Episode 15:
Lena is briesend. Wat dink die man dan?
Die eerste dag toe André sy werk verloor het, het hy op dieselfde manier reageer. Hy’t dronk van die tavern af gekom en toe sy hom konfronteer, toe slaan hy haar. Dit was per ongeluk. Hy’t dit nie bedoel nie en het verskoning gevra en sy het hom vergewe.
Vanaand kom hy dronk huis toe, die kinders het nie geëet nie en die TV het voete gekry…
‘Nee. Dit kan ek nie toelaat nie.’
Lena agtervolg vir André wat alreeds in die kamer besig is om uit te trek.
Sy gaan by die deur staan. Ver genoeg dat sy kan wegspring as hy handgemeen wil raak.
“André. Waar is die TV?” vra sy kwaai.
“Die TV is by die repairs man,” antwoord hy kort-af en gooi sy hemp oor die spieëlkas.
“ANDRÉ!”
“Wat isit dêmmit?“
Lena en André staar vir ‘n lang ruk na mekaar.
“Die TV is by Cash Crusaders,” sê André uiteindelik en breek die stilte.
Lena draai haar kop en probeer om dit wat sy nou net gehoor het te proses.
Die TV is by Cash Crusaders…
Haar kop begin te draai en sy voel meteens duiselig.
“André, wat maak die TV daarso?”
André skop sy skoene uit.
“Moet my nie nonsens vra nie.”
Lena stap nader.
“Hey André, wat gaan aan?”
André kyk vir Lena met wilde oë.
“Jy wil weet wat gaan aan.”
“Ja,” sê sy en vou haar arms.
“Ek werk nie meer nie, ok. Daai blerrie vark het ons se kontrakte somme geëindig, want die kontrakteur het weggehardloop met die geld…”
André twyfel om nog iets te sê, maar bly stil.
Die wildheid in sy oë verdwyn.
“Daai het ons net R500 gegee en daai was laas week…”
André se stem is sag en sy oë begin blink.
Lena soek na woorde.
“…maar kan julle nie die man gaan aankla nie…”
André snork.
“Gmph! Jy ken nog niks…” Hy draai en gooi homself op die bed neer om te slaap.
“Daa is R2 000 in my baadjie se sak… ek sou die brood gaan koop het.”
André maak homself toe met die kombers en maak sy oë toe.
Vir ’n lang tyd weet Lena nie wat om te sê of te doen nie. Sy kry meteens vir André baie jammer. Toe hy nog gewerk het by Eskom was dinge baie anders en hy was baie anders. Toe André huis koop in Roodepan het hy haar belowe dat hulle net tydelik hier sou bly totdat hy ‘n ander huis kry in Homestead, maar dit het nooit gebeur en Lena dink nog altyd dis omdat sy familie in Roodepan bly. Na twee jaar het Lena vrede gemaak met Roodepan en by daai tyd het sy in elk geval vir Bettie ontmoet. André het altyd probeer om op te maak daarvoor. Soms het hy haar verras met juwele en andere kere met romantiese etes. Een middag toe sy by die huis kom, staan daar ‘n splinternuwe sitkamerstel en die grootskerm-televisie.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies], mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



