Lena se lot – Episode 10. Geskryf deur Eric R Kok

Episode 10: ‘n Onverwagse gebeurtenis

Mavis het vir Boeboe wat nog wou verduidelik, stilgemaak. Van Tonder het in elk geval nie aandag aan hulle gegee nie. Bettie se oë en neus is al rooi van al die gehuil. Sy sit met haar kop in haar skoot.

André, wat in die agterbak geboei sit, pleit dat Van Tonder hom moet vrylaat.

“Meneer asseblief tog. Ek kan nie nou gaan tronk nie…”

Hulle draai in die hoofstraat af.

“Meneer Ek smeek jou. My vrou het lelik seergekry en as ek nou in die selle moet gaan lê…” André begin te huil.

“My kinders Meneer…”

Van Tonder trap briek. Almal ruk vorentoe en Bettie skrik sommer so dat sy ophou huil. Sy kyk verskrik rond.

“Wat?” vra Van Tonder en kyk in die truspieëltjie. Mavis gryp die kans om iets te sê.

“Hy kan nou goed onthou hy’t kinders…”

“Hoe oud is hulle?” Van Tonder fokus op André wat deur die venstertjie loer.

“Hoe nou Meneer?“

Van Tonder laat die voertuig idle en klim uit.

Mavis-hulle kyk verbaas na hom.

“Wat gaan nou aan…” vra Boeboe.

Van Tonder loop na die bakkie se agterkant.

Mavis rek haar nek om te sien wat hy nou eintlik wil maak.

Hy maak die deurtjie oop en wys vir André om uit klim.

André kyk hom verbaas aan, maar is te bly om uit te klim en vat Van Tonder se hand toe hy hom uithelp.

“Kom,” sê Van Tonder en hulle gaan staan ‘n entjie weg op die sypaadjie.

“Nou watse geheimsinnigheid is dit nou?” vra Mavis meer vir haarself en loer deur die venster.

Bettie snuif en vryf haar oë.

“Ai jinne. Is ons by die polisiestasie?”

“Sjuut. Ek wil hoor.”

Die straat is stil en net ‘n groepie jongmans staan eenkant op die hoek en okapyp rook.

Van Tonder kyk vir André op en af en sê vir ‘n rukkie niks. André staan en kyk onseker terug na hom.

“Hoe oud is jou kinders?”

André maak eers sy keel skoon.

“My oudste is nege en die jongste, my hart se punt, is nou maar vier, Meneer…”

Van Tonder knik.

“En wat doen jy?”

“Meneer…?”

“Waar werk jy?”

André kyk af in skaamte.

“Meneer, ek werk nie meer nie. Ek was retrench by my vorige werk. Meneer, asseblief, ek smeek jou vir ‘n kans…”

Mavis is onrustig.

“Wat praat hulle?”

“Kyk Ma,” sê Boeboe in ongeloof.

Mavis kyk en haar oë rek en vir ’n oomblik hang haar mond oop.

“Ma, wat gaan aan?  Hoekom los die polisieman vir André?”

“Ek weetie kind… ek weetie.”

Van Tonder kom terug en klim in die bakkie.

“Nou Meneer, hoekom laat loop jy daai man? Wat van ons?” vra Boeboe.

Van Tonder antwoord nie en sit die voertuig in rat.

“Wat van ons!”

Van Tonder trek die voertuig weer terug op die pad.

Mavis kyk om en sien hoedat André in die verte wegstap.

“Wat het daai man vir jou gesê? Het hy jou gebribe?”

Mavis kan haarself nie meer inhou nie. Dit voel asof sy begin walg aan haar woede. Hoe kan die polisieman vir André sommer net so maklik laat gaan?

“Hey! Het daai man jou geld gegee? Jy’s corrupt!”

“Meneer, wat gaan aan?”

Van Tonder kyk na hulle in die spieël.

“Mevrou, gedra julle asseblief.” Hy kyk weer voor hom en ry verder in stilte.

Bettie, wat gou besef wat aan die gebeur is, trek los met ‘n droewige huil.

“Ons gaan tronk toe.”

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies] mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


The maximum upload file size: 10 MB.
You can upload: image.
Links to YouTube, Facebook, Twitter and other services inserted in the comment text will be automatically embedded.

%d bloggers like this: