Lena se lot: Episode 16. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Episode 16:

Die dag toe André sy werk verloor het, was dit die begin van al haar hartseer. Lena het probeer om hom te help soek vir werk, maar hy wou nie en het homself eerder bejammer. Hy’t sy vriende afgeskryf en Bettie se man bevriend. André het eers net naweke gedrink, maar later het hy enige tyd wanneer hy geld gehad het gedrink en wanneer Lena gepraat het, het sy woorde gekry of ‘n klap.

Lena kyk vir ‘n lang oomblik na André. Hy snork alreeds. Lena is nog steeds lief vir hom, maar hy is nie meer die man op wie sy verlief geraak het nie. Lena draai na die klerekas en haal ‘n stel klere uit, gryp die klein tas langs die kas en pak ‘n paar toiletware ook in. In die donker soek sy na haar selfoon, maar kry dit nie. Vandat sy in die hospitaal was, het André dit gehou, Sy het dit toegelaat, want sy moes rus kry, maar nou nodig sy dit. Lena kyk na hom en sug. Sy verlaat die kamer en gaan na haar twee seuns. By hulle kamerdeur hou sy stil en kyk na haar twee seuns. Hulle het van al die gespeel aan die slaap geraak. 

Sy maak eers vir Andrew wakker, toe vir Linden, hulle is nog altwee deur die slaap. 

“Kom Mammie se engels. Ons gaan Ouma toe.”

Linden vryf sy oë en loer vir Lena. 

“Ekke wili nou Oumie toe gaan nie.”

 “Oumie gaan julle lekker ice cream gee…” 

Lena glimlag en draai na die hangkas om klere vir Andrew en Linden te kry. 

“Hoekom moet ons Ouma toe gaan?” vra Andrew en gaap. 

Lena soek na ‘n rede anders as om vir die kind te sê dat hulle pa weer met sy nonsens begin. 

“Ouma wil nie haar ice cream alleen eet nie, dis te veel.” 

Linden is sommer opgewonde en begin vir Lena help om klere in te pak. 

“Kom ons moet vir Ouma gaan help,” sê hy vir sy ouer broer. 

Andrew frons en gee vir Lena ‘n agterdogtige kyk, maar sê niks verder. 

Lena zip die sak toe. 

“So ja…” sê sy. 

“Kom ons gaan, Ma se engeltjies.”

Lena los vir Andrew dat hy hulle sak dra. 

Sy loop voor en die tweetjies volg haar deur die donker huis. Die kers in die kombuis is al uitgebrand en die reuk hang steeds in die lug. 

By die sitkamer verminder Lena haar spoed om nie in iets vas te loop nie. 

Sy weet nie rêrig wat haar plan is nie, maar op die oomblik voel sy om vir eers net weg van die huis af te kom. Weg van André en sy gedrinkery. 

Lena strek haar hand uit na die deur se vatsel. “En wantoe gaan ons?”

Lena vries en maak haar oë toe. 

Dis André se stem. Sy draai en sien hy sit op die sofa in die donker sitkamer. Die straatlig skyn flou in by die sitkamervenster en val oor sy gesig. Hyt ‘n half vol glas in sy een hand en die trek op sy gesig laat Lena sidder. 

André staan op. 

“Ek sê… wantoe gaan ons?” Sy stem is nou meer dreigend. 

Linden spring opgewonde na sy pa en sê met ‘n groot glimlag:

“Kom saam Deddy, ons gaan Oumie toe vir ice cream.”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie (teks, illustrasies) mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.