Charlee Maasz (28), manshaarkapper en grondslagfase-onderwyseres, gesels met FiND iT oor haar passie vir kinders en hare.
Sy vier een van die dae haar sesde huweliksherdenking saam met haar man, Chris Maasz. Die paartjie het ‘n vierjarige dogtertjie, Chané.
Hoekom ‘n manshaarkapper?
“Ek het nog al die jare my man se hare gesny vandat ek hom in 2009 ontmoet het. Ek het nog altyd ‘n passie gehad vir hare, maar nooit in daai rigting gegaan nie. Ek het na skool begin werk en het net my man en sy naaste vriende se hare as ‘n guns gesny.
“Die salon waar ek nou werk, het geadverteer dat hulle iemand soek. Ek het besluit ek gaan aansoek doen; die ergste wat hulle kan doen, is om vir my te sê ek kan nie hare sny nie. Ek het gegaan vir ‘n onderhoud en proeflopie om hare te sny. Daarna is ek gevra wanneer kan ek begin. Dit was die beste dag van my lewe! Dit is lekker as iemand jou potesiaal raak sien.”
Wat is jou passies?
“Ek het ‘n passie vir kinders. Dit is hoekom ek ook skoolgee. Ek het vir vier jaar Sondagskool gegee by City of Hope-kerk en toe ek daar klaarmaak, het ek besluit ek wil studeer vir grondslagfase onderwys. Ek maak hierdie jaar my graad klaar. Ek wil ook graag verder studeer in kinder-kinetika om met kinders te werk wat sensoriese probleme het.
“Ons het agtergekom Chané het sensoriese probleme, so miskien kan ek ook ‘n verskil maak in ander kinders se lewe wat tas-sensitief is.”
Waar sien jy jouself oor vyf jaar?
“Ek sien myself as ‘n gekwalifiseerde kinetikus. Ek dink ek sal ook daarvan hou om my eie manshaarsalon oop te maak. Ek wil ook met kinders werk in my vrye tyd. Dit bly my droom om altwee my passies te volg.”
Raad aan ander?
“Moet nooit opgee nie. Jy is nooit te oud om nuwe goed te leer nie. As jy passievol is oor iets, moenie dat enigiets in jou pad staan nie. Glo in jouself. Jy kan die beste doen vir jou toekoms.”



