloop. 

Die klap agter Lena kop laat haar vorentoe steier en op haar knieë val.

“Eina!” 

“Jy leer nou glad die kinders om deur vensters te klim neh? Vanaand gaan ek jou ‘n ding wys.”

Lena staan op en draai na André. 

“Nee. Jy gaan my nie weer slaan nie.”

“Ek gaan jou wys,” sê André en skop na haar, maar sy spring in tyd weg en vlug kombuis toe. Hy agtervolg haar. 

Lena hardloop om die tafel en gryp die swart pan teen die muur. André briek. Hy kyk haar aan met groot oë. 

“Wat dink jy doen jy?”

Lena hou die pan voor haar uit. 

“Ek baklei terug!”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie (teks, illustrasies) mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.