Episode 14: Lena se lot
Lena het vir ‘n lang tyd by die venster gestaan en loer nog lank nadat Bettie al geloop het. Sy het gesien hoedat Bettie oorkant die pad geloop het na Boeboe-hulle se huis. Sy wou so baie graag haar vriendin roep en vra om nie te loop nie, om vir haar te sê dat sy dit nie bedoel het om so lelik te wees nie.
Maar Lena het net daar gestaan by die slaapkamervenster en deur die gordyn geloer.
Toe Bettie in Boeboe se huis verdwyn, het Lena omgedraai.
André het verander, troos sy haarself. Vandat sy in die hospitaal was, het hy agter haar en die kinders gekyk. Hy’t selfs ‘n kontrakwerk gekry en doen aansoek vir ‘n vaste werk. Sy het haar gunstelingboek op die bedkassie gegryp en in die bed geklim. Toe probeer sy haar bes om die storie op te volg om haarself te verloor in ‘n ander wêreld en ‘n karakter te word waar niemand haar ken en sy nie hoef hartseer te wees nie. Maar sy was hartseer, want haar vriendskap met haar beste, nee haar enigste vriendin, het gebreek.
Lena sukkel om haar plek te vind en die woorde in die boek begin swem. Skielik vorm twee nat, donker kolle agter mekaar op die bladsy. Sy probeer keer, maar nog kolle vorm en Lena begin te ruk van die huil.
BOOM!
Vloekwoorde volg.
Lena skrik wakker.
Sy probeer fokus. Die kamer is pikdonker en sy knip haar oë om uit te maak waar sy is. Hoe laat is dit?
‘n Stem brom iewers in die huis.
Wie kan dit wees?
André se kant van die bed is leeg.
Lena kom orent en sit regop. Sy moes haarself aan die slaap gehuil het. Haar gesig voel hard en droog van al die trane. Sy vryf haar oë uit en staan op.
Sy trek haar slippers aan en sluip stadig na die deur. Sy hoor ‘n vuurhoutjie wat aan die brand gesteek word en ‘n dowwe liggie flikker skielik vanuit die sitkamer.
‘n Lang skaduwee speel oor die kombuismuur. Die skaduwee word kleiner en ‘n mansfiguur verskyn. Dis André en hy is duidelik gedrink.
“André… en as jy nou so lyk?”
André reageer nie en brom verder. Hy klink ontsteld.
“Hoe laat is dit? Het die kinders geëet?”
André draai om en hap na Lena.
“Is ekke die vrou in die huis?“
Hy leun terug teen die sink en in sy een hand hou hy ‘n glas met bruin vloeistof.
“Ja, ek is seke die vrou, want ek kook en skrop mos nou.”
Lena probeer die stry wat sy sien kom, vermy.
“Kom ek gaan kyk gou slaap die kinders…”
Sy draai om en gaan na die kinders se slaapkamer en hoor hoedat André brom.
Die kinders is nog wakker en is besig om te speel.
‘n Glimlag trek om Lena se mondhoeke. Dis al egte geluk wat sy nog het.
“Het julle al iets geëet?” vra sy besorg.
Haar oudste, Andrew, kyk om en skud sy kop.
“Derra het gesê as hy kom, gaan hy brood kom maak.”
“Kom, laat Mammie die brood vir julle gaan maak. Kom, dan kyk julle solank TV.”
Andrew kyk haar aan met groot oë.
“Mammie, Derra het die TV gevat.”
Lena frons.
“Gevat?”
Andrew knik.
“Ja Mammie.”
Lena draai om en marsjeer na die sitkamer toe. André staan en wieg nog in die kombuis.
Toe sy in die sitkamer kom, val haar mond oop. Waar die televisie eens op ‘n stadium gestaan het op die houtkassie is nou net ‘n leemte.
Lena knip haar oë in ongeloof, so asof die televisie enige tyd gaan verskyn.
Niks.
Dis weg.
Wat sou André dan nou met die televisie gemaak het? Is dit foutief of gebreek?
Hy’t haar niks laat weet nie.
Lena stap kombuis toe. André is besig om sy leë glas vol te maak.
“André, is die TV breek?“
Geen antwoord.
“André waar is die TV?”
André draai om en gaan sit by die tafel.
“Die TV is breek,” sê hy sonder om op te kyk.
Lena vou haar hande.
“Nou hoekom het jy my nie gesê nie?”
André lek sy lippe af en kyk reguit na Lena. Die kerslig speel oor sy gesig. Hy lyk anders.
“Ek sê mos die TV is breek!”
Lena vererg haarself.
“Jy is gedrink en die arme kinders het nie eers geëet nie…”
“Van wanne af praat jy so met my?” André staan stadig op.
“Ek. Ek sê maar net André en nou is die TV…”
André slaan sy glas hard neer op die tafel dat van die drank uitspat.
“Ek sê mos die donnerse ding is breek.” Hy gluur na Lena.
Sy wil so graag iets sê, maar bly stil en gaan na die broodblik.
Dus ieeg.
Sy draai na die yskas.
Daar is ’n halwe stuk polony, ‘n botterbak, een eier, ‘n bottel water en ‘n ui in.
Lena draai na André.
“André, jy’t gesê jy gaan groceries koop…”
“Ek het mos.”
Nou raak Lena eers opgewonde.
“Die yskas is leeg!”
Sy kyk na André.
“Daar is nie brood nie en jy suip jou geld uit!”
“Hey. Jy kan vir die kinders van die vis maak.”
Lena verloor haarself.
“Blikkies vis met wat, ha! Jy’t vemiddag met blikkies vis en baked beans hier aangekom, moet die kinders dit eet?”
André antwoord nie. Hy gluur haar net aan, sluk die laaste bietjie alkohol en sit die glas in die sink. Hy vee sy mond af en stap sonder ‘n woord verder uit die kombuis slaapkamer toe.
“André! Wat het jy met die TV gemaak! André!!“
Lena skreeu al hoe harder, maar hy reageer nie.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



