Lizelle de Kock (36) is ’n ywerige besigheidsvrou, vrou vir haar man, Mark, en ma vir haar drie dogtertjies. Sy is ook een van die vroue agter Corporate Image South Africa, wat volgende week ’n spesiale ontbyt vir vroue in besigheid aanbied.
Lizelle beskryf haarself as ’n gewone mens wat haar talente en gawes wil gebruik om vroue te bemagtig. “Ek wil vroue aanmoedig om te wees wie hulle gemaak is om te wees en nie wie die wêreld sê hulle moet wees nie.”
Jana Grobbelaar, redakteur van FiND iT, het met Lizelle gepraat oor mode-neigings, kreatiwiteit en hoe sy mooi voel.
Hoekom die belangstelling in mode?
“Ek hou van kreatief wees en raak gou moeg vir iets. Die mode verander gedurig en gee my genoeg ruimte om kreatief te wees.”
Wat van mode is vir jou belangrik?
“Die mode-neigings sorg dat jy altyd relevant bly wat weer sorg dat jy altyd invloed het in die wêreld rondom jou. Dis vir my belangrik dat vrouens aantrek volgens die mode, maar wat by hulle pas en hulle sterk punte beklemtoon. Dit help nie jy dra ’n leopard print as dit sleg teen jou velkleur lyk of die snit nie volgens jou liggaamsbou is nie. Daar is maniere om dit reg te dra sodat jou beste voorkoms beklemtoon word.”
Het jy al botox, lashes ens. laat doen en wat dink jy kan ’n “hupstoot” vir jou doen?
“Ja, ek glo bv. dat grimering die beste ding nog is, want jy kan soveel beter oor jouself voel deur dit reg aan te wend dat dit jou natuurlike skoonheid enhance. Net so glo ek dat botox, lashes, ens. die beste van jou na vore kan bring. Groot pluspunt is dat lashes jou baie tyd bespaar in die oggend deurdat jy nie lae op lae maskara hoef aan te sit nie! 🙂 Ek dink nie daar is iets wat jou ’n beter hupstoot kan gee as ’n nuwe haarstyl, vars grimering en ’n mooi outfit nie. Jy voel beter as jy beter lyk, dis ’n feit!”
Wat voel jy is mooi?
“Natuurlik help dit nie om modelmooi te wees, maar jou persoonlikheid en hart is lelik nie. Jou skoonheid straal van binne – geen grimering kan dit toesmeer nie. Op die ou einde raak mense lief vir jou vir wie jy is, nie vir hoe jy lyk nie. So skoonheid van binne is wat regtig mooi is, buite is net tydelik.”
Hoe belangrik is dit vir jou om iemand anders – spesifiek ander vroue – mooi te laat voel?
“Elke vrou wil mooi voel en voel dat sy iemand anders se tyd werd is. Almal het dieselfde vraag: ‘Is ek goed genoeg? Is ek belangrik?’ Ons is ons ergste kritici en daarom is dit vir my so belangrik om by vrouens uit te kom wat nodig het om hulself weer te vind. Almal het skoonheid, my werk is om haar te help om dit te ontdek.”
Waarmee dink jy sukkel vroue vandag met betrekking tot selfvertroue?
“In die verlede het vrouens dalk selfbewus gevoel met hul gewig of die manier hoe hulle lyk wanneer hulle in ander mense se geselskap gekom het of wanneer hulle na ’n funksie toe gegaan het. Dit was beter om te hanteer, want hulle was net nou en dan gekonfronteer. Deesdae word elke vrou 24/7 gekonfronteer deur middel van sosiale media. Waar sy nou en dan ‘uit plek’ uit gevoel het wanneer sy by ’n funksie was, voel sy nou permanent ‘uit plek’ en nie goed genoeg nie, want deur die hele dag sien sy hoe mooi ‘ander vrouens’ lyk op Instagram en Facebook. Die waarheid is meeste vrouens sit filters op of staan op ’n sekere manier sodat die foto perfek lyk. Dis nie wat sy sien nie en ook nie wat sy hoor in haar hart nie. Sy hoor net dat sy nooit so sal lyk nie of nooit die mas sal opkom nie. Dit veroorsaak dat sy diëte en oefenprogramme, mode-style en ‘maniere’ volg wat sy nooit veronderstel was om te volg nie. Ek is mal oor die quote: ‘If you want to be someone truly amazing, be yourself’.”
Hoe voel jy op jou beste?
“Wanneer ek uitgevat is vir ’n funksie.”
Hoekom is die uitrusting in die foto jou gunsteling?
“Ek is mal oor kant, want dit laat mens altyd sagter vertoon en is vroulik. Swart lyk altyd deftig. Plus hierdie hoë snit van die broek laat mens se bene langer lyk.”
Wat moet elke vrou in haar kas hê?
“Goeie kwaliteit swart of grys baadjie, afhangende van haar ‘kleurprofiel’, wit of af-wit bloes en swart of grys lang broek van uitstekende kwaliteit. Of dit nou vir besigheid is of vir kerk, jy het altyd nodig om iewers professioneel of deftig te lyk vir die dag.”
Waar kan ons lesers jou op Facebook en Instagram volg?
Instagram: @lizelledekock
Facebook: @aboutlizelledekock



