Episode 13: Bettie se hartseer
Die deur klap toe, maar Bettie bly staan op die stoep. Sy kan haarself nie kry om om te draai en weg te loop nie. ‘n Traan dreig om te kom en toe sy die oë knip, loop dit teen haar wang af. Bettie byt op haar onderlip om die huil te keer. Die laaste keer toe sy so gebroke was, was toe haar moeder afgesterf het en Lena het haar bygestaan. Vandag het haar beste vriendin wat soos ‘n suster was, toegelaat dat André haar soos ‘n hond wegjaag.
Soos ‘n hond.
Bettie sluk die bitter woorde af en ’n knop vorm in haar keel.
Sy kyk op na die hemele. Vir ‘n antwoord… vir genade…
“Here, ek was my hande in onskuld,” sê sy saggies en draai om.
“Hoeeee jinne! Ek glo dit nie…” Boeboe klap haar hande, staan soos ‘n winkelpop met haar hande in haar sye gesteek.
Mavis roer die tee vinniger en skud haar kop in ongeloof.
“Ek is nou rêrig af, Bettie.”
Bettie sit arms gevou by die kombuistafel. Haar oë is rooi gehuil.
Sy snuif vir die hoeveelste keer en blaas haar neus met die sakdoek wat Mavuso haar gegee het om te hou.
“Ek het nog nooit so iets verwag nie. Nie van Lena af nie…”
Bettie skud haar kop.
“Sies. Is daai André wat so vuil winde in haar kop pomp.” Boeboe maak ‘n klapgeluid met haar tong en trek haar gesig.
Mavis sit die laaste koppie tee op die skinkbord en rangskik nog ‘n handvol beskuitjies op die bord. Sy draai en plaas die skinker op die tafel neer.
“Ek het lankal gesê daai vrou hou daarvan om so getimmer te word.” Sy gaan sit oorkant Bettie.
“Kom Bettie, eet van die bescuits en drink tee. Jy sal beter voel.”
Bettie snuif, maar neem tog van die beskuitjies.
Dis die lekkerste beskuitjies wat sy nog ooit geproe het. Bettie se oë kry lig. Sy neem ’n slukkie van die tee. Dis heerlik.
Wat sit Mavis in die wonderlike tee?
Boeboe trek ‘n stoel uit en gaan sit langs Bettie. Sy sit haar hand op Bettie se skouer.
“Jy moetie worry nie. Onse deur is altyd oop vir jou. Laat Lena maar vrek geslaan word, want sy’s volop.”
“Ja nee. Sy’s reeds soos ‘n spinnekop gebou,” voeg Mariska vinnig by.
Die gepraat van Lena laat skielik ‘n bitter smaak in Bettie se mond en die lekker beskuitjies het sommer ‘n droë smaak.
“Sorry tog dat ek met my probleme vir julle kom bother het…” Sy kyk na Mavis en Bettie.
“Ek dink is tyd om nou maar huis toe te gaan.”
Bettie maak reg om op te staan en sukkel om die beskuit gesluk te kry.
Boeboe staan ook op.
“Ai Bettie. Moenie worry nie. Die deur is altyd oop vir jou.”
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.



