Lena se lot – Episode 11. Geskryf deur Eric R Kok

Deel hierdie storie / Share this story

Episode 11: ‘n Tweede kans

Bettie se gehuil werk op Mavis se senuwees. Sys reeds klaar opgewerk en vies vir die good for nothing man wat kamma ‘n man van die geregtigheid is. Mavis is nog lank nie klaar met hom nie.

“Sê my nou net of jou gewete jou nie pla nie. Ha?”

Boeboe sit doodstil met haar hande in haar skoot gevou so asof sy haar lot aanvaar het.

“Sies man. Jy’s net so sleg soos daai hond.”

“Mevrou, sal jy nou ophou?”

“Ek sê jou man. Blerrie gatkruiper!“

Die voertuig kom skielik tot ‘n stilstand.

Mavis, Boeboe en Bettie ruk vorentoe. Hulle skrik al drie vir die onverwagse stop.

“Wat gaan nou aan?” vra Boeboe en kyk op.

Van Tonder draai in sy sitplek en kyk na Mavis.

“Mevrou Ek het nou net mooi genoeg gehad van jou beledigings…”

“Ek praat mos net die waarheid.”

“Ma hou op asseblief.”

Van Tonder lyk baie vererg. Hy sê niks verder nie en trek weg.

Bettie het ophou huil. Sy’s nog baie hartseer, maar het niks meer trane oor om te stort nie.

Hulle hou stil voor die polisiestasie en Van Tonder skakel die enjin af.

Bettie maak haar oë toe.

Boeboe lek senuweeagtig haar lippe af en Mavis kyk vies uit by die venster.

Van Tonder sug diep en kyk na hulle in die spieëltjie.

“OK. Luister nou vir my mooi. Ek het gesels met meneer Johnson…”

“Ja,hy’t jou mos klaar omgekoop.”

“MA.”

Mavis bly stil en kyk weer uit by die venster.

Boeboe draai na Van Tonder.

“Praat Meneer laat ons hoor.”

Van Tonder begin weer.

“Ek het met hom gesels en besluit om hom ‘n tweede kans te gee…”

“Hoekom?”

“MA…”

Stilte.

“Want hy het twee kinders en ‘n kriminele aanklag teen hom sal nie goed uitwerk vir hom of sy familie nie…”

Mavis wil weer iets sê, maar bly stil.

“Ek het ook ‘n deal met hom gemaak om nie ‘n klag teen julle te lê nie.”

“Ek bang nie selle nie. As jy my wil toesluit…” Boeboe se kwaai kyk laat Mavis stilbly.

“Hy gaan nie saak maak nie en julle gaan ook nie, maar ek sweer Antie, as jy nog een woord sê…”

Boeboe spring vinnig in.

“Dankie Meneer. Baie dankie. Ons aanvaar die deal.”

“Ek gaan julle gaan aflaai.”

Van Tonder skakel die enjin aan en trek weg.

“Nou sê nou net vir my wat as die arme vroumens dood is…”

Die woorde van Mavis laat onthou vir Bettie van haar skuld en sy bars uit met ‘n harde huil.

Boeboe omhels haar.

“Moenie worry nie, Bettie. Die Here is groot, man. Lena sal oraait wees…”

Hulle ry verder in stilte.

Van Rooyen ignoreer die mense wat buite die Johnsons se erf saamdrom. Hy waak langs die vroutjie wat nog bewusteloos lê. Meer mense het uit hulle huise gekom om te kom kyk wat gebeur het. Oumas en oupas staan met hulle kleinkinders die sypaadjie vol. Hulle wys en rek hulle se nekke om beter te kan sien. Ander maak opmerkings en ‘n vroutjie met ‘n geel nagrok sweer sy het die hele gebeurtenis aanskou. Sy vertel gretig haar weergawe aan ieder en elkeen wat hulle ore aan haar uitleen.

Die ambulans daag uiteindelik op en die drywer ry versigtig deur die skare mense.

Gordyne gaan oop en gesiggies loer.

Die ambulans hou stil en die paramedics klim uit. Hulle lyk baie ernstig en steur hulle niks aan die nuuskieriges wat opgewonde vorentoe druk nie.

Mavis sien eerste die rooi ligte en rek haar nek om beter te kan sien.

“Waar moet ek julle aflaai?”

Boeboe antwoord.

“Ons bly net oorkant daai huis.”

Van die mense loer nuuskierig in die voertuig en van die kinders lag en trek gesigte.

Van Tonder hou stil voor Boeboe se huis.

“OK dan. Hier is ons.” Van Tonder loer vir Boeboe-hulle.

Mavis sê niks en klim uit.

“Dankie baie dankie Meneer, Die Here seën…” sê Bettie.

Boeboe sien dat Bettie nie sal klaar praat nie en druk haar.

“Kom Bettie. Dankie Meneer.”

Van Tonder wag dat hulle almal uit is en sug diep.

Hy klim uit, sluit die bakkie en stap na die huis oorkant.

Van Rooyen wag alreeds vir Van Tonder wat aangestap kom. Hy lyk baie kwaad.

“And then Van Tonder… Why is that criminal free?” Hy wys na André wat om die paramedici en Lena drom soos ‘n vlieg.

“It’s okay Sir. I reached an agreement with…”

“No no. What the hell were you thinking? This was the only arrest we’ve made so far and…”

“Sir just calm down please. Let me explain…”

Hy beduie dat Van Rooyen saam met hom moet stap.

André volg die paramedici wat vir Lena in die ambulans laai.

“Gaan jy saam Meneer…”

“Ja. Ja. Is my vrou daai.” Sonder om te wag, spring André in en gaan sit oorkant Lena. Hy neem haar hand in syne.

Andre se oë is waterig.

“Ek is jammer, my hart…Ek is so jammer…”

Mavis, Boeboe en Bettie staan en kyk van die stoep af.

Mavis draai om.

“Sies. Hys nou kamma so besorg…” Sy gaan in die huis in. Boeboe volg haar en maak ‘n klapgeluid met haar tong.

“So vals soos Satan self. Kom Bettie, jy slaap vanaand by ons.”

Bettie staan en kyk nog. Sy wou so graag haar vriendin gaan afsien, maar Boeboe-hulle het haar oorreed om weg te bly, want André is daar.

Bettie hoor hoe Boeboe en haar ma binne die huis praat.

“Los hom Ma. Ons sal net vir Lena aanraai om ‘n saak te maak teen hom…”

Bettie gee nog een laaste kyk, blaas haar neus en gaan in die huis in.

Die ambulans trek weg en die nuuskieriges draai om en gaan na hulle huise toe.

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.