Lena se lot – Episode 12. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Episode 12: Vriendinne tot die einde

‘n Week later…

Bettie het uiteindelik al haar moed bymekaargeskraap om by Lena ‘n draai te gaan maak. Sy wou al vir haar in die hospitaal gaan kyk het, maar toe sy vir André raakloop, het hy haar gewaarsku om weg te bly. Boeboe en Mavis het voorgestel dat sy eerder bel of ‘n boodskap stuur, maar Lena het nooit teruggeantwoord nie.

Die son is warm en die straat is redelik stil, net ‘n klein groepie kinders speel in die sand op die sypaadjie. Hulle bou modderhuisies en een kleinmannetjie loop heen en weer met ‘n groot emmer vol water. Die kinders hou op met hulle se bouery en kyk vir ‘n oomblik na Bettie wat verbystap.

“Middag Antie…” groet die snotneus ene en wys sy gap. Die ander een smile net met bruin tandjies wat al vrot raak van al die sweets.

Bettie hoor nie en stap haastig verby.

Toe sy by Lena se hek kom, gaan staan sy eers en kyk oorkant na Boeboe se huisie. Die voordeur is oop, maar verder lyk dit rustig.

Boeboe kyk weer terug na Lena se huis. Die voorkant is geverf en die onkruid wat so wild gegroei het, is glad weggeskoffel. Die plek lyk netjies.

Sy skep moed en maak die hek oop wat ‘n groot lawaai maak. Die gordyn roer en ‘n gesiggie verskyn, maar verdwyn net weer so vinnig.

‘Wies dit nou?’ dink Bettie, maar stap stywenek aan tot by die kombuisdeur.

Sy lig haar hand om te klop en die deur gaan skielik oop…

“Hello antie Bekkie…”

Bettie kyk af en sien dis klein Linden wat met ‘n groot glimlag na haar kyk.

Bettie is verlig dat dit nie André is nie en eerder Lena se jongste wat die deur kom antwoord het.

“Halo Antie se kind. Wa’s jou mammie?”

“Ini kame,” sê Linden en klim opgewonde op die sofa. Hy kan nou nog nie sy “R” sê nie.

Lena verskyn van die gang af.

“Halo Bettie…” Sy glimlag en kom nader vir ‘n drukkie.

“Jinne vriendin, ek dink jy’t my weggegooi.”

Bettie omhels haar en gee haar ‘n stywe drukkie. Tog te opgewonde om haar vriendin op die been te sien.

“Nee vriendin, nog never nie.”

Bettie se oë raak waterig en sy byt haar lip om die trane te keer.

“Ek het jou so baie gebel en sms gestuur, maar jyt nooit reply…”

Lena kyk verbaas na haar.

“Ek het gedink jys kwaad vir my…” Bettie snuif.

“Nee, André het my phone die hele tyd gehad. Miskien sou hy my nog al die calls wys…”

Lena gaan sit.

“Ag anyways. Vertel my van die buitewêreld, jong. Ek was nooit uit nie. Weet jy, André doen nou alles. Die skottels, die washing…”

Bettie sit op die sofa langs Lena. Sy vat Lena se hande in haar eie.

“Vriendin, ek is so jammer. Ek…ek het nie bedoel…”

“Nee man. Wat gebeur het daai aand, het gebeur, is verby. Kom ons praat nie weer oor dit nie.”

Bettie kyk verbaas na Lena.

“Maar Lena… gaan jy nie ‘n saak maak teen André nie?”

“André is ‘n darling. Het jy gesien hoe lyk die jaard?” Lena glimlag spoggerig.

Bettie wil antwoord, maar Lena gee haar nie kans nie.

“Die man het verander, ek sê jou. Die nurse het my gesê hy’t daai aand die hele nag by my bed gesit en die volgende dag toe bring hy die kinders…”

“Maar Lena…”

“Wat?” vra Lena rof.

“Ek wil nou nie hê dit moet snaaks klink nie, maar glo jy rêrig hy’t verander?”

Lena sit regop en kyk stip na Bettie.

“Kom ek vra jou. Waar was jy toe ek die hele tyd in die hospitaal gelê het, waar was jy toe?

“Lena, ek het getry, maar André het my gedreig…”

Lena staan op.

“André. André.” Lena vou haar arms.

“Is altyd André. Het André my amper doodgegooi met ‘n klip, ha?”

Die woorde voel soos ‘n klap deur Bettie se gesig.

Linden raak onrustig vir die grootmense wat begin stry.

“Mammie…” sê hy en kyk na Bettie.

“Linden, gaan speel by jou broer in die kamer. Nou.”

“Maar Lena, ek probeer net…”

Lena draai terug na Bettie.

“Probeer net wat? Om my troulewe op te breek…”

Bettie is stomgeslaan. Sy kyk in ongeloof na Lena. Dis asof haar vriendin van soveel jare ‘n totale vreemdeling is. Wat het André gedoen aan haar?

Die deur gaan skielik oop en André verskyn met pakkies in sy hande.

“And then. Wat maak die heks hier?” Hy smyt die pakkies op die sofa neer en van die inhoud val op die vloer. Twee baked beans blikkies rol in alle rigtings.

“Sy is op pad uit,” sê Lena.

Bettie staan stadig op. Haar keel voel seer toe sy praat.

“Lena… jaag my weg…”

“Kom. Kom. Jy ontstel my vrou.” André trek vir Bettie weg van Lena af.

Sy ruk haarself los uit sy greep.

“Lena.. vriendin…” Bettie voel die trane wil kom.

André ruk weer aan haar en stoot haar na die deur toe. Sy probeer vastrapplek kry, maar André is te sterk. Lena staan en kyk toe hoedat André haar by die deur uitstoot.

“NEE!” skreeu sy en hou aan die deur vas. Vir ‘n oomblik ontmoet haar oë met Lena s’n en sy soek na haar vriendin se bekende sagte kyk, maar die vroumens wat terugkyk na haar se oë is yskoud.

Sy en Lena se vriendskap kom so lank aan, hulle ken mekaar se hartseer en geluk. Hulle kom deur so baie saam as vriendinne.

“…Lena… asseblief…”

Sonder ‘n woord draai Lena om en verdwyn in die gang af. Bettie se greep verswak. Sy voel lam. Dit voel asof iemand haar in die maag geskop het.

André stoot die deur toe.

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.